Die bestuur by die Leeupark noord van Johannesburg het besluit om die leeukamp te sluit waar ‘n Amerikaanse toeris verlede week deur ‘n leeu doodgebyt is.
Die 29-jarige Katherine Chappell is deur die leeuwyfie aangeval toe sy foto’s by die Leeupark geneem het terwyl haar motorvenster wawyd oop was.
Die bestuurder, Andre La Kock, sê daar is besluit om die leeukamp te sluit omdat sommige mense hulle nie steur aan die park se veiligheidsreëls nie.
Intussen is ‘n grootskaalse soektog van stapel gestuur nadat ’n leeumannetjie vermoedelik Vrydag uit die Karoo Nasionale Park buiteBeaufort-Wes ontsnap het.
Volgens ‘n woordvoerder van Sanparke, Fayroush Ludick, het die drie jaar oue leeu deur ‘n gat onder ‘n heining uitgekom en is hy vermoedelik op een van die aangrensende plase.
Spoorsnyers het tekens van die leeu se spoor gevind, maar die soektog word deur die bergagtige terrein bemoeilik, terwyl ‘n soektog met ‘n helikopter ook nog niks opgelewer het nie.
Sanparke sê personeel van die Addo-olifantpark, asook die Bergsebra Nasionale Park, is ook gestuur om te help soek.