Dan Roodt: Moet Afrikaners deur ‘n ooreenkoms tot eenheid gedwing word?

Deel op

Daar is vir my een enkele baie positiewe in genl Constand Viljoen se stelling en dit is dat hy met my saamstem oor die “strategiese flaters” wat die NP begaan het. Ek kan boeke daaroor vol skryf en sal ook seker nog, D.V. Onlangs het ek dr. Niël Barnard se outobiografie gelees en ek en my vrou het plek-plek gelag vir al die naïewe stellings en grootdoenerigheid daarin. As daar ooit ‘n behoorlike lykskouing oor die laaste dae van die vorige bewind gedoen word, sal sowel FW de Klerk as Niël Barnard as die hoofargitekte van ons ondergang uitgewys moet word. Dis asof hulle toegelaat het dat ons vyande ons strategie begin bepaal en “samewerking met Brittanje en die VSA” is as die summum van die Afrikaner se buitelandse beleid gesien. Daarom het hulle eenvoudig aanvaar dat die ekstremistiese bende terroriste wat die Angel-Saksers as ‘n “regering-in-ballingskap” voorgehou het, die land kon oorneem, feitlik sonder om ‘n skoot te skiet.

Uiteindelik het ons egter met die pen verloor en nie met die swaard nie. Daardie oorlog – noem dit ‘n inligtingsoorlog of vierdegenerasie-oorlog waarvan mense ook deesdae praat – het nog nooit opgehou nie en woed elke dag voort. Die vyand het bloed geruik en dit gaan vir hom daaroor om ons so finaal af te takel dat daar net mooi niks van ons oorbly nie: nie ‘n blanke kind nie, nie Afrikaans nie, geen Afrikanernaam of -standbeeld of -monument nie, nie ‘n Afrikaanse skool of universiteit nie, geen onderneming of instelling in Afrikanerhande nie, en so kan ons aangaan. As ons gelukkig is, gaan ons uit die land verjaag word en soos ‘n Amerikaanse vriend dit stel: “You’ll be lucky to escape with the clothes on your back.” Onthou: die Portugese was 500 jaar in Angola en was besig om die oorlog in die vroeë sewentigerjare teen die MPLA te wen, alvorens hulle eensklaps vlugtelinge geword het, dus beteken ons 360 jaar hier net mooi niks. Ons sien reeds wat dink Zuma van Jan van Riebeeck.

Mugabe is die president van die Afrika-Unie wat tans seker so 20 km van my af met fanfare in Sandton vergader. Laat dit insink: Mugabe is die president van Afrika! En onlangs het hy in Soweto die fameuse woorde gespreek: “I don’t want to see white faces.” Vir seker fluister Mugabe en sy trawante allerlei in Zuma en kie. se ore. Ons sit hier, grotendeels ontwapen, met bates soos grond, huise, aandele en pensioenfondse, sonder ‘n enkele vriend ter wêreld! Daar bestaan nie ‘n enkele buitelandse regering wat selfs skerp kritiek sou lewer indien die ANC/SAKP môre die uitsettingsbevel op ons sou bedien nie. Daar sal maar net die gewone gemompel oor “apartheid” wees en daarna sal die media weer oor Poetin en die Oekraïne begin praat.

Dis die “strategiese penarie” – nee, nagmerrie – waarin ons ons bevind. Ek skrik baie keer in die nag wakker en dan dink ek aan hoe dit was onder Verwoerd, met rondom ons twee oseane, asook ‘n reeks bufferstate ten noorde van ons wat deur vriendelike regerings regeer is. Veiliger kon ‘n mens seker nie wees nie, met Mandela en Bram Fischer in die tronk. Hoe kon ons binne twintig of dertig jaar net mooi álles verloor?!! Dis mos ongehoord in die wêreldgeskiedenis, dat ‘n volk met ‘n formidabele weermag, ‘n polisiemag, ambassades, inligtingsdienste, navorsers op universiteit en by die RGN, WNNR, noem maar op, binne twee dekades só agteruit kon boer dat hy ‘n bywoner in sy eie land word!

Ons wat die atoom gesplits het en hartoorplantings gedoen het, smeek vir genade by ‘n man uit Zoeloeland wat soms velle dra met ‘n standerd vier… Hoe het dit gebeur?

