Vrae oor Danny Jordaan se betrokkenheid by FIFA

Deel op

Die nuwe burgemeester van die Nelson Mandelabaai Metro, Danny Jordaan, het ‘n ope brief ontvang met vrae oor sy betrokkenheid by ‘n FIFA-skandaal.

Die Amerikaanse speurdiens, die FBI bekyk onder meer bewerings dat Suid-Afrika tien miljoen dollar se omkoopgeld betaal het om die sokkerwêreldbekertoernooi aan te bied.

Die sekretaris-generaal van FIFA, Jerome Valcke het Suid-Afrika en FIFA verontskuldig in beweerde wanbesteding. Hy het gesê die ontvanger van die skenking, die sokkerliggaam, CONCACAF, eerder moet verduidelik.

Die bodproses om die 2026 Sokkerwêreldbeker aan te bied is intussen opgeskort.

Valcke sê die huidige klimaat van korrupsiebewerings het dié stap genoop. Die proses sou in Mei 2017 in Kuala Lumpur begin.

Rusland en Katar se komende toernooie is tans onder die vergootglas weens beweerde ongerymdhede. Die VSA, wat net-net teen Katar verloor het in sy bod vir 2022, blyk nou die gunsteling te wees om in 2026 gasheer te speel.

Die DA-lid van die provinsiale wetgewer, Atholl Trollip het in die ope brief aan Jordaan ‘n beroep op die sokkerbaas gedoen om te reageer op bewerings dat Suid-Afrika omkoopgeld van R120 miljoen betaal het om die 2010 Sokkerwêreldbeker aan te bied.

Trollip sê Jordaan se aanstelling hou, benewens die FIFA-skandaal, ook die samestelling van ‘n burgemeesterkomitee, sowel as die stad se begroting terug.

Hy sê die vertragings weens Jordaan se aanstelling sal ‘n impak op dienslewering in die stad hê.

Zimbabwe het die Amerikaanse ondersoek na korrupsie by FIFA veroordeel.

Die Zimbabwiese Minister van Buitelandse Sake, Samuel Mumbengegwi sê Suid-Afrika het verdien om die bod te wen en het een van die beste toernooie nóg aangebied.

Die voormalige vise-president van die wêreldsokker beheerliggaam, Jack Warner, word nou ook verbind met die verdwyning van geld wat vir die slagoffers van die aardbewing in Haiti in 2010 bestem was.

Die BBC berig dat dokumente onder sy aandag gebring is wat toon dat noodfondse van $750 000 na ‘n rekening onder Warner se beheer, vir sy persoonlike gebruik oorgeplaas is.

Daar kon vier jaar later nog nie rekenskap van die geld gegee word nie.

Warner het na bewering $7 miljoen van Egipte gevra in ruil vir hulp met die land se bod vir die Wêreldbeker-sokkertoernooi in 2010.

Volgens die voormalige hoof van Egipte se sokkervereniging, Al-Dahsjoeri Harb, het Warner daarin belang gestel het om ’n raadgewer vir Egipte se bod te wees.

‘n Argentynse sakeman wat vroeër deur die Amerikaanse owerhede gesoek word in verband met die ondersoek na korrupsie by FIFA het hom aan die polisie in Italië oorgegee.

Alejandro Burzaco, die president van ‘n Argentynse sportbemarkings-maatskappy is een van 14 persone wat van korrupsie aangekla word.

Burzaco het verdwyn na die arrestasie van sewe FIFA uitvoerende lede op 27 Mei.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.