Dan Roodt: Sal ons ooit die waarheid oor Dylann Roof en die Charleston-skietery hoor?

Deel op

Die wêreld, en veral natuurlik lande soos die VSA en Suid-Afrika, is besig om rasmal te raak. Enkele dae gelede het ‘n 21-jarige blanke Amerikaner, Dylann Roof, in ‘n kerk op swart gemeentelede losgebrand en nege van hulle doodgeskiet. Enkele ure later is hy aangekeer en intussen is ‘n eienaardige Facebook-foto van hom met die ou Suid-Afrikaanse en Rhodesiese vlae daarop gepubliseer. Dis heeltemal moontlik dat dit ‘n gemanipuleerde foto kan wees, want ons weet almal dat Photoshop en ander grafiese programme ‘n mens in staat stel om enige digitale foto te kan omskep in enigiets. Trouens, in aksiefilms word motors en geboue digitaal “opgeblaas”, dus is die aanbring van twee vlaggies op ‘n baadjie sommer kinderspeletjies. (Ek het nie eens Photoshop op my rekenaar nie, maar sal dieselfde met ‘n gratis Linuxprogram genaamd Gimp kan doen.) Daar is ook berig dat Dylann Roof psigiatriese medikasie gebruik wat gewelddadige gedrag by ander pasiënte veroorsaak het.

‘n PRAAG-ondersteuner, Henri le Riche, het ‘n ontleding van die Roof-baadjie-foto op sy woernaal gedoen onder die titel: #CharlestonShooting – Photo of shooter manipulated by adding flags on top of Obama Election Emblem.

Die verhaal wat die hoofstroommedia aan ons opdis, is die volgende: dat Dylann Roof weens blootstelling aan “rassistiese” of “haatgroepe” op die internet daarvan oortuig geraak het dat ‘n blanke volksmoord voor die deur lê en daarom het hy tot die massamoord oorgegaan. Die New York Times se korrespondent in Suid-Afrika, Lydia Polgreen, het laas nog oor die “geslaagde grondhervorming in Zimbabwe” gepopel – terwyl Zimbabwe tans weer hongersnood in die gesig staar al ontvang die land rééds $1 miljard aan hulpgeld, asook voedselhulp vir drie miljoen mense. Dieselfde Polgreen het nou in die blaaie van die New York Times losgetrek en blameer sommer alle blankes vir Roof se daad, behalwe dat sy die “twee rassistiese state”, Suid-Afrika en Rhodesië, aan hom verbind. Die veelseggende titel van haar stuk is: From Ferguson to Charleston and beyond, anguish about race keeps building. Let op die gebruik van die woord “anguish” of “angs”. Nadat die Berlynse Muur afgebreek is, was linkses vir ‘n dekade of so ‘n bietjie in hul dop gekruip, maar “ras” blyk ‘n veel vrugbaarder propagandaterm te wees as “klas”. Daarom word ons elke dag met die soveelste “rassevoorval” in die hoofstroommedia begroet: of dit nou laerskoolkinders by die Curro-skool Roodeplaat is wat nie “gemeng genoeg” uit die bus uit klim nie is, of ‘n versteurde blanke wat nege swartes in ‘n kerk in Charleston, Suid-Carolina, doodskiet.

Op 25 Julie 1993 het vier “vryheidsvegters” van APLA tydens ‘n erediens by die St. James-kerk in Kenilworth, Kaapstad, ingestorm en met outomatiese wapens op die gemeente losgebrand. Hulle het ook handgranate gebruik om die weerlose kerkgangers aan te val. Elf mense is gedood en 58 gewond. Indien een van die kerkgangers, Charl van Wyk, nie met sy .38-kortlooprewolwer begin terugskiet het nie, sou selfs méér mense gesterf het. In daardie geval was die aanvallers swart en die slagoffers blank. Die aanval is egter geensins aan alle swartmense of “swart rassisme” jeens blankes verbind nie. Trouens, die swart Amerikaanse leier, eerwaarde Jesse Jackson van die “Rainbow Coalition” (waarvan Suid-Afrika se “reënboognasie” afkomstig is) het besoek aan die Suid-Afrikaanse ambassade in Washington gebring en die daad aan “apartheid” toegeskryf! Jackson het volgens ‘n berig in Beeld van 29 Julie 1993 verklaar:

”As deel van die internasionale gemeenskap rou ons oor die verlies van hierdie jongste slagoffers van die barbaarse apartheidstelsel, soos ons in die verlede gerou het oor die duisende slagoffers van staatsgeborgde terrorisme wat in tronke dood is weens marteling, wat in Bantoestans dood is weens verhongering, of doodgeskiet is ten tyde van vreedsame betogings’.”

