Irak-mislukking met nuwe Amerikaanse oorlogsgier beantwoord

Deel op

Tot 450 Amerikaanse militêre raadgewers gaan na Irak gestuur word om die land te help om sy soldate op te lei.

Tot dusver het die VSA se buitelandse beleid tot niks in die streek gelei nie. Ontleders het met verbasing gereageer op die aankondiging en gesê dit lyk asof Amerikaanse mislukkings met ‘n nuwe oorlogsgier uitgebrei sal word.

Die Withuis sê in ‘n verklaring president Barack Obama het die besluit geneem ná ‘n versoek deur die Irakse eerste minister, Haider Al-Abadi.

Die groep sal gesetel wees by ‘n militêre basis in die Anbar-provinsie waarvan die hoofstad, Ramadi, in Mei deur militantes van die Islamitiese Staat beset is.

Dit sal die getal Amerikaanse opleidingskampe in Irak op vyf te staan bring en sowat 9000 Irakse soldate is reeds by die vier bestaandes opgelei.

Die meeste van dié toerusting en opleiding het egter intussen die opkoms van ISIS in die streek ondersteun, toe oudsoldate in Irak in groot getalle by die groep aangesluit het.

‘n Londense taxi-bestuurder is selfs daaraan skuldig bevind dat hy bomme vervaardig het wat Amerikaanse soldate in Irak geteiken het. Anis Abib Sardar is die eerste persoon wat in ‘n Britse hof skuldig bevind is aan ‘n misdaad in die Irakse konflik.

Die hof het gehoor dat minstens een van sy bomme in 2007 die lewe van ‘n Amerikaanse soldaat wes van Bagdad geëis het. Die Amerikaanse Federale Speurdiens het Sadar se vingerafdrukke op twee van die bomme gekry.

Kort nadat President Barack Obama van Amerika die ontplooiing van ‘n bykomende 450 Amerikaanse militêre opleidingspersoneel na die Anbar-provinsie in Irak goedgekeur het, is hy deur die Australiese premier Tony Abbott ondersteun in ‘n oproep om djihadiste te beveg.

Die Islamitiese Staat het die afgelope tyd groot oorwinnings in die gebied behaal. Abbott sê die ISIS is ambisieus en het sy oog op verskeie dele van die wêreld.

Minstens agtien mense is dié week dood in ‘n reeks bomaanvalle in die Irakse hoofstad Bagdad.

Agt van die slagoffers is dood toe ‘n bom naby ‘n restaurant ontplof het. Die militante Islamitiese Staat word glo van die jongste terreuraanvalle verdink.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.