Gay vlugteling laat vaar hofgeding in Namibië

Deel op

Die Ugandese man wat vlugtelingstatus­ in Namibië gesoek het omdat hy homoseksueel­ is en mense van dié ‘minderheidsgroep’ in Uganda vervolg word, het nou in Kanada aansoek om asiel gedoen.

Kris Kelly (21) het verlede jaar daarin geslaag om ’n hofbeve­l te kry wat Namibië se immigrasie-­owerhede verbied om hom uit Namibië te deporteer. Hy het in Desember 2013 homself by die polisiekantoor­ in Walvisbaai as ’n vlugteling van Uganda aangemeld.­

Volgens Namibies­e immigrasie­beamptes­­ het Kelly egter eers beweer hy is van Barbado­s in die Karibiese Eilande afkomstig. Kelly, wat geen identiteitsdokumente­ het nie, het glo vir die beamptes­ vertel hy is in Oktober 2013 in Bridgetown­, Barbado­s, deur vyf onbekende­ mans ontvoer. Dié mans het na bewering vir Kelly op ’n boot gevange gehou totdat hy naby die Namibiese kuslyn van die boot afgespring­ en ontsnap het.

Kelly beweer egter hy het sy geboorteland­, Uganda, in November­ 2013 verlaat, omdat hy weens sy seksuele voorkeur in Uganda vervolg word.

In sy beëdigde verklaring­ beweer Kelly Namibiese­ immigrasiebeamptes­ het, ten spyte van die hofbevel, hom op 29 November­ 2014 oor die Namibiese­ grens na Lusaka in Zambië geneem. In Lusaka is hy glo per vliegtuig­ ­na Naïrobi en toe Entebbe in Uganda toe gestuur. Hy beweer die Ugandese­ owerhede­ het geweier om hom in die land toe te laat en dat hy teruggestuur is Lusaka toe.

’n Verteenwoordiger van die Verenigde­ Nasies se Hoë Kommissariaat­ vir Vlugtelinge­ (UNHCR) het na bewering vir Kelly in Lusaka besoek en vir hom gesê hy is wederregtelik deur Namibies­e owerhede uit die land gedeporteer.

Hy het verlede maand wéér die hoërhof genader vir ’n bevel dat hy uit aanhouding by die polisieselle­ op Seeis vrygelaat moet word. Kelly het ook die hof gevra om te las dat hy by die Osire-­vlugtelingskamp­ geplaas word, terwyl hy probeer om die besluit om nie vir hom vlugtelingstatus­ in Namibië te gee nie, uit te daag. Kelly se appèl in April teen dié besluit het misluk.

Kelly se regsverteenwoordiger, Norman Tjombe, het egter gister tydens ’n vlugtige verskyning­ in die hoërhof vir Republikein gesê dié hofaansoek sal moontlik­ teruggetrek­ word. Volgens hom sal die saak eers teruggetrek word sodra Kelly se aansoek om asiel in Kanada aanvaar word en ’n paspoort­ aan hom uitgereik word.

“Die Namibiese regering wil nie ’n presedent skep dat vlugtelingstatus­ op die grondslag­ van ’n persoon se seksuele­ voorkeer­ gegee sal word nie. Hoewel ons hierdie stryd nie voltooi het nie, het ons die gesprek begin,” het Tjombe gesê.

Bron: Die Republikein

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.