Supermikromotors

Deel op

Mikromotors is die heel kleinste modernste motors in die segment. Let wel, ons sê nie die goedkoopste nie, want in Suid-Afrika se geval is dit nie die goedkoopste klas nie. Daar is ‘n geneigdheid onder die motormaatskappye om ou tegnologie of vorigegenerasiemotors plaaslik as nuut te verkoop. Daar is wel ‘n mark hiervoor want gewone motors is so duur dat byna geen salariestrekker die goed kan bekostig nie. Die bemarkingsafdelings van elke vervaardiger kom dan met baie slim planne voorendag om die duur motors van die hand te sit, maar inderwaarheid is die motors net eenvoudig te duur in Suid Afrika. Nou en dan dan verskaf ‘n vervaardiger ons met ‘n nuwe motor teen die prys of selfs goedkoper as die vorige generasie ou “nuwe” motors wat hulle plaaslik bemark.

Opel Adam se syprofiel
Opel Adam se syprofiel

Net om duidelikheid te skep oor wat ons bedoel met ougenerasie- nuwe motors. Dit is motors soos die Ford Figo, wat maar net ‘n vorigegenerasie-Fiesta is, die Polo Vivo, die Opel Corsa Lite, Toyota Etios, ensovoorts. Dan is daar uitskieters soos die Renault Sandero wat splinternuwe tegnologie gebruik maar baie goed meeding met selfs motors wat twee keer soveel soos hy kos.

Citroen C1 se syprofiel
Citroen C1 se syprofiel

Die mikromotors of dan superminimotors is gewoonlik die nuutste wat in die wêreld beskikbaar is en in Europa en Brittanje gewoonlik ook die goedkoopste modelle in die verskeie reekse. Ons kon drie mikromotors in die hande kry om uit tevind wat ‘n mens nou eintlik kry vir jou geld en of hierdie motors werklik die moeite werd is om te koop. Ek bedoel, hoekom sou enige mens ‘n klein motortjie met min spasie, krag en baie keer karakter bo ‘n bewese goedkoper, getroue en in die meeste gevalle groter ouergenerasie- “nuwe” motors soos die Ford Figo koop?

VW Move Up se syprofiel
VW Move Up se syprofiel

Die drie motortjies op ons lysie is die splinternuwe Citroen C1, Opel se Adam en Volkswagen se Up. Die drie motors is veronderstel om in direkte mededinging met mekaar te verkeer, maar met die prysstrategieë in ons plaaslike motormark kan mens eintlik nie die drie vergelyk nie. Ons grond hierdie vergelyking dus op logika en dít wat ‘n mens kry vir wat jy betaal.

Bakwerk

Wanneer dit by die praktiese sy van dinge kom, lyk dit dan op die oog af of die Citroen met sy 5 deure die Ada, en Up troef wat albei slegs drie deure het, maar eintlik het ons die Volkswagen Up as die mees praktiese van die drie motors ervaar. Die Up lyk baie kompak van buite, heelwat kleiner as die Adam maar groter as die C1. In werklikheid is die Up slegs 7 cm langer as die C1 en 20cm korter as die Adam. Dit beteken wesentlik dat die Up die volmaakte lengte vir ‘n klein motortjie vir die stad is. Daarteenoor is die C1 so kort dat daar byna geen persoon agter in die motor kan pas nie en sou jy dit regkry om ‘n kleinerige kind agter te laat sit, gaan daar byna geen plek vir skooltasse in die begasieruim wees nie; 196 liter is al wat daar is. Jy kan natuurlik die agterste sitplekke platvou om die begasieruim na 780 liter te vergroot, maar dan kan jy glad nie passsiers saamneem nie. Die ander ding wat ons gepla het, was die feit dat die agterste kantruite ook nie kan afdraai nie, nie eens met die hand nie, dus is dit in elk geval net so prakties soos ‘n driedeurmotor.

