Die “menseregte-organisasie” Lawyers for Human Rights, wat deur George Soros befonds word, gaan ‘n aansoek by die Hooggeregshof in Pretoria indien teen die ANC-regering se “misbruik van die SAPD”.
Die organisasie beoog om Operasie Fiyela as onwettig en ongrondwetlik verklaar te kry.
Operasie Fiyela is ‘n nasionale inisiatief wat deur die polisie, weermag en amptenare van Binnelandse Sake bedryf word om onwettige immigrante uit te snuffel.
Dit is op die been gebring nadat skoktonele oor die mishandeling van buitelandse burgers koerantvoorblaaie gehaal het tydens ‘n hernude vlaag van geweld teen hulle.
LHR se woordvoerder David Cote sê die operasie is ‘n doelbewuste wanaanwending van die Suid-Afrikaanse Polisiediens.
Die groep sê die operasie word sonder enige agting vir die reg en sonder lasbriewe uitgevoer.
Hulle sê Fiyela skend die Grondwet wat die reg op privaatheid verseker, asook die reg dat ‘n woonplek nie sonder magtiging deurgesoek mag word nie.
Die Europese Unie waar die onwettige immigranteprobleem reeds tot die voorste nasionale kwessie in byna elke lidland gevorder het, dra ook by tot die LHR.