As swart terroriste moor, is diegene wat hulle doodskiet bloot “slagoffers van die barbaarse apartheidstelsel”, maar as ‘n blanke – na bewering, want ons het nog geen regstreekse getuienis dat hy wel die daad gepleeg het nie – op swart kerkgangers skiet, is alle blankes aandadig, weens “internasionale blanke rassisme en wit heerssug”. Dus, dit maak nie saak wie die sneller trek of wie die slagoffers is nie, die blankedom sal altyd die skuld kry. Vandaar dus ook Lydia Polgreen se treurmare oor die groot aantal (meer as ‘n miljoen) swart Amerikaanse misdadigers wat tans in die gevangenis verkeer en, soos sy dit stel, “if current trends continue, one in three black men are expected to spend time in prison at some point in their lives”. Dis nie hul gedrag of die misdade wat die probleem is nie, dis “blanke heerssug”. Trouens, die jongste term wat deur rashisterici rondgeslinger word, is “strukturele rassisme”. Polgreen haal ‘n swart aktivis en “styldeskundige”, Michaela Angela Davis, aan wat dié term gebruik. Soos alle slagspreuke uit die VSA klakkeloos deur plaaslike linkses oorgeneem word, kan ‘n mens maar seker wees dat dit binnekort in die blaaie van Beeld of Die Burger ook sal verskyn, uit die pen Adriaan Basson of Max du Preez. Berei dus maar voor om “strukturele rassisme” nog sommer baie te hoor; dis die boetie van die kulturele marxis, Herbert Marcuse, se begrip dóér uit die sestigerjare, toe hy gepraat het van die “strukturele geweld” van kapitalisme. Eers was daar “strukturele geweld”, nou is daar “strukturele rassisme”. Hoe meer dinge verander, hoe meer bly hulle dieselfde.

Volgens beskikbare meningsopnames glo die meerderheid Amerikaners nie meer die amptelike weergawe van die gebeure op 11 September 2001 toe twee vliegtuie in die World Trade Center vasgevlieg het nie. ‘n Aansienlike persentasie meen dat dit óf die Israeli’s óf die Bush-regerings self is wat agter die terreur van daardie dag sit. Hoe gebeur dit dat ‘n 21-jarige jongman sommer by ‘n swart kerk inloop en nege mense doodskiet? Direk daarna word foto’s van hom by die ingang van die kerk en van sy baadjie met ou SA en Rhodesiese vlae wêreldwyd gepubliseer. En hy word binne enkele ure in hegtenis geneem. Indien hy werklik ses maande lank aan sy daad beplan het, sou hy hom tog kon vermom het, vals nommerplate op sy motor gehad het, ens., tensy hy gevang wóú word. Of tensy een van die VSA se 18 duistere geheime dienste wat mense in kampe oral ter wêreld martel en allerlei sielkundige eksperimente op hulle uitvoer, ‘n handjie daarin gehad het… Wie weet?

Oor die egtheid van die voorval en van die vlae op die baadjie, sal ons seker tydens die hofsaak wat kom, moet oordeel. Bygesê: as daar ‘n hofsaak is, want soms word sulke “massamoordenaars” mos gerieflikheidshalwe deur ander gevangenes om die lewe gebring. Aangesien die meerderheid gevangenes in Amerikaanse tronke swart is, kan ons nou al voorspel dat Roof, die “wit, rassistiese moordenaar” nie baie gewild by sy medegevangenes gaan wees nie. Hopelik oorleef Roof totdat hy in die hof kan verskyn.

