Griekeland al dieper in die rooi

Deel op

Die Griekse minister van ekonomie, Giorgios Stathakis, het besonderhede bekend gemaak van nuwe voorstelle om die dooiepunt in die skuldkrisis te beëindig.

Hoop dat ‘n ooreenkoms binnekort met die leiers van die Eurosone-lande bereik kan word, verflou aangesien die linkse premier Alexis Tsipras se gewildheid dermate afgeneem het dat hy geen ooreenkoms op sy landgenote sal kan afdwing nie.

‘n Opstand dreig tuis teen die Griekse leier omdat hy die besuinigingsvoorstelle aanvaar het, alhoewel dit onder meer nuwe belasting op sakeondernemings en rykes insluit.

As Tsipras se regering tot ‘n val kom sal dit maande duur om ‘n nuwe leier aan te wys wat boonop nie die mees onlangse Europese skuldmaatreëls sal kan afdwing sonder ‘n mandaat nie.

Die ministers van finansies van die Eurosone het na berig word die plan verwelkom en gesê ‘n ooreenkoms kan binne dae bereik word.

Die Duitse kanselier, Angela Merkel verkeer onder groot druk omdat Rusland kan intree om Griekeland te help met ‘n gastoevoerprojek, terwyl sy klaarblyklik aan die VSA belowe het Russiese invloed te help beperk in Europa.

Griekeland loop die gevaar om nie te voldoen aan die Europese Unie se vereistes nie, indien hy nie ‘n vorige hulppakket van 1,6 miljard euro teen 30 Junie aan die Internasionale Monetêre Fonds terugbetaal nie.

Sou Griekeland besluit om uit te tree uit die eurosone, sal hulle waarskynlik weer die drachma as geldeenheid instel en inflasie gebruik om hul skuldprobleem op te los.

Dit sal beteken dat EU-belastingbetalers nie langer sal hoef te betaal vir Griekse wanbestuur nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.