Wolk hang oor Sepp Blatter

Deel op

Die president van die sokkerbeheerliggaam, FIFA, Sepp Blatter, het Dinsdag sy bedanking aangekondig.

Bewerings van korrupsie in die liggaam is steeds besig om verder uit te kring. Die 79-jarige Blatter het met die aankondiging van sy uittrede gevra dat ‘n buitengewone kongres belê word om ‘n opvolger vir hom te kies.

Die VSA ontken dat hulle meegewerk het om van Blatter ontslae te raak. Die State Department se senior raadgewer vir strategiese kommunikasie, Marie Harf, het laggend gesê Amerika huldig “geen posisie” oor FIFA nie.

Amerikaanse borge Coca-Cola Co, Visa, Adidas AG en Anheuser-Busch het intussen verklaar dat hulle Blatter se bedanking verwelkom.

‘n Woordvoerder van Visa, Andrew Woodward het gesê: “Die probleem is opgelos. Dit was die groot hindernis.”

Switserse owerhede het gesê Blatter is nie onder verdenking van korrupsie nie.

Blatter is verlede week herkies as President ondanks die feit dat sewe van FIFA se topamptenare twee dae voor sy verkiesing in hegtenis geneem is.

Die Amerikaanse prokureur-generaal ondersoek bewerings dat senior FIFA-amptenare deur die Suid-Afrikaanse owerheid omgekoop is.

Die Amerikaanse Departement van Justisie se ondersoek na korrupsie by FIFA is glo in sy beginfase.

Die departement wou hom egter nie uitlaat oor die uittrede van die president van FIFA, Sepp Blatter so kort nadat hy herkies is nie.

Bronne na aan die ondersoek het wel aan nuusorganisasies onthul dat Blatter ook in die visier is.

Die Amerikaanse departement het verlede week toe amptenare in hegtenis geneem is, gesê dat Blatter nie kwytgeskeld is nie.

Die prokureur-generaal, Loretta Lynch het verlede week verwys na “onbeheerste, sistemiese en diepgewortelde korrupsie” by die organisasie.

Die minister van sport, Fikile Mbalula sal Woensdag ‘n media-inligtingsessie hou om die jongste bewerings van die regering se betrokkenheid by FIFA-omkopery te bespreek.

Mbalula ontken dat enige Suid-Afrikaners omkoopgeld betaal het om te verseker dat Suid-Afrika die bod vir die 2010 wêreldbekertoernooi wen.

Volgens berigte was die regering bewus van ‘n oordrag van sowat R120 miljoen aan ‘n Karibbiese ontwikkelingsfonds.

Mbalula die bewerings as ‘n aanval op Suid-Afrika se soewereiniteit beskryf.

Vroeër het president Vladimir Poetin in ‘n onderhoud gesê die ondersoek na beweerde korrupsie is teen Rusland gemik wat gekies is om die Wêreldbekertoernooi in 2018 aan te bied. Hy het dit ook as ‘n aanval op soewereine lande beskryf.

‘n Brief het egter vandeesweek aan die lig gekom waarin die president van SAFA, Molefi Olifant ‘n versoek aan FIFA rig dat tien miljoen dollar aan die Karribiese Diaspora-fonds oorbetaal word.

FIFA het dit duidelik gestel dat die versoek van die Suid-Afrikaanse regering af gekom het, maar het geen name genoem nie.

Verskeie Amerikaanse nuusorganisasies berig intussen dat die president van FIFA, Sepp Blatter wel ondersoek word. Hulle haal wetstoepassers in die land aan wat sê dat Blatter verdink word van ongerymdhede.

Dié onthulling volg ure nadat Blatter sy uittrede aangekondig het, en slegs dae nadat hy vir ‘n vyfde termyn herkies is.

Volgens bronne van die New York Times en andere, hoop die Amerikaanse ondersoekers om ‘n saak teen Blatter te bou met behulp van diegene wat reeds aangekla is. Veertien mense is al in FIFA se korrupsieskandaal aangekla.

Blatter het deur ‘n tolk gesê hy sal aanbly as president totdat ‘n nuwe een gekies word.

FIFA se sekretaris-generaal, Jerome Valcke, het sy reis na Kanada vir die opening van die Vroue-Wêreldbekertoernooi gekanselleer te midde van die huidige ondersoek na korrupsie in wêreldsokker.

‘n Woordvoerder, Delia Fischer, sê weens die huidige situasie sal Valcke nie die naweek se openingswedstryd tussen Kanada en China in Edmonton bywoon nie

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.