Vyf vermeende renosterstropers het Maandag in die KwaMsane Landdroshof in Kwazulu-Natal verskyn waarna hulle op R5 000 borgtog elk vrygelaat is, het News24 berig.
Die vyf mans is 13 Junie in hegtenis geneem na ‘n wenk dat renosterstropers op pad was om ‘n renoster in die Umfolozi-gebied te stroop.
Polisie het die vyf omstreeks sewe-uur die aand naby Mfekayi voorgekeer. Daar is beslaggelê op ‘n jaggeweer, ammunisie, ‘n byl, knaldemper en ander tipiese strooptoerusting.
Polisiewoordvoerder Vish Naidoo sê dit blyk dat die stropers besluit het om renosters in die Umfolozi-gebied te teiken nadat groter polisiesigbaarheid in die Isimangaliso-wildreservaat stroperaktiwiteit aan bande gelê het.
Die vyf mans staan tereg op aanklagte van sameswering om renosters te jag, sowel as die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie. Die saak is tot 28 Julie uitgestel.