Afrikaners en politieke werklikhede

Deel op

Image10:58:41 In sy stuk, Afrikaners moet realisties wees, pak JH du Toit sy krismisboks pakkie vir pakkie uit.  Dit is egter nie moontlik om enige verassing of nuwe nuanse by hom te vind nie.

Deel op

Dis weer dieselfde geykte uitdrukkings, weer dieselfde clichés, soos: "Die idee dat jonger Afrikaners hul etnisiteit herontdek weens 'n hunkering na volksidentiteit is net so onakuraat as die mitiese 'Boerevolk' waarna hy verwys. Die term 'Boerevolk' is kontensieus en nie juis goed gegrond as 'n historiese etnisiteit of gepaardgaande naam nie. Die woord 'Boer' was ook 'n skelwoord soos 'kaffer' wat deur die Engelse aangewend is."  

Hierdie mening het ek reeds ad nauseam gehoor.  Maar ek het nog nooit van iemand gehoor wat deur die term "Boer" beledig gevoel het nie.

Du Toit is waarskynlik heeltemal onbewus van die feit dat baie hoërskoolseuns vierkleure vandag agter op hul skooltasse verf.  Kom, ek wed jou Du Toit het nie die verhoogstuk, "Ons vir jou", gesien nie.   Verder verwed ek 'n honderd rand dat hy lid van die Broederbond was, en tans 'n ywerige ondersteuner van die Afrikaanse Taalraad is, gekoppel aan die FAK, Afrikanerforum of Solidariteit.

 Laasgenoemde is prysenswaardige instansies wat, soos du Toit, hulself geroepe voel om die Afrikanervolk te red.  Maar die probleem is dat die Afrikanervolk nie gered wil wees nie, omdat daar nie meer soiets soos 'n Afrikanervolk bestaan nie.  Die Afrikanervolk was 'n projek wat die Nasionale Party en sy telge moes voed, maar waarvan die gom verweer het.   

Volksnasionalisme  is nog altyd aan staatsmag gekoppel. Soos ander ideologieë het dit ook 'n rakleeftyd.  Die geskiedenis het geleer dat op enkele uitsonderings na, nasionalismes 'n rakleeftyd van twee tot drie geslagte het.  Nasionalisme kan beskryf word as die ideologie van volke se geïndividualiseerde bestaan, 'n ideologie van sosiale begrensing, van sosiale kontinuïteit en van sosiale gelyksoortigheid, maar  wat tog verskeidenheid kan insluit.  Dit is die ideologie van 'n sosiale realiteit wat as die konsep van nasieskap ontstaan het en meelopend is met die twee dimensies van tyd en ruimte.

  Binne tydverband omlyn die geskiedenis 'n volk en die integriteit van sy landsgrense identifiseer 'n nasie in ruimtelike verband.  Hierdie twee werklikhede is die hoofbestanddele van 'n nasie se selfidentifikasie en soewereiniteit.  Die nasie vertolk sy geskiedenis en daardie vertolking sal verander as die nasie sou verander.  So ook die landsgrense.  'n Volk se eksklusiewe aanspraak op die landsgrense is slegs geldig solank hy die staatsmag beheer.  Wanneer hy daarvan afstand doen, dan maak sy opvolger aanspraak op daardie ruimte.  Dan verloor 'n volk sy volkskap en word sy lede tot enkelingburgers gereduseer.

Hiermee vervaag Du Toit se veralgemeende stellings van die Afrikanerdom tot irrelevante bespiegelings.

George Orwell skryf in 1945: "Nationalism is power-hunger tempered by self-deception."  Destyds het hy na die Duitse, Italiaanse en Britse nasionalismes verwys, maar sy insigte van destyds kan net so op die Afrikanervolk van toepassing gemaak word.  Orwell beweer dat nasionaliste hulself bedrieg deur aan hul eie meerderwaardigheid te glo, selfs wanneer die feite tot die teendeel hulle in die oë staar.  Hy sê dat 'n nasionalis tot die mees flagrante selfbedrog en oneerlikheid in staat is, maar die wete dat sy wandade in belang van iets gepleeg word wat groter is as hy, naamlik vir die saak, maak hom absoluut seker dat hy slegs die waarheid en geregtigheid deur sy optrede dien.  Enigiets wat trou aan die saak bevorder is toelaatbaar, maar feite met 'n negatiewe strekking word as verkeerd verwerp.  Sulke feite moet geplooi of verswyg word om die saak na behore te dien.

