Dan Roodt: 31 Mei 2015: Om op Republiekdag Engels te voel

Deel op

Opgedra aan mnr. Clive Derby-Lewis, ‘n Engelse Afrikaner wat ná 21 jaar in die gevangenis sedert Vrydag op mediese parool vrygelaat is.

Soos Martin Bosma van die Nederlandse PVV wat vandeesweek ‘n boek oor Afrikaners gepubliseer het, is ek versot op die oranje-blanje-blou vlag, die Prinsevlag. Vier-en-vyftig jaar gelede, op 31 Mei 1961 om presies te wees, is Kerkplein in daardie kleure gedrapeer en het Suid-Afrika onder dr. HF Verwoerd as eerste minister en met adv. C.R. Swart as eerste president ‘n republiek geword. Vyf jaar later, kort voor die tweede en noodlottige sluipmoord op hom, het ‘n kwartmiljoen mense by die Voortrekkermonument opgedaag om die vyfjarige bestaan van die Republiek te vier.

Hoewel die Engelssprekendes van Natal in hul massas tydens die referendum van 1960 téén republiekwording gestem het, was Verwoerd se visie een van ‘n verenigde blanke republiek wat deur onafhanklike swart state (“tuislande”) omring sou wees, met die bruin en Indiërminderhede wie se politieke regte deur minderheidsregte ondervang sou word, ‘n bietjie soos dié van swartes in die VSA. (Hoewel Verwoerd kwalik regstellende aksie en gedwonge integrasie soos in die VSA sou instel.)

Iemand moet nog ‘n boek skryf oor “die buitestaander in die Afrikanerpolitiek”, want ons grootste leiers was juis sulke buitestaanders: JBM Hertzog, ‘n skamerige regsgeleerde wat geen groot orator was nie, maar wie se vurige patriotisme ‘n groot stukrag agter ons volks- en taalnasionalisme gedurende die twintigste eeu was. Dit was ook onder Hertzog dat C.J. Langenhoven se “Die Stem” as volkslied aanvaar is, tesame met die oranje, wit en blou Prinsevlag. Nie net word die Prinsevlag vandag baie sterk met Afrikaners geassosieer nie, maar dit is ook ‘n oeroue Europese vlag wat vir die eerste keer in 1572 in die Nederlandse dorpie Den Briel gehys is, die eerste plek wat van die Spaanse Ryk bevry is.

Sowel Clive Derby-Lewis as Hendrik Verwoerd was buitestaanders, wat moontlik nie altyd deur hul volksgenote as rasegte “Boere” aanvaar is nie. Terwyl Verwoerd op die kruin van Afrikanermag in die sestigerjare gestaan het, is Derby-Lewis se verhaal een van gevangenskap en smaad deur die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty toe die Afrikaner-binnestaander, FW de Klerk, teenoor die uitheemse kommuniste Joe Slovo en Nelson Mandela gekapituleer het. Verwoerd is vermoor; Derby-Lewis is verneder. Terroriste soos Aboobaker Ismail, outeur van die Kerkstraatbom en Robert McBride, wat vir die Magoo’s Bar-bom verantwoordelik was, is lag-lag kwytgeskeld terwyl Derby-Lewis aanvanklik die doodstraf – deur ‘n Afrikanerregter! – opgelê is.

Verwoerd was ‘n gebore Hollander, ‘n “Kaaskop” soos ons so dikwels neerhalend na Nederlanders verwys. Nietemin het hy sy persoonlike en politieke lot so intens by ons volk ingegooi dat daar feitlik geen groter Afrikanerfiguur in die twintigste eeu was nie. Wat hy vermag het, om die eerste aanslag van die globale mengkultuur in 1960 af te slaan en vir ons ‘n eie republiek te ontworstel, is deur niemand sedertdien geëwenaar nie. Die “Verwoerdstelsel” van ‘n sterk en ekonomies welvarende Suid-Afrika wat deur bufferstate in die noorde beskut is, was onoorwinlik. Slegs die strategiese foute van sy nakomelinge en interne verraad deur ‘n verskeidenheid Afrikaners, sou dit ongedaan maak.