As ons nie die enormiteit van ons militêre, strategiese, kulturele, ekonomiese en sedelike verval besef nie, het ons nog geen duim uit die moeras gevorder nie. In Hillbrow het ek Afrikanertieners gesien wat in die Nigeriese buurt op straat slaap sodat hulle dwelms kan koop. In die negentiende eeu het ‘n Engelsman geskryf: “Boer women never prostitute themselves.” Ek dink vandag skryf “Boer women” boeke daaroor, Naspers gee dit uit en prys dit ten hemele aan.

Die Afrikaner het nie net “dekadent” geword in die klassieke sin, soos die ou Romeine of die Franse aristokrasie van die agtiende eeu nie, ons toets nuwe laagtepunte van nihilisme, masochisme, perversie.

Wat is die oplossing en waar begin ‘n mens hierdie toestand beveg?

  1. Deur in die eerste plek die voortdurende inligtings- en propaganda-oorlog die hoof te bied. In weerwil van ons magtelose toestand, is die ANC/SAKP en die duistere magte wat hulle verder beheer en manipuleer, onseker oor ‘n regstreekse gewelddadige aanval op ons. Daarom sou hulle verkies om deur propaganda, skuldgevoelens, wetgewing en die afspeel van een Afrikaner teen ‘n ander, ons te kry om eintlik vrywillig van ons oorblywende bates afstand te doen. Die soort “lumpenproletariaat” van misdadigers wat ook deur Marx en Lenin as ‘n revolusionêre, aftakelende mag erken is, doen ook wonderlik sy werk in ons land. Dis die Soen-Tsoe-beginsel: die beste oorwinning is om jou vyand te laat buig sonder om teen hom te veg. Dis waarom dit vir my so ontstellend is as ander Afrikaners, wat ook al hul menings is en hoe liberaal of links of “progressief” of “bevry” hulle ook al mag wees, vir my of Steve Hofmeyr of ander wat op ons manier probeer weerstand bied, in die rug steek met laakbare, lasterlike aanvalle.
  2. Ons het Afrikanerbeleid nodig. In 2003 toe ons maandelikse vergaderings in die Ou Raadzaal in Pretoria begin reël het, het ek gedink dit kan uitloop op ‘n soort maandelikse “Afrikanerparlement” waar elkeen sy mening kan lug, debat kan plaasvind en daar uiteindelik oor sekere breë beginsels ooreengekom kan word. Intussen het 12 jaar verbygegaan en steeds is daar geen konsensus oor die mees basiese begrippe nie, soos:
    1. Het ons ‘n permanente tuiste in Suid-Afrika?
    2. Het ons die reg op Standaardafrikaans?
    3. Moet ons vir altyd onderhewig wees aan regstellende aksie, transformasie en marxistiese of trotskiïstiese permanente revolusie?
    4. Het ons die reg op Afrikaanse skole en universiteite waar ons taal en kultuur aan ‘n volgende geslag oorgedra mag word?
    5. Het ons grondgebied of bepaalde dele van die land wat uitsluitlik aan ons behoort? Indien wel, waar is daardie gebiede?
    6. Wat is ons strategiese doelwitte? Ekonomies, polities, kultureel? Waar wil ons oor tien jaar, twintig jaar, ens., wees? Of sien ons net agteruitgang en probeer ons bloot ons eie ondergang beter bestuur en minder pynlik maak?
    7. Het ons die reg op veiligheid en op lewe? En as die staat dit nie vir ons kan waarborg nie, hoe kan ons dit self doen?
    8. Wat is ons gevoelens oor ander state? BRICS, die VSA, Brittanje, Rusland, Nederland, Frankryk, Australië (waar soveel van ons mense deesdae woon)?
  3. ‘n Model vir onderlinge eenheid. Ek het sewe jaar in Frankryk gewoon en dis miskien die enigste land buiten Suid-Afrika waarvan ek regtig eerstehandse kennis dra. Franse is trots, nasionalisties, veral oor hul taal, letterkunde en geskiedenis, maar ook hopeloos verdeeld. Trouens, ten tye van die revolusie het hulle massamoorde op mekaar gepleeg. Volk teen adelstand, streek teen streek, stad teen stad. Dit smeul nog in die herinnering. Meer onlangs was daar die tweede wêreldoorlog, toe die Algerynse oorlog. Tydens die Algerynse oorlog het die Franse weermag in Algerië gemuit omdat hulle saam met die miljoen pieds noirs, wit Franse in Algerië, wou staan en die oorlog teen die Arabiere wou wen, terwyl die Franse regering in Parys wou “dekoloniseer” en oorgee. Die dienspligtiges vanuit Frankryk self het egter teen die offisiere gedraai en binne ‘n maand moes ‘n miljoen “wit Afrikane” vir altyd hul Algerynse geboorteland verlaat. Vandag is die dogter van een van die Algerynse vegters, Marine Le Pen, so te sê die gewildste politikus in die land, maar die media haat haar en hoon haar openlik as “verregs” en ‘n “rassis”. Nietemin kry Regs en Links, “rassis” en kommunis, Katoliek en ateís, en selfs Jode (daar is 700 000 Jode in Frankryk) dit reg om met mekaar te praat, TV-debatte te voer, mekaar in briewe en boeke te antwoord, ens. Die Afrikaner se probleem is nie werklik ideologies of godsdienstig soos in Frankryk nie (daar word die neerhalende term van links, Catho-fâcho (Katolieke fascis), vir konserwatiewe, Katolieke patriotte gebruik wat dalk teen gay huwelike en immigrasie gekant is). By ons is dit iets anders, meer soos “opportunisme”. Mense ondermyn mekaar om die guns van die maghebber of sy baas te wen en hy dink bloot aan sy eie korttermynvoordeel, of dit nou die behoud van sy pos, ‘n groter inkomste, ‘n goeie woordjie van Adderjan Basson in Beeld, of meer lede as die volgende organisasie is. Uiteraard moet daar staatsagente wees wat uit die geheime fondse betaal word, en wat lank reeds die meeste Afrikaanse organisasies en media geïnfiltreer het en wat bedrywig is om soveel verdeeldheid as moontlik te saai. Vir seker is hulle ook op sosiale media bedrywig, onder skuilname en hits mense teen mekaar aan. As ons in die ANC se posisie was, het ons seker dieselfde met hulle gedoen. Of dalk nie: Ons het moontlik steeds vir Niël Barnard of De Klerk gehad wat opdragte van MI6 of die Britse ambasadeur in Pretoria sou aanvaar en hard sou werk aan die volgende Afrikanerondergang.

