Minderheidsvolke se soewereiniteit: ?n Standpunt

Deel op

Image“Vryheid is nie ‘n toestand wat deur een of ander sosiale kontrak tussen staat en burgers beding moet word nie, dit is ook nie ‘n voorreg waarvoor mens dankbaar moet wees nie. Vryheid is gesetel in die inherente outonomie wat elke individu besit; ‘n onvervreembare sosiale reg wat onlosmaakbaar in die menslike psige gewortel is.” (Mahatma Ghandi)

Deel op
In gesprekke met hooggeplaasde ANC-lede word dit duidelik dat minderheidsregte as ‘n interne aangeleentheid beskou word en dat die huidige “regstellende” maatreëls,  transformasie, grondhervorming, rassekwotas en swart bemagtiging as ‘n geregverdigde regstelling van die verlede beskou word wat nie aan die internasionale reg onderhewig is nie.  

Wetenskaplikes beweer egter dat vanweë die interaksie tussen minderheidsregte, soewereiniteit en kapitalisme, die regte van minderheidsvolke deesdae op die “terrein van internasionale samewerking” val.  

In veelvolkige state ervaar minderheidsvolke gewoonlik ‘n verdeelde lojaliteitsgevoel wat soms tot binnekonflik lei. Hulle ervaar ondermeer dat ‘n spontane samehorigheid binne hul etniese gemeenskap bestaan, maar dat ‘n mate van identifikasie en gemeenskaplike belange terselfdertyd ook met die groter gemeenskap ervaar word.

Minderheidsvolke is dus bereid om hulle spontaan aan meerderheidsoorheersing te onderwerp en die gemeenskaplike regering te gehoorsaam. Belastingbetalers wat byvoorbeeld deur ‘n gedeelde burgerskap geborge voel, se vertroue in “hul” regering word daardeur versterk, sodat hulle bereid is om hul belastings getrou te betaal om die staat mee te finansier. Die ryker en armer streke en gemeenskappe van die land word sodoende saamgebind.  

Maar daardie samehorigheid wat so spontaan tussen lede binne ‘n gemeenskap bestaan, is sigbaar afwesig tussen gemeenskappe. Apartheid se erflating het dus niks daarmee te doen nie, dis gewoon ‘n natuurwet.

Volke se reg tot selfbeskikking beteken nie noodwendig dat elke volk, hoe klein ookal, altyd sy eie onafhanklike staat sal kan vestig nie. Binne veelvolkige state kan volke vreedsaam met mekaar saamleef, soos wat byvoorbeeld die Engelse, Walliesers en Skotte binne die Verenigde Koninkryk doen. Maar hulle sal dit slegs doen as hul nasionale regte gerespekteer word en die kleiner volke nie deur die sterker volke oorheers word nie – veral nie op taal, kultuur en onderwysgebiede nie.  

Sou dit gebeur, begin politieke druk opbou wat die voortbestaan van die nasiestaat bedreig – hoofsaaklik vanweë die feit dat die brose solidariteit tussen die volke van die land verbrokkel het. Die brûe tussen etnië is weggespoel. Vir die regering se nasiebouprogram om binne ‘n veelvolkige land soos Suid-Afrika te slaag, moet die solidariteit tussen die volksgemeenskappe verstewig word; beslis nie om die identiteit van gemeenskappe aan te tas of te transformeer nie. Laasgenoemde is ‘n sigbare teken van ‘n staat wat besig is om te misluk.

Deur state se soewereiniteit word die politieke onafhanklikheid van ‘n land gewaarborg en die toestand geskep waarin minderheidsvolke op hul selfbeskikking kan aandring of kan uitleef.  Hoewel min volke vandag werklik soewerein is — deurdat hulle een of meer van hul soewereine magte aan ‘n groter geheel (soos bv. aan die EU, die IMF ens) afgestaan het — besit state egter nog verskeie elemente van soewereiniteit.  

Die soewereiniteit van ‘n demokratiese land beteken dat sy bevolking as geheel soewerein is en sy soewereiniteit demokraties onvervreembaar is.  

Binne ‘n veelvolkige land is minderheidsvolke ook soewerein, nie slegs die sogenaamde demokratiese meerderheidsgedeelte nie.  

Gevolglik het geen regering of parlementêre meerderheid die reg om binne ‘n veelvolkige staat een volk sy soewereiniteit te ontneem nie – dit is onwettig en onaanvaarbaar dat ‘n geslag die reg ontneem word om sy eie leefwyse self te bepaal.    

Om die 1994 magsoorgawe in Suid-Afrika dus as ‘n opsegging van Afrikaners se soewereiniteit te vertolk waar hulle hul vryheid vrywillig prysgegee het om hulle aan die arbitrêre optrede van ander volke te onderwerp, word deur puriste as ‘n juridiese dwaling en groteske politieke naïewiteit beskou.  

As volksgemeenskappe mekaar se reg op hul soewereiniteit respekteer, oftewel hul reg op vryheid, kan spontane samewerking tussen vrye volke plaasvind omdat hulle op die basis van juridiese gelykheid en in ‘n gees van onderlinge vertroue en samewerking met mekaar versoen is; ‘n logiese en aanvaarbare wyse van samewerking tussen volke.  

Deur die demokratiese proses egter binne ‘n veelvolkige land slegs aan te wend om die mag te bekom, waarna minderheidsvolke geminag en nuwe ongelykhede geskep word, word allerweë as ‘n vyandige daad beskou.  Dan word die vernietigende kragte van wantroue en onsekerheid op die politieke landskap losgelaat en die voortbestaan van die nasiestaat bedreig.

Deur hul regte te erken en te beskerm, sodat hulle vrede bo onrus sal verkies, of in die ideale scenario, waar ‘n konflikomgewing in ‘n voorspoedomgewing omskep kan word, sal die allerbelangrike gevoel van sekuriteit vir ‘n minderheidsvolk geskep word.  

Die verantwoordelikheid berus dus op regerings om sy pligte na te kom ten opsigte van minderheidsregerings se reg op selfbeskikking binne die politieke werklikhede van ‘n land.  Internasionaal word die vlak van volwassenheid wat deur regerings bereik is, gemeet aan die mate van selfbeskikking wat sy minderheidsvolke geniet —  hoe sodanige minderhede met mag vertrou word.

Die dilemma vir Afrikaners is egter die mate wat sy volkskap onderling tussen lede van daardie gemeenskap geniet.  By die Boerevolk gedeelte is die getalle klein met ‘n intense gevoel van solidariteit, maar onder Afrikaners, oftewel wit Afrikaanssprekendes, bestaan twyfel oor ‘n gemeenskaplike kultuuridentiteit, ‘n identiteit wat baie van hulle met ander Afrikaanspraters wil deel.

Binne so ‘n heterogene groep is dit vir enige regering moeilik om aan taalminderhede se eise vir minderheidsregte te voldoen, omdat lede mekaar om elke draai weerspreek. 

какое нужно оборудованиеДанильченко

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.