Groot polisieteenwoordigheid na skietery by Medupi

Deel op

Die polisie moes in groot getalle by die Marapong-lokasie in Ellisras (Lephalale) in Limpopo ontplooi word na ‘n skietvoorval.

Lede van die polisie se taktiese-reaksie-eenheid en ander polisiebeamptes patrolleer tans die gebied.

Twee konstruksiewerkers van Eskom se Medupi-kragstasie is gewond in die skietery.

Van die werkers by die kragaanlegkonstruksie het Donderdag weggebly uit vrees vir hul veiligheid, nadat ‘n onbekende skieter losgebrand het op ‘n groep werkers wat gewag het vir vervoer na die bouperseel.

Twee weke gelede is daar op twee busse geskiet, en een van die bestuurders is in die skietery gewond.

Honderde busse het egter Vrydag werkers weer aangery sonder enige ontwrigting.

‘n Span ondersoekbeamptes is intussen ingeroep om die skietvoorvalle te ondersoek.

Suid-Afrika se ekonomiese groeivooruitsigte is afwaarts aangepas weens vertragings in die vordering van die konstruksie van nuwe kragaanlegte.

Na verwagting sal die ekonomie met twee persent groei. Sonder die kragonderbrekings sou die koers tussen 2,5 en 3 persent gewees het.

Die graderingsmaatskappy, Fitch, het vroeër die maand sy kredietgradering van trippel-B bevestig en gesê ‘n onbestendige kragtoevoer het daartoe gelei dat hy sy ekonomiese groeivooruitsigte vir vanjaar en aanstaande jaar afgeskaal het.

Die Minister van Finansies, Nhlanhla Nene, sê die regering is op koers om teen 2017 sy tekort tot 2,5 persent van die Bruto Binnelandse Produk te verlaag vanaf 3,9 persent in die huidige geldjaar.

Eskom het ‘n uur gelede weer begin om Fase Een beurtkrag toe te pas.

Kragonderbrekings sal tot vanaand tienuur toe toegepas word. Die kragverskaffer sê dit is weens ‘n hoër vraag en gebrekkige opwekkingskapasiteit.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.