Mugabe loods aanval teen SA, Nigerië by AU-spitsberaad

Deel op

President Robert Mugabe het hom gister op die AU-beraad in Sandton skerp uitgelaat oor Afrikaleiers wat tot net twee ampstermyne beperk word.

President Zuma het voorheen aangedui dat hy slegs twee termyne sal dien.

Mugabe het ook bedekte ‘n aanval op Suid-Afrika en Nigerië geloods. Albei lande het die VN-resolusie 1973 in 2011 gesteun, wat militêre optrede teen die regime van Libiese leier Moeammar Gaddafi gemagtig het.

Die Zimbabwiese leier, wat in sy sewende termyn is, het gesê dit is demokraties om voort te gaan indien die mense van ‘n land wil hê hul leier moet langer dien.

Mugabe het egter gemaan dat onstabiliteit nie veroorsaak moet word deur aan te dring om langer as twee termyne aan te bly nie.

Mugabe het ingegryp in ‘n vergadering van die sogenaamde “Komitee van 10” by die AU-spitsberaad Saterdag waar moontlike wysigings bespreek is oor die “Ezulwini-konsensus” wat Suid-Afrika se posisie tov die hervorming van die Veiligheidsraad van die VN rig.

Die 2005 Ezulwini-konsensus was dat Afrika ten minste twee permanente en vyf nie-permanente setels op die raad moet vra as deel van die uitgerekte, wyer hervorming om dit meer verteenwoordigend van die wêreld te maak.

Die konsensus eis voorts dat twee permanente setels bygevoeg moet word met dieselfde vetoreg as vir die vyf huidige permanente lede, die VSA, die Verenigde Koninkryk, China, Rusland en Frankryk.

Die eis is as onrealisties beskou deur ander lidlande.

Die sogenaamde G4-groep wat Duitsland, Japan, Indië en Brasilië insluit, wil ook permanente setels op die Veiligheidsraad bekom.

Mugabe se aanval word beskou as ‘n einde van die poging om die Ezulwini-konsensus te hersien om Nigerië en Suid-Afrika se profiel in die Veiligheidsraad te verhoog.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.