Bergpasse sluit, plakkershutte oorstroom, beurtkrag aangepas

Deel op

Sneeu en ysige windtoestande kom sedert Dinsdagaand voor oor die grootste dele van die hoogliggende gebiede in die Oos-Kaap en omliggende gebiede.

‘n Woordvoerder sê sneeu is ook in Lesotho en die Oos-Vrystaat aangemeld. Verskeie bergpasse moes gesluit word.

Nat en koue weerstoestande heers steeds in die Wes-Kaap. In die Oos-Kaap is alle bergpasse na Barkley-Oos vir verkeer gesluit.

Die Suid-Afrikaanse weerdiens sê die koue toestande in die land kan toegeskryf word aan koue lug agter die koue front, wat besig is om uit die land te beweeg.

Duisende plakkers is geraak deur oorstromings in die omgewing van Kaapstad, weens swaar winterreën.

‘n Woordvoerder van die stad se Rampbestuursentrum, Charlotte Powell, sê nat weerstoestande het dele in Khayelitsha, die Strand, Delft en Gugulethu, geraak.

Mense word van hulp voorsien, maar nie noodskuiling nie.

Eskom se waarnemende bestuurshoof, Brian Molefe het by ‘n mediakonferensie in Johannesburg gesê dat hulle deur die winter drie keer meer instandhoudingswerk as vorige winters gaan doen.

Molefe sê Eskom beplan om beurtkrag tydens werksure te vermy om die impak op sakeondernemings te beperk. Beurtkrag sal dus eerder tydens spitstye voor 10uur soggens en na vyfuur smiddae, en oor naweke toegepas word.

Hy sê egter dat ‘n nuwe strategie hul beplande instandhoudingswerk aan hulle opwekkingseenhede, slegs tot minimale onderbrekings sal lei.

Eskom het intussen wysigings aan die Fases van beurtkrag aangekondig. Molefe het by ‘n mediakonferensie in Johannesburg gesê Fase Een beurtkrag sal steeds toegepas word as daar ‘n tekort van duisend megawatt is, en Fase Twee wanneer daar ‘n tekort van twee duisend megawatt is.

Fase Drie beurtkrag sal egter nou toegepas word wanneer daar ‘n tekort van drie duisend megawatt is. In die verlede is Fase Drie eers met ‘n tekort van vier duisend megawatt toegepas.

Volgens Molefe is dit om die gaping tussen Fase Twee en Fase Drie beurtkrag te verminder.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.