VW Move Up se bagasieruim
VW Move Up se bagasieruim

Die Opel Adam is die langste van die drie, maar bied die minste bagasieruim met slegs 170 liter se pakplek met die agterste sitplekke opgeslaan en 663 liter met die sitplekke afgeslaan. Die feit is egter dat daar heelwat meer beenruimte agter in die Adam is as in die C1 en jy sal darem drie kinders met hul tasse daar kan inkry. Die Volkswagen Up bied 251 liter se begasieruim met die agterste sitplekke in plek en 959 liter se plek met die sitplekke weggevou. Die Up is ook so ruim binne dat jy hoërskoolkinders agter in die motor kan rondry en almal se skooltasse darem ook sal kan vervoer.

Afwerking en toerusting

Opel Adam-paneelbord
Opel Adam-paneelbord

Al drie hierdie motortjies is volledig toegerus met al die veiligheidseienskappe wat ‘n mens in veel duurder en groter motors teëkom, soos ABS-remme met remverspreiding en genoeg lugsakke om al die insittendes te beskerm. Die Citroen C1 het ‘n groot oopskuifmateriaalsondak. Dit is so tipies Franse styl en sjarme, maar na ons mening heeltemal oorbodig vir dié tipe motor. Ek weet ook nie hoe veilig dit is met die misdaad in Suid-Afrika nie; ‘n skerp mes en gewillge motordief en voilà! Die afwerking binne die Citroen is jonk en vars, maar nie naastenby op dieselfde vlak as die twee Duitsers nie.

W Move Up-paneelbord
VW Move Up-paneelbord

Van die drie motortjies het die Opel Adam die meeste soos ‘n groot Astra gevoel; daar is ‘n volwasse gevoel binne in die Adam. Die Volkswagen Up het my ongelooflik aan die oorspronklike VW Kewer laat dink. Natuurlik is die materiaal wat VW gebruik het uit die boonste rakke en alles voel en lyk solied en van hoë gehalte. Dit is net asof die Up weereens die meer afgeronde dog jonk en vars afwerking het. Die balans tussen sportief, volwasse en jeugdig kan beskryf word as gesofistikeerd of, anders gestel, verfynd sonder om te vroulik of te jonk te voel. Ek dink ‘n afgetrede man of dame asook ‘n student of ‘n jong gesin sal almal in die Up tuisvoel. Die Adam het ‘n meer manlike gevoel en is heeltemal te bedeesd vir ‘n student of ‘n vroulike bestuurder. Ons Up-toetsmotor was dan ook met VW se winterpakket wat verwarmers vir die voorste sitplekke insluit, toegerus. Dit is ‘n opsionele ektra, maar selfs met dié ekstra troef die Up die ander twee motors se prysetikette.

Enjin en brandstoverbruik

Citroen C1-paneelbord
Citroen C1-paneelbord

Citroen se C1 is toegerus met 1,2-liter-, 3-silinderenjin wat 60 Kw en 116 Nm lewer. Brandstofverbruik is dan ook die mees ekonomiese van die drie teen 4,3 l/100km en die C1 se uitlaatgassyfer is 99g CO2 per km. Ons kon nie heeltemal by Citroen se brandstofverbruiksyfer uitkom nie, maar het ‘n 5,1 l/100km aangeteken. Die Opel Adam wat ons bestuur het, was die 1,4-literweergawe met 74 Kw en 130 Nm se wringkrag. Opel gee die brandstofverbruik aan as 5,3l/100km en ons kon 5,5l/100km aanteken. Die feit dat die Adam se enjin heelwat groter as die C1 se enjin is, dink ons het gehelp om die syfer nader aan dié van die vervaardiger te laat strek. Uitlaatgassyfers vir die Adam is ook 125g/km, juis omdat die enjin groter is en dus meer brandstof verbrand.