Hoe dit ook al sy, ons moet “verdeeldheid” en mense wat na soveel jare nie langs dieselfde vuur sit nie, as ‘n gegewe aanvaar. In 1860 rond was daar ‘n burgeroorlog in die Transvaal waartydens 40 burgers gesneuwel het, wat Paul Kruger vir die res van sy lewe bygebly het en hom daarom dikwels versoenend laat optree het. Vraag: waarom was ons in die twintigste eeu min of meer verenig? Dit klink sinies, maar ek vermoed dis omdat die Britse parlement in 1909 ‘n wet gemaak het, die South Africa Act, om ons te dwing om met mekaar saam te werk om die land te regeer, Boer en Brit, maar veral Sap en Nat, konserwatief en liberaal, Dopper en Gatjieponder, ens.

Terloops, daar is nog die probleem van “Afrikanerkrewe”: sodra een dreig om uit die emmer te klim, kan jy maar wéét daar gaan ‘n ander klomp krewe wees wat hom ondertoe gaan trek. Trouens, as dit daaroor gaan om teen iemand te verenig wat dalk probeer om ‘n nuwe rigting in te slaan of “iets te laat gebeur”, is dit omtrent die enigste kere dat daar werklik eenheid is, want dan “staan almal saam” om die “rebel” tot onderdanigheid aan die heersende orde te dwing.

Die enigste manier om Afrikaners te verenig, sou deur ‘n mate van dwang wees. Brittanje gaan nie weer vir ons ‘n South Africa Act in Westminster uitvaardig nie. Daarom sal ons sélf ‘n stuk wetgewing moet skep om verhoudings onderling te reël en te sorg dat “vriendelike vuur” tot tyd en wyl hierdie oorlog verby is, tot die minimum beperk of heeltemal uitgeskakel word. Hoe kan dit werk?

