Leefstylwaentjies: BMW 218i Active Tourer teen Fiat 500L 1.4 T-Jet Trekking

Deel op

Met meer as ‘n duisend verskillende modelle om van te kies in die Suid-Afrikaanse motormark, kan dit nogal baie moeilik raak om die regte voertuig vir jou doeleindes aan te skaf.

Meeste mense kies ‘n motor om een van drie redes:

  1. Prys
  2. Leefstyl
  3. DKW (Dans, Kerk en Werk) eintlik is dit om jou nuwe wiele by die dans, die kerk en die werk aan die mense om jou te vertoon.
BMW 218i Active Tourer
BMW 218i Active Tourer

Ons het twee motors wat op die oog af baie verskillend lyk – en maar tog so naby aan mekaar is – gaan vergelyk. BMW se 218i Active Tourer Outomaties en Fiat se 500L 1.4 T-Jet Trekking. Beide die motors is reusesuksesse in Europa met die Active Tourer wat BMW se eerste voorwielaangedrewe motor is en ook hul eerste tree in die nutsvoertuigmark. Die 500L is so suksesvol dat die troue tussen Fiat en Chrysler hierdie selfde enjin en onderstel inspan in die nuwe Jeep Renegade.

Voorkoms

Beide die BMW en die Fiat lyk soos broodwaentjies, maar hoe langer jy na hulle kyk, hoe meer kom daar ontwerpslyne na vore. Daar is groot ruite met klein kwartruitjies voor en agter in die BMW, die kort neus en kort stert is ook pure BMW en reg van voor is die niertjiesrooster en groot hoofligte onmiskenbaar BMW. Hierdie is in alle opsigte ‘n BMW: die motor het ‘n kantnaat wat deur die hele sykant van die bakwerk loop, ‘n hoë daklyn en lae swaartekragmiddelpunt. Groot wiele en aggressiewe voue tussen die hooflig en die kolligte vertel dat die BMW-waentjie sportiewe oogmerke het.

2014 Fiat 500L Trekking van agter
2014 Fiat 500L Trekking van agter

Die Fiat aan die ander kant lyk asof hy iewers in Kalifornië se kus met branderplanke op die dak moet rondry. Van voor is daar vier ronde ligte: twee groteres en twee kleineres wat onder mekaar geplaas is. Daar is ook aparte misligte voor. As jy die Fiat in jou truspieël sien, sou jy maklik hom kon verwar met ‘n Mini Countryman. En snaaks genoeg is die Mini mos familie van die BMW. Die Fiat 500L is ‘n groot motor; mens dink altyd Fiat is ‘n kleinmotorspesialis, maar anders as wat die “500” naam wil voorgee, is hierdie Fiat allesbehalwe klein. Die hoë daklyn en swart stroke op die kante en om die wielboë verklap die Fiat 500L Trekking se hunkering na die veld, maar moenie jou misgis met die Trekking-deel in die naam nie: die Fiat is ‘n stadsmotor en glad nie gebou vir grondpaaie nie.

Binneruim

Die Fiat se bagasieruim
Die Fiat se bagasieruim

Beide die BMW en die Fiat het hope spasie, genoeg vir vyf mense met ‘n klomp bagasie. Die deure maak wyd oop en die sitplekke is groot en gerieflik. Daar is twee groot, breë sitplekke agter met genoeg plek vir ‘n derde persoon in die middel, beenruimte is verbasend goed vir ‘n 2-reeks. Die bagasieruim is ook baie groot met sowat 468 liter se spasie met sitplekke in die normale posisie en as dit plat gevou word dan vergroot die bagasiekapasiteit na ‘n enorme 1510 liter. Die agterste sitplekke kan ook voorentoe en agtertoe skuif. Die bougehalte is tipies BMW: baie goed met leerafwerking op al die regte plekke. Daar is ‘n driespeekstuurwiel met afstandbeheerde knoppies vir die radio, asook die spoedbeheer en telefoon. Swart houtinsetsels op die paneelbord rond die motor mooi af, maar een ding wat ons van beide BMW en Mercedes se nuwe binnekante pla, is die raakskerm wat lyk of dit sommer na die tyd aangeplak is. In die Audi’s vou die skerm netjies weg, maar hier sit hy eintlik onooglik so reg in jou gesigveld en lyk dit werklik soos ‘n nagedagtenis.