Roof se borgaansoek op die moordklagtes is reeds afgekeur, dus verkeer hy incommunicado in die tronk. Intussen gaan die “vertelling” rondom hom egter ongesteur in die hoofstroommedia voort. Die jongste bewering is dat hy glo ‘n webblad by die domein lastrhodesian.com bedryf het, waarop hy, soortgelyk aan die Noorse skieter Anders Breivik, ‘n “rassistiese manifes van 2000 woorde” sou gepubliseer het. Ek het intussen ondersoek ingestel en, hoewel die domein lyk my intussen vanlyn gehaal is, met behulp van Google se kasgeheue wel die teks kon aflaai. Volgens “Whois”-inligting is die domein op 9 Februarie 2015 geregistreer, maar nêrens kon ek sien dat die domein spesifiek aan Roof verbind word nie, aangesien die privaatheid van die ware eienaar deur die registrateur beskerm word. So iets word gewoonlik teen ekstra koste gedoen. Indien Roof sy manifes wou publiseer, waarom sou hy lastrhodesian.com se eienaarskap wou verdoesel?

In sy (beweerde) manifes sê Roof die volgende oor die Amerikaanse Suide en oor Suid-Afrika:

Some people feel as though the South is beyond saving, that we have too many blacks here. To this I say look at history. The South had a higher ratio of blacks when we were holding them as slaves. Look at South Africa, and how such a small minority held the black in apartheid for years and years. Speaking of South Africa, if anyone thinks that think will eventually just change for the better, consider how in South Africa they have affirmative action for the black population that makes up 80 percent of the population.

It is far from being too late for America or Europe. I believe that even if we made up only 30 percent of the population we could take it back completely. But by no means should we wait any longer to take drastic action.

Is Roof se verhaal eg of verteenwoordig dit een groot manipulasie? Die redes vir so ‘n manipulasie is voor die hand liggend: Regoor die wêreld is daar ‘n ontwaking van patriotiese gevoelens onder blanke volkere, veral in Europa. Terwyl die swartman in Suid-Afrika slegs 20 jaar gelede as ‘n onskuldige slagoffer van blanke boosheid beskou is, met Mandela as ‘n soort heilige en martelaar, is die bordjies redelik onlangs verhang en word die swartman deesdae as die dader gesien wat op ongekende skaal in ons land moor, roof en verkrag. Die Zuma-bewind se korrupsie en spandabelheid het ook die “morele kapitaal” van die ANC selfs in die hoofstroommedia uitgeput. Die stelsel van swart oorheersing in Suid-Afrika, asook regstellende aksie in die VSA en immigrasie na Europa, is gegrond op die idee dat swartes en Arabiere eintlik net onskuldige slagoffers van Westerse boosheid is wat verdien om in magsposisies oor blankes aangestel te word. Beleefde versoeke van Afrikaners dat ons taalregte en menseregte eerbiedig moet word, word byvoorbeeld honend deur linkses met uitroepe van “verlange na blanke heerssug” begroet.

In meerdere of mindere mate, geld hierdie situasie dwarsdeur die Westerse wêreld en by uitstek in die VSA waar blankes in sommige stede en deelstate reeds in die minderheid verkeer. Linkse blankes en swartes is met ‘n onophoudelike propaganda-oorlog rondom die begrippe “ras” en “rassisme” besig, wat dié tussen die Weste en die ou USSR tydens die koue oorlog na ‘n vulletjie laat lyk.

In haar kommentaar op Dylann Roof se beweerde massamoord het mev. Hillary Clinton na “Amerika se lang stryd met ras” verwys:

“It’s tempting to dismiss a tragedy like this as an isolated incident, to believe that in today’s America bigotry is largely behind us, that institutionalized racism no longer exists. But despite our best efforts and our highest hopes, America’s long struggle with race is far from finished.”

Elke rassevoorval, gefabriseer, gemanipuleer of nie, sal as ammunisie in dié konstante sielkundige en inligtingstryd gebruik word.

Dit geld veral ‘n geval soos dié van Dylann Roof en sy aanval op die Emanuel African Methodist Episcopal Church in Charleston, Suid-Carolina.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.