Clive Derby-Lewis gemuilband deur paroolvoorwaardes

Deel op

Die lewenslange politieke gevangene en voormalige KP-parlementslid, Clive Derby-Lewis, is vir alle praktiese doeleindes die swye opgelê deur die strengste paroolvoorwaardes wat enige oudgevangene in die land nóg ontvang het. Die paroolvoorwaardes is so streng dat ‘n biografie oor die oudpolitikus deur die aktrise en skryfster Elma Potgieter, en wat in beginsel vir publikasie deur Uitgewery Praag goedgekeur is, dalk in die gedrang mag kom.

Dr. Dan Roodt van Praag sê: “Ek het aan die begin van die week met mev. Gaye Derby-Lewis gesels, maar toe het sy nog nie geweet wat die voorwaardes vir Clive se mediese parool gaan wees nie. Sedertdien het ek nog nie weer met haar gepraat nie, maar die feit dat hy glad nie met die media mag praat nie en verbied word om onderhoude te voer, mag die publikasie van Elma Potgieter se boek oor hom in die gedrang bring. In weerwil van sy ander gebreke en dubbelsinnighede, waarborg die huidige grondwet van Suid-Afrika spraakvryheid aan elkeen, selfs ‘n oudgevangene soos mnr. Derby-Lewis. Hy behoort tog oor die Suid-Afrikaanse geskiedenis en sy lewe in die politiek te mag praat? Terroriste soos Robert McBride wat veel erger misdade as Derby-Lewis gepleeg het, word geensins die swye opgelê nie.”

Volgens berigte elders, verkeer Derby-Lewis onder ‘n soort huisarres omdat hy nie eens sonder toestemming in die straat mag loop of kerk toe gaan nie, nóg ‘n glas wyn of bier of ander alkohol drink nie. Hy word streng dopgehou en sy paroolbeampte is die departement van korrektiewe dienste se waarnemende streekkommissaris in Gauteng.

Mev. Clive Derby-Lewis het aan Rapport gesê dat haar man “’n werk as ‘administratiewe beampte’ aangebied (is) wat hy uit sy slaapkamer sal kan doen”.

Volgens haar is “hy baie moeg van al die opwinding en moet hy homself dwing om te eet omdat hy vanweë die chemoterapie nie ’n aptyt het nie.

“Ek dwing hom om te eet anders sal hy te swak wees om die longkanker te probeer beveg. Dokters het hom net ses maande gegee om te leef, maar ons glo net die almagtige God sal besluit wanneer dit sy tyd is om te gaan,” sê sy.

Derby-Lewis word verder “vir hipertensie en hartversaking behandel. Die prostaatkanker wat vroeër by hom gediagnoseer is, verkeer in remissie”. Sy meen dat dit “fantasties” is om haar man, met wie sy sedert 1986 getroud is, tuis te hê, ná ‘n jare lange hofstryd teen die staat wat deur die Kommunistiese Party voorgesê is.

 

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.