Jare lank het Verwoerd hom as redakteur van Die Transvaler afgesloof, ‘n koerant wat geen advertensies van die Sapgesinde Johannesburgse sakemanne ontvang het nie. Dat die koerant tot 1948 oorleef het, was op sigself ‘n wonderwerk. Toe die Nasionale Party eers ná 1948 aan bewind was, het die gety gedraai en was daar toenemend adverteerders in die koerant, iets waarvan Verwoerd-hulle in die beginjare maar net kon droom.

Afgesien van sy Nederlandse geboorte, was daar nog iets vreemds aan Verwoerd: Hy het in Engels skoolgegaan, in die ou Rhodesië! Vandag is daar Afrikaners wat Australië of Nieu-Seeland toe emigreer en binne twee, drie jaar is hul kinders totaal en al verengels. Daar was ‘n minderheid Engelssprekende Rhodesiërs met Afrikaanse vanne en Verwoerd kon seker een van hulle geword het. Ondanks sy Engelse opvoeding het hy agterna aan die Universiteit van Stellenbosch gaan studeer waar hy van vroeg aan reeds ‘n leidende rol in Afrikanersake begin speel het. Hermann Giliomee sê van Verwoerd:

“Hy was die eerste student in Suid-Afrika wat sy studies, van sy voorgraadse eksamens tot sy doktorale proefskrif, in Afrikaans geskryf het.” (Die laaste Afrikanerleiers, bl.27)

Soos Leon Lemmer vandag, verwysende na die verwydering van Verwoerd se gedenkplaat op die Stellenbosse kampus, skryf:

In De Villiers het die US ‘n rektor met ‘n dik anti-akademiese vel. Hy is ‘n klein mannetjie (van liggaam en van gees) wat grootmeneer speel oor groot Afrikaners soos Verwoerd en DF Malan, al weet hy in sy binneste dat hy nie werd is om hulle skoenrieme vas te maak nie.

Dit maak nie saak hoe Verwoerd se denke vandag verguis, verdraai en verloën word nie; niemand kan sy prestasies ongedaan maak nie. En die republiek, asook ons destydse weermag, wat onder sy leiding die nodige inspuiting gekry het, is twee daarvan. Maar is dit nie interessant dat Verwoerd ook in die stryd om Afrikaans as akademiese taal, die leiding geneem het, bo sogenaamde “gebore en getoë” Afrikaners nie? Die Afrikaner – en die “Boer”, kyk maar na die Vrystaatse Republiek wat Engels as administrasietaal gebruik het! – het dikwels soos tans sy eie taal misken en verwaarloos ten gunste van die imperiale taal. Hierteenoor het ‘n buitestaander soos Verwoerd nes Hertzog die potensiaal en skoonheid van Afrikaans ingesien en ‘n leidende rol in die uitbou van Standaardafrikaans as kultuurtaal gespeel.

Verwoerd kan nie van ontrouheid of verraad beskuldig word: nóg teen Afrikaans nóg teen die Afrikaner. Sy lojaliteit staan bo alle verdenking. Nogtans het hy uit sy pad gegaan om Engelssprekendes in ons land te laat welkom voel. Vir vele ander Afrikanernasionaliste was “die Engelsman”, selfs die Sapgesinde Afrikaner, die vyand. Dikwels het Verwoerd na “ons blanke, Westerse beskawing” verwys. In sy spontane antwoord op die Britse eerste minister, Harold McMillan se “winde van verandering”-toespraak oop 3 Februarie 1960 het hy die volgende beroemde uitspraak gemaak:

The tendency in Africa for nations to become independent, and at the same time to do justice to all, does not only mean being just to the black man of Africa, but also to be just to the white man of Africa.

