Nog chaos dié week in parlement verwag met Bashir-debat

Deel op

President Jacob Zuma het sy spyt en teleurstelling uitgespreek oor die chaos in die Parlement toe ‘n beplande vraag- en antwoordsessie tussen hom en parlementslede weer verdaag moes word.

Chaos word dié week verwag met die debat oor die Soedanese president se verdwyningstoertjie nadat hy ‘n Hooggeregshofuitspraak verontagsaam het.

Die ACDP se hoofsweep, Cherelyn Dudley, sê die voortdurende chaos in die Nasionale Vergadering moet voor die deur van die DA gelê word.

Dudley sê die polisie kan nie meer LP’s verwyder nie omdat die DA die verwyderings in die hof betwis het.

Hoewel daar wetgewing is wat die Speaker toelaat om die polisie na die Raad te ontbied om wanordelike Parlementslede te verwyder, het die Hooggeregshof bevind dat die betrokke wetsbepaling in stryd is met die Grondwet wat aan LP’s vryheid van spraak gee.

Dit beteken ook dat die ontwrigters nie in hegtenis geneem kan word nie. Hulle kan ook nie tronktoe gestuur of gedagvaar kan word oor enigiets wat hulle in die Nasionale Vergadering sê nie.

Die EFF se “betaal terug die geld”-betoog rakende Nkandla het daarvoor gesorg dat die sessie weer ontwrig is. Die DA steun die EFF se eise.

Die president se kantoor sê in ‘n verklaring Zuma is teleurgesteld dat hy weereens verhoed is om sy konstitusionele mandaat uit te voer om deur die Nasionale Vergadering aan die publiek verslag te doen.

Die ANC het intussen sy gereedheid vir komende Dinsdag se debat oor die president van Soedan, Omar al-Bashir verklaar.

Die DA-leier, Mmusi Maimane het die debat versoek en gesê dit is van nasionale belang nadat Bashir, strydig met ‘n Hooggeregshofbevel, die land verlaat het.

Bashir het ‘n lasbrief van die Internasionale Strafhof ontduik toe die kwessie oor beweerde menseregteskenings opgeduik het tydens sy besoek aan Suid-Afrika vir die Afrika Unie-beraad.

‘n Woordvoerder vir die ANC-Koukus, Moloto Mothapo sê die ANC in die Parlement is van mening dat die Soedan-kwessie ‘n politieke oplossing nodig het en nie deur die howe hanteer kan word nie.

Veiligheidsagentskappe is verlede Sondag per SMS ingelig om planne voor te berei om die moontlike arrestasie van Soedan se president, Omar al-Bashir, te verwag. Die boodskap het as volg gelui:

“Re Sudan court order. All respective committees at NATJOINTS [National Joint Operations] were given tasks to come up with ops plans by 08:00 tomorrow morning. IF an order is given to arrest Sudanese HoS. [al-Bashir] DHA DG [department of home affairs director-general] who is currently in court with the litigation personnel will give an instruction thereafter as to what needs to happen. BCOCC [border control operational coordinating committee] will have to ensure that that instruction is given to all ports of entry tonight whilst we are waiting upon DHA instruction.”

Vyf uur later, is Bashir se I1-62 straler egter vinnig en op kort kennisgewing verskuif vanaf OR Tambo Internasionale Lughawe na Waterklooflugmagbasis.

Die vliegtuig is weggesteek in een van die loodse van die BBP-eskader, ver weg van waar die ander vliegtuie geparkeer was.

Die volgende dag, het al-Bashir se konvooi die beraad van die Afrika Unie in Sandton met groot haas verlaat, begelei deur die polisie, na Waterkloof. Sy straler is deur lugbeheer toegelaat om op te styg.

Die ANC se Nasionale Uitvoerende Komitee het die regering intussen versoek om die geloofwaardigheid van die Internasionale Strafhof te help “herstel”, nadat die regering nie gehoor gegee aan die internasionale lasbrief van die hof vir sy inhegtenisneming weens volksmoord nie.

Die NUK het opnuut sy verbintenis bevestig tot die beskerming van menseregte en het die Afrika Unie gevra om sy eie instellings te versterk wat bedoel is om Afrika teen misdade teen die mensdom te beskerm.

Maimane het Sondag gesê die Openbare Beskermer Thuli Madonsela sal gevra om ondersoek in te stel oor die gebruik van staatsgeld om die Soedanese president in staat stel om inhegtenisneming in Suid-Afrika te ontduik.

City Press het ook berig dat die ANC ‘n besluit geneem het om die regering te vra om sy lidmaatskap van die Internasionale Strafhof op te skort.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.