Die mark groei, maar Afrika is nie eens ‘n piesangrepubliek nie

Deel op

Die wêreldwye mark vir piesangs is besig om toe te neem, maar Afrikalande is ver agter by Latyns-Amerika om in dié behoefte te voorsien. Volgens die VN se Voedsel- en landbou-organisasie het die produksie van piesangs sedert 1990 verdubbel. Die gemiddelde, globale verbruik van piesangs het van 10 kg per kop per jaar met 50% gestyg tot 15 kg per kop (sien onderstaande grafiek). Tans voer ontwikkelde lande ongeveer 10 kg per kop piesangs per jaar in, terwyl die res van die mark uit eie bronne voorsien word. Frankryk beskik byvoorbeeld oor kolonies buite Europa wat gedeeltelik in sy behoeftes voorsien, terwyl piesangs ook in die VSA verbou word.

Een van die lande waar die verbruik van piesangs die skerpste gestyg het, is in Rusland. In die ou Sowjetunie was piesangs vir baie Russe ‘n groot luukse en het die vraag na piesangs sedertdien toegeneem, hoewel dit nog onder die vlak van die meeste Wes-Europese lande verkeer. Nog ‘n kenmerk van die Wes-Europese mark vir piesangs is dat verbruikers “organiese” piesangs verkies wat teen ‘n premie vergeleke met gewone piesangs verkoop word. Veral in Denemarke en Switserland is die vraag na organiese piesangs baie hoog, met Duitsland, Brittanje en Frankryk ‘n kortkop agter dié twee lande.

Piesanverbruik wêreldwyd. Bron: Voedsel- en landbou-organisasie
Piesangverbruik wêreldwyd. Bron: Voedsel- en landbou-organisasie

Hoewel Ecuador se markaandeel oor die afgelope paar jaar gedaal het, het dié land tot redelik onlangs een derde van die wêreld se uitvoermark in piesangs oorheers, ‘n ware “pieasangrepubliek”. In Afrika is dit slegs twee voormalige Franse kolonies in Wes-Afrika, Kameroen en die Ivoorkus, wat hoegenaamd piesangs uitvoer en dan veel minder as Ecuador en ander Latyns-Amerikaanse lande (sien onderstaande grafiek).

 

Wêreld-piesanguitvoere
Wêreld-piesanguitvoere

Hoewel Suid-Afrika die grootste produsent van pomelo’s ter wêreld is, asook ‘n vername speler in ander sitrusvrugte, voer die land feitlik geen piesangs uit nie, terwyl ‘n klein hoeveelheid wel ingevoer word.

Nog ‘n land waar piesangverbruik groei toon, is Japan en ‘n Japanse miljoenêr het onlangs aangekondig dat hy saam met ‘n Kambodjaan gaan werk om piesangs in Kambodja gaan kweek om na Japan in te voer.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.