We call ourselves European, but actually we represent the white men of Africa. They are the people not only in the Union but through major portions of Africa who brought civilisation here, who made the present developments of black nationalists possible. By bringing them education, by showing them this way of life, by bringing in industrial development, by bringing in the ideals which western civilisation has developed itself.

And the white man came to Africa, perhaps to trade, in some cases, perhaps to bring the gospel; has remained to stay. And particularly we in this southernmost portion of Africa, have such a stake here that this is our only motherland, we have no where else to go. We set up a country bare, and the Bantu came in this country and settled certain portions for themselves, and it is in line with the thinking of Africa, to grant those fullest rights which we also with you admit all people should have and believe providing those rights for those people in the fullest degree in that part of southern Africa which their forefathers found for themselves and settled in. But similarly, we believe in balance, we believe in allowing exactly those same full opportunities to remain within the grasp of the white man who has made all this possible.

Hier het Verwoerd nie net namens die Afrikaner gepraat nie, maar namens alle “blankes-in-Afrika” wat sedert sy sluipmoord, oor die afgelope paar dekades, so ‘n skouspelagtige agteruitgang, selfs verval, beleef het. Oorkant die Limpopo, maar ook in Angola en Mosambiek, is blankes verdryf en het daardie lande volledig “verafrikaniseer” in die negatiewe sin. Trouens, sonder een miljard dollar aan hulpgeld wat Mugabe elke jaar ontvang, plus voedselhulp, sou sy staat nie kon voortbestaan nie en sou sy mense van die honger omkom.

Interessant is ook dat mnr. PW Botha in een van sy streng, besliste uitsprake iets laat val het in die trant van: “Suid-Afrika sal die lig van die Westerse beskawing uitdra terwyl dit in die Weste self uitgedoof raak.” (Dit is seker nie die presiese aanhaling nie, maar as iemand my daarmee kan help, sal ek bly wees.)

Onlangs lees ek dat die valskermbataljon van ons voormalige weermag wat by Rooiplaas opgelei is, om die helfte uit Afrikaans- en Engelssprekendes bestaan het. Vele Engelssprekendes het ook die “sterwe”-deel nagekom in ons volkslied wat lui:

Ons sal lewe, ons sal sterwe, ons vir jou, Suid-Afrika!

Al die groot Afrikanerleiers in die verlede, soos Hertzog, Verwoerd en PW Botha, het ingesien dat daar ‘n verenigde blanke nasie in ons land moet wees. Slegs op dié wyse sou ons as kleiner wordende demografiese minderheid die mas kon opkom. Hertzog het in vele van sy toesprake onderskei tussen “Afrikaners” (wat vir hom ‘n Afrikaans- of Engelssprekende kon wees) en “vreemde fortuinsoekers” wat hoofsaaklik in die meer gegoede voorstede van Johannesburg en Kaapstad saamgetrek was. Afgesien van dié oorhoofse kultureel-politieke sienings, het Afrikaners en Engelse op voetsoolvlak deurmekaar begin woon, asook ondertrou. Clive Derby-Lewis is die resultaat van so ‘n gemengde Afrikaans-Engelse afkoms, hoewel sy naam natuurlik uitsluitlik Engels is. Hy is ook grotendeels Engels grootgemaak, op Engelse skole. Net soos Verwoerd in Rhodesië, sou mens kon sê! Nietemin praat Clive vlot Afrikaans. Toe ek hom enkele jare gelede in Pretoria-Sentraal gaan besoek het, het ons deurentyd Afrikaans gepraat. Omdat hy in die tronk net gedrukte koerante mag lees, moet hy die straf verduur om Beeld elke dag te lees, ‘n koerant wat slegs in naam Afrikaans is en wat in sy beleid eintlik ‘n vorm van Afrikanervolksmoord voorstaan. Wie is die grootste Afrikaner, Clive Derby-Lewis of Adriaan Basson, ek of Max du Preez?

