Leon Lemmer: ‘n Nuwe vergryp teen die akademie: die ANC-regering se nGAP-program

Deel op

Die ANC-regering het ‘n nuwe manier uitgedink om nie-wittes en vroue te bevoordeel en by implikasie blankes en veral wit mans te benadeel. Dit word die New Generation of Academics Programme (nGAP) genoem. Tipies ANC het hierdie uitvindsel nie ‘n Afrikaanse naam nie. Die staat (eintlik die belastingbetalers) betaal vir die eerste drie jaar die salaris van sulke bevoordeeldes ten volle. Daarna subsidieer die staat vir die volgende drie jaar die salaris in afnemende mate. Na verloop van hierdie ses jaar word daar van die universiteit verwag om sulke kandidate vir eie rekening permanent as dosente aan te stel. In die praktyk sal die opsie van nie-aanstelling seker nie bestaan nie. Sulke kandidate sal tydens daardie ses jaar van vakleerlingskap ‘n geringe doseerlas hê en elkeen sal ook deur ‘n mentor bygestaan word. Daar word van hierdie kandidate verwag om gedurende hierdie ruim tydperk van ses jaar ‘n magister- of doktorsgraad te voltooi. Die opset is sodanig dat so ‘n graad feitlik sonder uitsondering toegeken sal word, bv hetsy deur verlaging van akademiese standaarde of onregverdigbare oorvloedige hulp. Daarna sal so ‘n n-GAP-dosent in die posisie wees om bo sy/haar blanke kollegas, wat akademies sterker kan wees en minder gepamperlang is, bevorder te word. Nog nooit in die geskiedenis van die universiteitswese is dosente in so ‘n mate op nie-akademiese gronde (te wete ras- en geslag) bevoordeel nie.

Toe ek ‘n dosent was, het die universiteit waaraan ek verbonde was, besluit om die demografie van sy dosentekorps te “verbeter” deur addisionele poste te adverteer waarin slegs nie-wittes aangestel kon word. Vir aanstelling in my departement is meer as ‘n halfdosyn aansoeke van kansvatters ontvang. Anders as ander departementshoofde was ek nie bereid om so ‘n ekstra dosent te akkommodeer nie omdat hy/sy op nie-akademiese gronde (ras- en geslag) pleks van akademiese gronde (formele kwalifikasies, ondervinding, publikasies) aangestel sou word. Omdat daar meer departemente as sodanige addisionele poste in my fakulteit was, is my departement van hierdie skandalige praktyk vrygestel. Ek het ook beswaar geopper teen die laakbare voorwaarde dat ek as departementshoof verantwoordelik gehou sou word as so ‘n dosent misluk.

Die ANC-regering se jongste skuif is dus eintlik net ‘n verfyning van wat ek in die vorige paragraaf beskryf en in die tweede helfte van die jare negentig plaasgevind het. Vyf nGAP-poste is pas aan die Universiteit Stellenbosch (US) toegeken (US-webwerf 10 deser). Omdat die US-bestuur sterk nie-akademies, selfs anti-akademies, ingestel is, word hierdie aalmoes (met bybedoelings) van die ANC-regering amptelik deur die US verwelkom. Die US stel immers in elk geval by absolute voorkeur nie-wittes en vroue aan. Wat ook soos ‘n paal bo water staan, is dat die ANC-regering met sy nGAP-program sy vasbeslotenheid toon om al die plaaslike universiteite te verswart en verengels. Akademiese standaarde en Afrikaans as onderrigtaal sal ongetwyfeld ernstige skade lei, maar dit is klaarblyklik deel van die ANC se strategie. Al die universiteite wat nGAP-kandidate aanvaar, is mede-aandadig aan akademiese ondermyning.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.