Hier is my voorstel, om te oordink: Ons stel ‘n ooreenkoms op wat elke organisasie of individu wat deel van die “Afrikanerbeweging” is of wil wees tot ‘n sekere gedragskode verplig en om sekere breë beginsels waaroor ons nou al kan ooreenkom, te onderhou (bv. behoud van Standaardafrikaans, ‘n tuiste in SA, ens.). Indien enigiemand die gedragskode oortree, kan hy aangekla en verhoor word deur ‘n arbiter of komitee wat vir beide partye aanvaarbaar sal wees. Daar moet ook swaar boetes by betrokke wees, wat kontraktueel vasgestel sal wees. Dus as enigiemand sewe-uur op RSG iemand anders ‘n “rassis” of ‘n “Nazi” of ‘n “pedofiel” of “suiplap” of wat ook al daardie oggend in sy kop inkom, wil noem, mag hy dalk dink aan die kontrak wat hy geteken het en dat hy waarskynlik binne die volgende week voor die arbiter gaan staan en met R500 000 beboet gaan word. Die arbiter se bevinding sal ook ‘n bevel van die hof gemaak kan word, en indien ons nie meer met die plaaslike howe tevrede is nie, kan ons selfs ‘n jurisdiksie oorsee kies, soos in Vlaandere of Nederland byvoorbeeld. Die bedrag kan selfs in euro vasgestel word, gegewe dat die rand se waarde, om die minste te sê, in die toekoms gaan afneem. Dit kan oor meer ook gaan: dat niemand, soos FW de Klerk of Roelf Meyer, ‘n ooreenkoms met enige owerheid, staat of politieke party of terreurbeweging of ander instelling mag aangaan wat ons toekoms of regte raak sonder ‘n 75%-meerderheid by ‘n spesiale sitting wat byeengeroep móét word nie.

Ek kan nou al voorspel dat ‘n hele paar mense nie bereid sal wees om tot die behoud van Standaardafrikaans in te stem nie, want hulle wil ons taal kreoliseer en vermeng sodat dit vir anderstaliges of sekere “bruin leiers” aanvaarbaar kan wees. Maar sodoende sal die koring van die kaf geskei word en sal daar geleidelik ‘n breë konsensus oor belangrike kwessies ontstaan en kan elke lewensbedreigende aspek van ons bestaan een vir een aangepak word, met steun van die totale groep.

Uiteraard kan daar by die Afrikanerparlement of sekere byeenkomste of plekke ‘n privilegie bestaan waar elkeen vry is om so skerp kritiek as moontlik uit te spreek en waar totale vryheid van spraak mag geld. Daar kan jy dan met hartelus jou broer invlieg en hom vertel watse lelike skoene hy dra – soos Rapport met my in 2002 gedoen het, ha! – dat net lidmate van sekere susterskerke hemel toe gaan of waarvoor jy ook al lus het.

Diegene van u wat met die Afrikaanse letterkunde bekend is, sal weet dat daar op ‘n stadium ‘n hele kultus rondom die idee van ‘n “buitestaander” was. Ek meen Etienne Leroux het daarmee begin in sy roman, “Die mugu” (1959). Maar ook in ons geskiedenis was daar ‘n paar begaafde buitestaanders wat ‘n sleutelrol gespeel het, en geen gewone Afrikaners was nie: Byvoorbeeld Leyds, wat Paul Kruger geadviseer het, wat drie Europese tale gepraat en die tjello kon bespeel. Dan Verwoerd, wat op Engelse skole in Rhodesië was, maar die eerste persoon was wat op Stellenbosch tot op die vlak van Ph.D. sy hele kursus in Afrikaans voltooi het. Hy was ook die eerste redakteur van Die Transvaler, waarsonder die Nasionale Party nooit die 1948-verkiesing sou gewen het nie. Dit was insgelyks hy wat eerste begin het om die noodsaak vir ‘n sterk weermag te besef en oor ‘n langtermynstrategiese visie beskik het. Blykbaar het hy destyds al ingesien dat die Oranjerivier in ‘n droë land soos Suid-Afrika van wesentlike belang was. Sonder hom sou daar seker nie vandag ‘n dorpie soos Orania langs die Oranjerivier gewees het nie.