‘n Klompie jare gelede het Max du Preez die gerug versprei dat “Dan Roodt se ma Engels was”. Kan ‘n mens jou voorstel dat die ekstremistiese Max du Preez wat Joe Slovo en Aboobaker Ismail se terreur ten volle ondersteun het en wat sy kinders as linkse Engelse grootgemaak het, lesse oor afkoms aan ander te leer het? In elk geval is dit net ‘n halwe waarheid, want my ma se moedertaal was vir seker Afrikaans, hoewel my oupa Engelssprekend was. Omdat sy in die ooste van Johannesburg grootgeword het op ‘n stadium toe daar glad nie Afrikaanse skole was nie, was sy op Jeppe Girls High. Dis waar dit eindig. Terwyl sy gelewe het, het ek nooit ‘n Engelse woord met haar gepraat nie.

Maar gestel my ma was 100% Engels, watse verskil sou dit gemaak het? Die feit dat ek aan Afrikaans aan ‘n Engelse universiteit gestudeer het – in ‘n departement waar CM van den Heever, PJ Nienaber en NP van Wyk Louw eens professore was – maak dit my minder “Afrikaans” as iemand soos oorlede André P. Brink wat aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys gestudeer het? Die verskil tussen my en Brink is dat ek beter Afrikaans kan spel as hy wat hy kon en dat hy op ‘n Franse TV-program gesê het: “My volk verdien om uit te sterf.”

Dis egter deur sulke linkse verdagmakery dat ons gedurigdeur verdeel word, terwyl ons die groter prentjie van ons stelselmatige ondergang miskyk. Ons baklei onder mekaar oor wie ‘n ware Boer, regte Afrikaner of suiwer Engelsman is, terwyl ons Westerse beskawing verval en ons etnies vanuit die land gereinig word.

In dié opsig is ek ‘n Verwoerdiaan: Ek glo dat ons ten eerste goeie Afrikaners moet wees, maar ook dat ons ons Westerse beskawing ten alle koste moet behou, tesame met ander blankes in Afrika, of hulle nou hier of in Suidwes/Namibië woon. Ons verhaal is nog lank nie uitgespeel nie, al gaan dit vandag ook beroerd. Soos Verwoerd gesê het: Ons gun die swartman sy geleenthede, maar eis dieselfde geleenthede vir onsself op!

Dis ‘n lang aanloop, maar dit bring my by die eintlik onderwerp van dié rubriek: ons verhouding tot die Engelssprekendes in ons huidige oorlewingstryd. Terwyl daar ‘n verskeidenheid politieke identiteite onder Afrikaners bestaan, is die Engelssprekendes selfs nog meer divers. Onder Afrikaners wissel dit van die soort verregse teokratiese Afrikaner of “Boer” wat vir jou al sy politieke beginsels met verse uit die Ou Testament sal staaf, tot die geglobaliseerde, verstedelikte jong Afrikaners van vandag wat aanlynrekenaarspeletjies saam met Europeërs of Asiërs in ander lande speel, maar op baie maniere meer rasbewus “Westers” of “Europees” voel as ‘n vorige geslag.

Onder Engelssprekendes swaai die linkses en marxiste nog soveel te meer die septer as onder Afrikaners. By ons is individue soos Max du Preez of Adriaan Basson eintlik fratse, want hulle is polities “volksvreemd”, synde indringers in Afrikaans met hul wêreldvreemde kultuurmarxistiese idees wat hulle in ‘n linkse, Engelse milieu opgedoen het. Die dilemma van die Engelssprekende blanke is juis dat hy grootword, amper sonder ‘n eie kultuur, binne ‘n ekstreemlinkse, verafrikaniseerde, kultuurmarxistiese paradigma waar witskuld en boetedoening die wagwoorde is. In Afrikaans lag ons oor witskuld, maar in Engelse Suid-Afrika is dit heiligskennis, selfs net om dit te bevraagteken. Selfs die kultuur van Groot Brittanje, die bron van Engelsheid, is veramerikaans en word deur Hollywood en die Amerikaanse media bepaal. Dit geld nog soveel te meer vir Engelse Suid-Afrika, waar die swart Amerikaanse kultuur toenemend oorheers.