VW Move Up-beenspasie
VW Move Up-beenspasie

Die VW Up het ons weereens die meeste verbaas. Die Move Up-weergawe wat ons bestuur het se 1,0-liter 3-silinderenjintjie is seepglad en voel en klink sommer baie sterker as wat die syfers aantoon. Die enjin lewer 55 KW en 95 Nm se wringkrag, maar op die pad was daar nie eers ‘n vergelyking met die ander twee motors nie. Beide die C1 en die Adam voel asof die enjins hard moet werk om die optimale verrigting daaruit te kry en in die heuwels van Waterkloofrif kon ‘n mens gou-gou agterkom die Citroen en die Opel is eintlik slegs vir die stadsverkeer gepas. Die Up aan die ander kant ry en voel soos ‘n groot motor, daar is geen aanduiding dat die enjin hard werk of sukkel nie. Die Up se uitlaatgassyfer is dan ook 108g/km en VW gee die verbruik aan as 4,7/100km. Ons kon ‘n syfer van 4,8 km/100 aanteken. Dit beteken ek het van Pretoria na Bloemfontein en weer terug gereis en slegs 44 liter brandstof gebruik!

Prys

Opel Adam-beenspasie
Opel Adam-beenspasie

Mens sien die motors en dink wel hierdie motor behoort nie meer as soveel te kos nie, dan beskou jy die prys en besef net eintlik hoe belaglik duur motors is. Die Citroen C1 VTi82 Airscape het ‘n prysetiket van R194 900. Die Opel Adam 1.4 kos R189 900 terwyl die Volkswagen Move Up jou R143 000 uit die sak gaan jaag. Nou, om dit in perspektief te stel, vir R194 030 wat die C1 jou sal kos, kan jy ‘n veel groter Ford Fiesta 1,4 Ambiente koop. Vir die Opel Adam se R189 900 kan jy ‘n Mazda 2 1,5 Active teen R188 000 of die splinternuwe Opel Corsa 1.0T Essentia teen R185 500 aanskaf, wat beide groter motors is en oor sterker en moderner enjins beskik.

Citroen C1-beenspasie
Citroen C1-beenspasie

Die VW Move Up aan die anderkant is ‘n wenner met sy prys, vir dieselfde geld gaan jy sukkel om selfs ‘n ougenerasie- “nuwe” motor met dieselfde spesifikasie en veiligheid te koop. Fiat se Panda 1.2 Lounge kos R169 000, Honda se Brio 1,2 Comfort is R148 000 en Hyundai se Grand i10 1.25 Motion sal jou R149 900 uit die sak jaag en nie een van die drie motors bied die rygerief of krag-tot-massaverhouding of brandstofverbruik, om nie eers van die Volkswagen-naam te praat nie. Selfs nie eers VW se eie goedkoopste ougenerasie- “nuwe’ Polo Vivo 1,4 Conceptline bied wat die Move Up bied nie en die Vivo is bykans R2000 duurder (R144 900) as die Move Up.

Gevolgtrekking

Na ons mening sal enige iemand wat ‘n splinternuwe motor wil aanskaf en nie die VW Move Up ernstig oorweeg nie ‘n baie groot fout begaan. Die motor is net in ‘n klas van sy eie. Ons enigste klagte teenoor die Move Up is die feit dat hy slegs in 3-deurgewaad beskikbaar is. In Europa is hy wel in die 5-deur beskikbaar en sou hy plaaslik bekendgestel word, sal ek persoonlik eerste in die ry staan vir een!

Citroen C1 VTi82 Airscape

Prys 2 uit 5
Voorkoms buite 4 uit 5
Binneruimgehalte en afwerking 3 uit 5
Ruimte en praktiese toepassing 3 uit 5
Agter die stuur 3 uit 5
Enjin en ratkas 4 uit 5
Op die pad 4 uit 5
Veiligheid 5 uit 5
Totaal 28 uit 40

Opel Adam 1.4

Prys 3 uit 5
Voorkoms buite 4 uit 5
Binneruimgehalte en afwerking 4 uit 5
Ruimte en praktiese toepassing 3 uit 5
Agter die stuur 3 uit 5
Enjin en Ratkas 4 uit 5
Op die pad 4 uit 5
Veiligheid 5 uit 5
Totaal 30 uit 40

 

 

Volkswagen Move Up!

Prys 5 uit 5
Voorkoms buite 4 uit 5
Binneruimgehalte en afwerking 5 uit 5
Ruimte en praktiese toepassing 5 uit 5
Agter die stuur 5 uit 5
Enjin en ratkas 5 uit 5
Op die pad 4 uit 5
Veiligheid 5 uit 5
Totaal 38 uit 40

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.