Nóg Leyds, nóg Verwoerd was Afrikanerkrewe. JBM Hertzog ook nie. Die laaste nasionale leier met integriteit wat ons gehad het, was mnr. PW Botha. Ongelukkig het hy Niël Barnard en Margaret Thatcher te veel vertrou. En uiteindelik het die Afrikanerkrewe oor hom geseëvier toe die hele NP-kabinet besluit het hy moet nou heel onder in die emmer. Aan die einde van die Romeinse Ryk was daar ook so ‘n oorblywende generaal wat nog weerstand sou kon bied, toe vermoor die Romeine hom self in ‘n sluipmoord! Nie lank daarna nie, is Rome deur die Wes-Gote geplunder en was dit die einde.

Een van die beginsels wat ons ook dalk onderling moet aanvaar, is om nie deel te neem aan die algemene verguising van dr. Verwoerd nie. As ‘n mens sy lewensverhaal lees en hoe hard hy gewerk het om ons vry en onafhanklik te maak, van sy jong dae af tot en met 6 September 1966, dan verdien hy nie om deur ons verloën te word nie. Juis omdat hy so ‘n groot en briljante man was, haat ons vyande hom soos gif en laat hulle geen geleentheid verbygaan om sy naam deur die modder te sleep nie, soos nou weer op Stellenbosch waar sy gedenkplaat verwyder is. U hoef hom nie te verdedig nie, maar bly dan liefs stil en moenie aan die algemene gejou deelneem nie.

As ons die mag van die emmer kan tem, sal ons iewers kom, want die ouens aan die oorkant is nie so sterk nie, al bestee hulle so na hartelus ons belastinggeld op groot partytjies en konferensies.

Afgesien van ‘n onderlinge reëling en gedragskode teen “vriendelike vuur”, is daar een baie maklike manier om Afrikanereenheid te bewerkstellig en dit is om mense ‘n gemeenskaplike vyand of “teiken” te gee.

Gedurende die tagtigerjare het Zoeloe en Xhosa, Jood en Engelsman, verloopte Afrikaner soos Van Zyl Slabbert, kleurling en Indiër, liberalis en kommunis, wat gewoonlik soos kat en hond onder mekaar baklei, teen die hervormende bewind van mnr. PW Botha en eintlik teen die Afrikaner self verenig. Niks het hulle onderling gebind nie, behalwe ‘n gemeenskaplike afkeer van ons, gegrond op etniese haatgevoelens en ‘n soort jaloesie omdat ons op soveel gebiede beter as hulle presteer het.

Elke volk en elke land ter wêreld beskik oor ‘n natuurlike vyand: sy buurman of dalk ‘n ander land iewers ver oor die water. Dink maar aan die VSA en Rusland tans. Eintlik wil Rusland vriende met Amerika wees, maar om sy reusewapennywerheid aan die gang te hou, het die VSA ‘n vyand nodig, daarom probeer hy sy bes om ‘n derde wêreldoorlog in Europa te ontketen.

Een van die Afrikaner se groot swakhede is sy goedgelowigheid en geloof dat sy eie opregte en vriendelike optrede met dieselfde gedrag beantwoord sal word. Politiek gaan oor vyandskap en die goeie daad word dikwels met vyandelike optrede beloon. Het ons nie genoeg ervaring daarvan in dié land nie? Ons het gedink ons bou skole en hospitale vir ander, toe pleeg ons eintlik ‘n “misdaad teen die mensdom”, nie waar nie?

Ons sal moet besluit wie die werklike vyand is en dan daardie individu of groep met dieselfde boosheid moet inklee as wat ons tot gister ingeklee is en op baie maniere steeds word.

Sonder dat ons ons vyand kan identifiseer wat vir ons huidige ellende verantwoordelik is, is ons soos ‘n blinde wat rondstrompel en heel tyd geslaan word. Die Transvaler en Die Burger het destyds spotprente oor “Hoggenheimer” geteken. Dis miskien nie meer so eenvoudig nie, maar ek kan sien dat daar ‘n bepaalde soort Engelsgesinde kulturele marxis bestaan, hetsy wit hetsy swart, wat ons vandag onophoudelik teister. Hulle is taamlik openlik vyandig teenoor die Afrikaner en Afrikaans.

Die lyne moet getrek word en as die stryd eers aan die gang is, sal ons mense byna outomaties geledere sluit. Ek kom reeds agter dat baie van die draadsitters beangs raak omdat daar ‘n keuse aan hulle opgedwing gaan word.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.