Weermag ontken berigte van gyselaarskap vir al-Bashir

Deel op

Die weermag het Dinsdag berigte verwerp dat Soedan Suid-Afrikaanse soldate as gyselaars aangehou het om die inhegtenisneming van President Omar al-Bashir te verhoed.

Daar is tans Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag troepe in Darfoer ontplooi.

“Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) het met uiterste ontsteltenis van die verslae in verskeie mediabronne kennis geneem wat beweer dat SANW-troepe gyselaar gehou word in Soedan. Daar is geen iota van waarheid in hierdie bewerings nie,” het ‘n woordvoerder van die SANW Siphiwe Dlamini, gesê.
 
Hy het gereageer op ‘n aanlynmediaverslag dat Soedanese troepe 1400 Suid-Afrikaanse soldate van die Verenigde Nasies se missie (UNAMID) gyselaar hou terwyl ‘n diplomatieke krisis broei.
 
Daar is gesê dat die Soedanese troepe hul Suid-Afrikaanse eweknieë in die weste van Soedan omring het en net sou onttrek indien Al-Bashir Maandag in Khartoum land.
 
Maar volgens Dlamini is die situasie in die gebied waar die Suid-Afrikaanse troepe gestasioneer is, kalm.
 
Die Suider-Afrikaanse Litigasiesentrum, ‘n Britse nie-regeringsorganisasie ten spyte van die naam, wou danksy ‘n suksesvolle hofaansoek die regering dwing om Al-Bashir in hegtenis te neem. Maar ‘n regsverteenwoordiger vir die regering het bevestig dat Bashir uit die land is.

Die Internasionale Strafhof (IS) het vroeër ‘n lasbrief vir Al-Bashir se inhegtenisname uitgereik weens “menseregteskendings”.

Opposisiepartye sê die Suid-Afrikaanse regering het tot ‘n skandalige nuwe laagtepunt gedaal deur toe te laat dat die president van Soedan die land verlaat en in die proses ‘n hofbevel verontagsaam het.

DA-woordvoerder Stevens Mokgalapa sê die regering het aan die wêreld gewys dat hy nie glo in geregtigheid vir ernstige internasionale misdade nie.

Hy sê deur toe te laat dat al-Bashir die land verlaat, het die minister van Binnelandse Sake, Malusi Gigaba, en die regering hulle skuldig gemaak aan minagting van die hof.

Suid-Afrika het “minstens drie keer internasionale wetgewing oortree” met sy hantering van president Omar al-Bashir van Soedan.

Dit is volgens professor Bonita Meyersfeld van die Sentrum vir Toegepaste Regstudies aan die Universiteit van die Witwatersrand.

Sy het haar nie uitgelaat oor internasionale oortredings deur Brittanje en die VSA in Irak en Sirië nie.

Sy sê die oortredings was om hom in Suid-Afrika toe te laat en hom nie in hegtenis te neem nie, dat hy verwelkom is by die beraad van die Afrika-unie in Sandton, en dat hy toegelaat is om die land te verlaat ondanks ’n hofbevel om dit te keer.

Meyersfeld het aan Beeld gesê sy twyfel of iemand vervolg kan word omdat al-Bashir toegelaat is om die land te verlaat, maar Suid-Afrika se aansien het erge skade opgedoen.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.