Benewens ‘n keiharde kern van marxiste in die Engelse media en aan die universiteite wat die Amerikaanse mengkultuur fanaties voorstaan en eintlik mense wil begin doodmaak wat nie daarby inval nie, bestaan daar ‘n groot gros Engelssprekendes, verengelste Afrikaners, gemengde Englikaners, ens., wat dalk ‘n nóg groter graad van politieke verwarring en onsekerheid as die meeste Afrikaners ervaar. Soos die meeste Afrikaners stem hulle vir die liberale DA in die verlore hoop dat dié party hulle van die ANC en SAKP sal verlos.

Die verraaier-elite van Afrikaners het met die absurde projek vorendag gekom dat, soos die afstootlike klein intellektuele en fisieke dwerg Leopold Scholtz dit gestel het, “Afrikaners met bruines moet versmelt”. Dit word tot satwordens toe aan ons voorgehou dat “die meerderheid Afrikaanssprekendes nie-blank is”. Wat daarvan? As Frankryk se voormalige kolonies ingereken word, is die meerderheid Franssprekendes eweneens “swart”. Daar is ook vandag meer swartes met Engels as moedertaal as inwoners van die Britse eilande. Dit verander nie aan hoe mense die kern van Frans-wees of Engels-wees beskou nie. Die Khoi-San-stamme het hul eie tale afgesweer en Afrikaans aangeneem. Dis deel van die welslae wat Afrikaans in die verlede behaal het, wat ek reeds elders ons adellike of koninklike taal genoem het. (Lees Afrikaans Was Eens ‘N Koninklike En Handelstaal In Europa.)

Leon Lemmer het al met jota en tittel hier aangedui oor hoe veral die geleerde bruines oor geen taallojaliteit jeens Afrikaans beskik nie en geen waardering vir Standaardafrikaans, ons geskiedenis, letterkunde en kultuur koester nie. Dit is ook vir my baie mooi tuisgebring toe ek verlede jaar tydens die fameuse hofaansoek in die Randburgse Landdroshof wat ek namens Steve Hofmeyr gebring het, in die “bruin” (of “swart”, want hoe meer geleerd ‘n bruine raak, hoe “swarter” word hy) skrywer en akademikus, wat hy ook al is, Eusebius McKaiser, vasgeloop het. Omdat ons mekaar al voorheen in TV-ateljees raakgeloop het, het ek my hand na hom uitgesteek en hom gegroet, beleefde Afrikaner wat ek is. Die volgende oomblik lees ek op Twitter waar McKaiser vir sy volgelinge noem dat hy “agterna sy hand gaan was het, so vies was hy om Dan Roodt se hand te skud”.

Hoewel McKaiser eerder sal sterf as om dit te erken, is hy ook “Afrikaanssprekend” – een van Rapport of Beeld se “meerderheid Afrikaanssprekendes”. Behalwe: hy het nog nooit ‘n Afrikaanse boek of artikel gepubliseer nie en hy gaan was sy hande as hy in aanraking met ‘n Afrikaner kom.

Min mense besef dit, maar Suid-Afrika se Engelssprekende blankes is die enigste ter wêreld wat onder ons invloed – waaronder die aantreklikheid van ons taal, kultuur en sorgvrye buiteluglewe – tweetalig geraak het. In weerwil van miljarde dollar se subsidies en streng taalwette, praat baie min Engelse Kanadese Frans en Québec bly ‘n geïsoleerde provinsie binne die groter Engelse Kanada en nóg groter VSA. Hier en daar kom ‘n mens egter jong Engelssprekendes teë wat dolgraag meer Afrikaans wil leer en baie nuuskierig is om te weet wat Afrikaners alles aanvang.

