IMF voorspel groei vir Afrika

Deel op

Na ramings van die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) word groeikoerse van 5,5% oor vyf jaar vir Afrika voorspel. Indien infrastruktuur verbeter, kan dit selfs hoër wees.

Energie en finansiering vir infrastruktuur was Donderdag die oorheersende temas met die Afrika-­beraad van die Wêreld- Ekonomiese Forum (WEF) wat in Kaapstad afgeskop het.

Minstens ‘n duisend afgevaardigdes, die meeste vir die WEF-Afrika-byeenkoms nog, het ministers van finansies en die hoofde van sentrale banke ingesluit.

Tans is minder as 13% van die handel in Afrikalande tussen Afrikalande weens gebrekkige vervoerinfrastruktuur en burokrasie.

Leiers by die beraad het het ‘n beroep gedoen op die Verenigde Nasies om geslagskwessies, kinderregte en die uitwissing van armoede in Afrika teen 2030 as sy hoofdoelwitte vir die Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte vir die vasteland stel.

Die Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte sal die VN se Millennium-ontwikkelingsdoelwitte vervang wanneer daar later vanjaar in New York daaroor besin word. Twee miljard dollar sal glo oor die volgende 15 jaar aan dié doelwitte bestee word.

Mynmaatskappye wat die WEF-beraad bygewoon het is gevra om dreigende grootskaalse afleggings in te perk. Die mynbedryf sal na verwagting duisende poste inboet, weens lae kommoditeitspryse en hoë insetkoste.

Die minister van minerale hulpbronne, Ngoako Ramatlhodi het by die Wêreld Ekonomiese Forum in Kaapstad gesê hy het slapelose nagte oor die bedryf. Hy sê maatskappye moet die regering en vakbonde insluit in enige besluite om hul werkmagte te besnoei.

Die voormalige presidentsvrou van Suid-Afrika en Mosambiek Graca Machel, het tydens ‘n paneelbespreking by die WEF gesê sy dink nie veel vordering is gemaak deur vroue in Afrika se ekonomieë nie.

Sy sê Afrika het twee ekonomieë, een formeel en die ander informeel. Die informele sektor word deur vroue oorheers, maar dit is meestal ‘n stryd om oorlewing en nie vooruitgang nie.

Vroue is grootliks afwesig in die formele ekonomie, het sy gesê.

Die minister van toerisme, Derek Hanekom het gister by die Wêreld Ekonomiese Forum gesê die regering is besig om die nuwe visum-vereistes vir minderjariges te hersien, te midde van tekens dat dit reeds die toerismebedryf negatief raak.

Die nuwe visum-regulasies het Maandag van krag geword. Toerisme dra sowat tien persent van Suid-Afrika se bruto binnelandse produk by.

Net twee Afrika-staatshoofde, pres. Jacob Zuma en pres. Abdel Fattah el-Sisi van Egipte, sal egter die beraad bywoon.

Na verwagting sal ‘n groter aantal van die vasteland se leiers byeenkom vir die spitsberaad van die Afrika-Unie aanstaande week in Johannesburg.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.