Tydens die dekades tussen die depressiejare en Republiekwording is die Boere en die Cape Dutch onder die begrip "Afrikaners" of "die Afrikanervolk" in een kraal gejaag.  Sommige geskiedskrywers beweer dat die etniese ontwaking van Afrikanerdom, oftewel die Afrikaners se volksnasionalisme, deur die herdenking van die 1938-ossewatrek ingelui is. By die "Ekonomiese Volkskongres" van 1939 is besluit dat Afrikaners 'n groter aandeel in die Suid-Afrikaanse ekonomie moes verkry.  Hierna het 'n etnies gebaseerde kapitalisme ontwikkel, wat bestuur en gedryf is deur SANLAM, Federale Voksbeleggings, die  Broederbond met sy tentakels in die Afrikaanse media, die Nasionale Party, die veiligheidsdienste, die akademie en die semistaatsinstellings. Baie van u was seker by die Voortrekkermonument in 1947 om die ontluiking van die Afrikaners se volksnasionalisme te ervaar.  'n Jaar later het etnies gesinde Afrikaners die staatsmag deur die Nasionale Party verkry.  

Jong professionele ingenieurs, regsmense, finansiële bestuurders, nyweraars, bemarkers, ja, noem maar op, het met sterre in die oë hul loopbane in die staatsdiens en by hierdie Afrikanerorganisasies begin.  Hulle wou vir die saak werk.

Baie het geglo dat daardie netwerk ontwikkel moes word om die Nasionale Party te dien.  Aanvanklik mag dit wel die geval gewees het, maar teen die sewentigerjare was die werklikheid andersom.  Die party het sakebelange begin dien.  Praktiese politiek is deur sakebelange bepaal. Beklee met staatsmag, kon Afrikaners op die hele Suid-Afrika aanspraak maak en is die Afrikanervolk se soewereiniteit deur die onaantasbaarheid van ons landsgrense en die standardisering van sy gekiedenis bevestig.  Lees gerus weer die jubelende volksliedere in die FAK-sangbundel om hierdie emosie te kan waardeer.

Afrikanersentiment het die Afrikanerbesighede laat groei met die oprigting van banke, bougenootskappe, versekeringswese ens. Regeringsbeleid het Afrikaners opgehef, sodat daar min werkloosheid onder Afrikaners was.  'n Groot deel van die jaarlikse fiskus het deur Afrikanerwerkers se hande gevloei en in die koffers van Sanlam, Volkskas, en Afrikaanse pers beland. Semistaatsbedrywe soos die poswese, spoorweë, Yskor en SASOL was die net wat Afrikaners van 'n loopbaan verseker het en wat Afrikanerdom se geldmag en invloed verder uitgebrei het.  Hierdie instellings het op Afrikanersentiment gedy en binne twee dekades kon enorme finansiële mag uitgeoefen word. Maar dit was teen 'n prys.  Teen die middel-sestigerjare het Afrikanernasionalisme sy eerste treë gegee wat dertig jaar later tot sy ondergang sou lei.

In 1965 het dr. Verwoerd vergeefs teen Federale Volksbeleggings se stap gewaarsku om nie die geheimsinnige internasionale wêreld van die mynwese te betree nie, aangesien die oorlewingstrategie van Afrikanerdom reëlreg met die mynhuise se belange gebots het. Die Britsbeheerde mynhuise het Afrikanerdom se politieke heerskappy as 'n verbygaande ongerief beskou en tydelik aanvaar.  Hulle het dus planne gesmee om die Afrikanerdom onder beheer van die mynmagnate te bring.  Die oorname van General Mining en later Union Corporation was die eerste ernstige stap vir die Afrikanerdom om die geheimsinnige binnekring van 'n  volksvreemde domein te betree wat voorheen as die Afrikanerdom se grootste vyand beskou is.  Dit was die enigmatiese skemerwêreld van die internasionale geldmag.

'n Gaping is doelbewus vir die Afrikanerdom oopgelaat waarin die stryd tussen etnisiteit en groot besigheid beslis sou word.   Tot almal se verbasing is aangekondig dat van kredietfinansiering gebruik gemaak sou word om die oorname van General Mining deur Afrikaanse sakebelange moontlik te maak.  Met 'n enorme skuldlas en die vooruitsig van 'n pot goud aan die einde van die reënboog sou invloedryke Afrikaners voortaan onder 'n vreemde juk moes trek.  Die probleem was egter dat slegs die Boeregedeelte van die Afrikanerdom enige etniese gewete gehad het. Die res is gerieflikheidshalwe as Afrikaners gekategoriseer.