Die BMW se bagasieruim
Die BMW se bagasieruim

Die Fiat aan die ander kant voel binne of hy werklik deur ‘n mode-ontwerper iewers in Milaan ontwerp is. Die binneruim is vars en modern met baie stylvolle lyne en die materiaal is ook uit die boonste rakke. Die raakskerm in die Fiat is ook in die middelkonsoleingebou en lyk sommer baie beter as dié in die BMW. Seker die mooiste deel van die Fiat se binneruim is die stuurwiel. Die vierkantige middelste deel van die stuurwiel asook die drie speke wat afstandbeheerde knoppies vir die telefoon en radio huisves, lyk soos ‘n juweel. Die stuurwiel is klein en lekker dik en is ook met leer oorgetrek, so dit is baie gemaklik en voel goed in die hand. Daar is leerinsetsels in die deure en ‘n retroagtige hardeplastiekinsetsel regoor die konsole met ‘n dubbele smukkassie wat onder mekaar sit. Die outomatiese temperatuurverstelling word deur die groot draaiknoppe in die middel van die konsole beheer. Daar is ‘n ekstra stokkie aan die onderkant van die stuurwiel wat die togbeheer huisves. Een klagte van ons kant af is die kleinerige voetpedale: hierdie boerevoete het ‘n paar keer sommer die petrol en die rempedaal gelyk raakgetrap. Dit is baie naby mekaar geplaas.

Enjins

Fiat 500 L Trekking-paneelbord
Fiat 500 L Trekking-paneelbord

Ons toetsmotor is die 218i wat toegerus is met BMW se 1.5-liter-, 3-silinderturboeenheid. Ja, dit is presies dieselfde enjin wat in die nuwe Mini ingespan word en BMW gebruik hom in die i8-supermotor ook. Die enjin lewer 100KW en 220Nm se wringkrag. Die uitlaatgasse se CO2-syfer is 122g/km. Brandstofverbruik is aanvaarbaar teen 7,5 l/100km, BMW gee ‘n syfer van 5,2 l/100km aan, maar ons kon nie naby kom met die toetsmotor nie. Die waentjie wys sy sportiewe kant met ‘n versnelling van 0-100km/u in 9,2 sekondes en sy asem raak op teen 205 km/u. Die enjin is ‘n juweel en loop superglad en stil. Ek dink die feit dat die motor 1395kg weeg sonder enige insittendes het die klein enjintjie se brandstofsyfer effens aangetas.

Paneelbord van die BMW
Paneelbord van die BMW

Die Fiat 500L Trekking spog nou weer met dieselfde 1,4 T-Jet-enjin wat 88 KW en 215Nm se wringkrag lewer. In die Renegade is die turbo net meer effens oopgedraai om 103 KW te lewer. Die Fiat se brandstofverbruik word aangegee as 7,0l/100km; ons kon egter slegs 7,8l/100km haal. CO2-syfers van 163g/km wys jou duidelik die verskil tussen ‘n 3- en ‘n 4-silinderenjin. Die 500L se 0-100km/u tyd is 11 sekondes en ‘n skaflike 183km/u word aangegee as sy maksimumsnelheid. Ek moet sê die 1.4 T-Jet-enjin loop soos ‘n droom en selfs met 5 mense aan boord trek die Fiat baie sterk en kan ‘n mens nie eintlik glo dit is net ‘n 1,4-liter-enjin nie. Die enjin loop seepglad en voel afgesien van die syfers baie sterker as wat die 218i voel.

Gevolgtrekking

Fiat 500L Trekking-beenruimte
Fiat 500L Trekking-beenruimte

Ons gee toe dat die meeste mense waarvoor die eerste twee redes hier bo genoem belangrik is, die Fiat 500L Trekking sal koop, maar as jy meer ‘n motor koop oor die derde rede, sal jy beslis na die die BMW 218i Active Tourer kyk. Teen R319 400 vir die Fiat is daar byna geen vergelyking nie. Die BMW 218i Active Tourer Outomaties se normale prys is R396 205, maar ons toetsmotor was toegerus met R160 000 se opsionele ekstra toerusting wat die oë laat traan teen ‘n prys van R556 205. Dit is werklik baie en vir die meeste mense buite bereik. Die Fiat se prys sluit ‘n 3-jaar- 100 000km-waarborg en ‘n 3-jaar- 100 000km-onderhoudsplan in. BMW sluit ‘n 2-jaarwaarborg met onbeperkte kilometers en ‘n 5-jaar- 100 000km-onderhoudsplan in.

 

Agterste ruimte in BMW
Agterste ruimte in BMW

 

BMW 218i Active Tourer Outomaties

Prys 2 uit 5
Voorkoms buite 4 uit 5
Binneruimgehalte en afwerking 5 uit 5
Ruimte en praktiese toepassing 4 uit 5
Agter die stuur 4 uit 5
Enjin en ratkas 5 uit 5
Op die pad 4 uit 5
Veiligheid 5 uit 5
Totaal 33 uit 40

 

Fiat 500L 1.4 T-Jet Trekking

Prys 4 uit 5
Voorkoms buite 4 uit 5
Binneruimgehalte en afwerking 5 uit 5
Ruimte en praktiese toepassing 5 uit 5
Agter die stuur 4 uit 5
Enjin en ratkas 5 uit 5
Op die pad 4 uit 5
Veiligheid 5 uit 5
Totaal 36 uit 40

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.