Soedan se president, Omar al-Bashir het glo klaring gekry om vanaf ‘n Suid-Afrikaanse lughawe op te styg in weerwil van ‘n geslaagde dringende aansoek dat hy in die land moet bly.
Bashir se bemanning het glo pas klaring ontvang van die beheertoring by die Waterklooflugmagbasis en sy vliegtuig maak gereed om op te styg.
Die voorsitter van die Portefeuljekomitee oor Internasionale Betrekkinge, Siphosezwe Masango, het sy kommer uitgespreek oor die hofaansoek om die regering te dwing om die Soedanese president in hegtenis te neem.
Die Hooggeregshof sal aanstons uitspraak gee oor die Suid-Afrikaanse Litigasiesentrum se dringende aansoek dat al-Bashir in hegtenis geneem word.
Hy word deur die Internasionale Strafhof gesoek vir misdade teen die mensdom en volksmoord.
Masango het dit as ‘n opportunistiese stap beskryf wat slegs ten doel het om Afrika-leiers teen mekaar aan te hits onder die vaandel van die internasionale reg.
Hy sê dit is ook daarop gemik om die visie van Agenda 2063 te kaap. Masango sê die Afrika Unie-beraad, waarvoor Bashir na Suid-Afrika gekom het, moet belangrike kwessies oorweeg soos ekonomie op die vasteland, handelsintegrasie, infrastruktuur, vreemdelingehaat, asook nie-beheerde migrasie.
‘n Woordvoerder van die Departement van Justisie, Mthunzi Mhaga sê hulle het nog nie tyd gehad om die gerugte na te gaan nie. Hy sê dit sal, indien nodig, ooreenkomstig met ander departemente moet gebeur.
Die militêre korrespondent van Beeld, Erika Gibson, is blykbaar by Waterklooflugmagbasis gestasioneer en het soos volg oor die gebeure getwiet:
#Bashir bemanning het pas klaring vir opstyging by beheertoring gekry. Vliegtuig maak gereed vir opstyging @Netwerk24Berig
— Erika Gibson (@GibsonErika) June 15, 2015
#Bashir tuig beweeg na verplasingsentrale waar passassiers gewoonlik opgelaai word @Netwerk24Berig
— Erika Gibson (@GibsonErika) June 15, 2015
#Bashir vliegtuig het opgestyg. In noordelike rigting op pad @Netwerk24Berig
— Erika Gibson (@GibsonErika) June 15, 2015