Afrikanernasionalisme was voorheen op etniese kapitalisme geskoei en het daarmee saam gegroei. Etniese kapitalisme was 'n netwerk wat alle fasette van die Afrikaner se bedryfs- en kultuuromgewing, soos 'n reusevisnet bymekaar gehou het.  Teen 'n muur van die FAK se kantoor by die VTM pryk die organisasiewapens of embleme van 32 organisasies wat in brons gegiet is.  Name soos Federale Volksbeleggings, Sanlam, Yskor,  FAK, Die Rapportryers, Voortrekkers, SAS&H, Volkskas,  SA Akademie vir Kuns en Wetenskap, General Mining, SASOL, ens.  Hierdie organsasies is gestig om die Afrikanersaak te dien en was inderdaad die Afrikanervolk se erfporsie. Hierdie name was dus die kernpunte of nodusse van Afrikanernasionalisme.

'n Nodus is een van die baie knooppunte in 'n net, wat deur skakels aanmekaar verbind word.  Daardie net het soos 'n elastiese spinnerak gewerk waarop die spinnekop van nasionalisme sy prooi kon vang en isoleer.  Ná die magsoorgawe van 1994 het die net geskeur en gedisintegreer deurdat sy nodusse opgegaan het in die proses van transformasie. Die Broederbond het irrelevant geword en is deur die Native Club vervang.  Afrikanerorganisasies is nou ten volle getransformeer.  Die enjinkamer van die mitiese Afrikanervolk is uitmekaargehaal.

Gedurende die sestiger- en sewentigerjare en daarna het Afrikaners se volksnasionalisme derhalwe in 'n staatsnasionalisme verander.  Die klem het begin val op die witman en nie meer op die begrip Afrikaner nie. Die terminale sterfproses van Afrikaners se volksnasionalisme het begin. Sedert 1994 is daardie proses bloot voortgesit om ook die ander volksgroepe in die nasionale begrip in te sluit. Die towerwoord is inklusiwiteit op sport-, godsdiens-, akademiese, sake- en kultuurgebiede. Etnisiteit moet uitsterf om plek te maak vir 'n nuwe heterogene kultuur wat die nuwe mites en nuwe amptelike geskiedenis van 'n nuwe nasie moet weerspieël. Afrikaners moet uitreik na veral ander Afrikaanssprekendes sodat Afrikaners hul invloedsfeer kan verbreed.  Die term Afrikaner moet deur Afrikaanse mense of Afrikaanses vervang word.  Loslit- en oopgulp-Afrikaans, "songs" en kunstefeeste moet die mark vir die Afrikaanse media onder alle kultuurgroepe bevorder.  Die term "volk" het die vyand van die taal geword.

Van Wyk Louw se Afrikanernasionalisme wat vroeër 'n volksnasionalisme was, het van John Vorster se tyd die fondament van 'n nuwe staatsnasionalisme geword wat sakebelange moes dien.   Daardie nuwe staatsnasionalisme is gebou op die Afrikaner se volksnasionalisme en het die etniese volksgevoel en samehorigheid van Afrikaners doodgesmoor.  Met die verlies aan staatsmag in 1994 en gepaardgaande weersin wat Afrikaners in die nuwe staatsbestel ontwikkel het, is die hoofaarinspuitings wat Afrikaners voorheen daagliks deur die propagandamasjien gevoer is, afgesny en het staatsnasionalisme sy laaste asem uitgeblaas.

Is hierdie genoegsame bewys dat die Afrikanervolk 'n projek was? Hoe verdedig 'n lid van die Afrikaanse gemeenskap homself teen die internasionale reg wat beweer dat Afrikaners net so uitheems is as wit Australiërs, Kanadese of Amerikaners?  Waarom het 'n Boer nie dieselfde probleem nie?

Hoe kan Du Toit die bestaan van die Boerevolk bevraagteken? Sy verwysing na die AWB is 'n duidelike bewys van sy onkunde van die moderne geskiedenis. Die AWB het niks met die Boerevolk uit te waai nie, maar is weereens 'n NP-regeringsprojek wat deur oudpremier JB Vorster aangevoor is.

Ek sal op 'n ander geleentheid weer na die gesuiwerde ANC verwys.

no deposit winФильчаков Александр Васильевич

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.