Ek het ‘n broertjie dood aan die radikale, linkse Engelssprekendes waaronder terroriste en hul meelopers soos Joe Slovo, Ronnie Kasrils, Nadine Gordimer, Helen Suzman, Helen Zille, Muff Anderson, ens. Op Twitter is daar ene Ben Pooler in Kaapstad wat my koggel en die gerug versprei dat ek “lieg oor my akademiese kwalifikasies omdat ek te dom is om universiteit toe te gegaan het”. Hy en die Boerehater-poppespeler, Conrad Koch, behoort lyk my tot dieselfde Kaapse dampkring. Sodra ek ‘n tydjie kry, gaan ek ‘n dagvaarding teen Pooler vir laster uitreik, omdat ‘n mens net soveel leedvermaak van linkse Engelse oor hoe ons mense vermoor, verguis en vertrap word, kan vat. Ons moet voortdurend die linkses – Engels en Afrikaans – op alle gebiede beveg en nie toelaat dat hulle hul beplande marxistiese volksmoord op ons voltrek nie.

Nietemin voel ek dat Verwoerd se visie, wat eie is aan die grondslag van hierdie arme, gewonde republiek, van ‘n soort Afrikaanse dog terselfdertyd Eurokaanse beskawing aan die suidpunt van Afrika nooit behoorlik nagestreef is nie, veral nie toe ons soveel middele gehad het om dit te verwesenlik nie. Toe is daardie middele op onderlinge rusies tussen Afrikaner- politieke partye verkwis, wat tot die magsoorname deur die radikale terreurfaksie in ons land gelei het.

Wat nodig is, is dat alle inheemse blankes – behalwe nou Hertzog se “vreemde fortuinsoekers”, vandag se kultuurmarxiste – rondom ons gemeenskaplike Afrikaneridentiteit moet verenig. Noem dit ook ‘n “Suid-Afrikaanse” identiteit, ‘n woord wat egter deur Slovo, Mandela en die res gekaap is en vandag ‘n heeltemal verwronge, ahistoriese en polities korrekte betekenis het, hoewel dit in die toekoms seker weer herstel kan word.

Soos die Franse, moet ons toenemend ons boeke en aanlynskrywes in ander tale, veral Engels, begin vertaal sodat ons ons kultuur vir Engelssprekendes meer toeganklik kan maak. Voor ek byvoorbeeld Frans kon praat en lees, het ek die Franse kultuur deur middel van Engelse of Nederlandse vertalings ontdek. Ons kan baie by die Franse leer oor hoe ‘n mens jou kultuur vir ander aantreklik en bemarkbaar kan maak. Steve Hofmeyr en sy medesangers doen reeds baie om Afrikaanse gewilde musiek te bemark, maar ons moet die totaliteit van Afrikanerkultuur veral onder ons Engelse landgenote, asook buite ons landsgrense teenoor Europeërs en Amerikaners, bevorder. Sodoende sal ons die poel van aktiviste wat teen verswelging hier in Suider-Afrika stry, soveel groter maak en sal daar uit die smeltkroes van ons oorlewingstryd ‘n selfs sterker Afrikaner- en blanke kultuur gebore word.

Daar is ‘n paar figure soos Herman Charles Bosman, wat in Engels oor ‘n grotendeels Afrikaanse, plattelandse wêreld geskryf het, maar dit was eintlik ‘n mislukking en deurspek van stereotipes en ‘n onderliggende minagting vir die Afrikaner. Dis omdat die Engelse wêreld, wat deur die elites van Johannesburg en Kaapstad oorheers word, eintlik nooit met die land kontak gemaak het nie. Hulle vlieënde piering het tot vandag toe nog nie behoorlik geland nie. J.M. Coetzee, wat nooit in Afrikaans geskryf het nie en ook maar vele van die “trope” van Engelse linksheid en kulturele marxisme in sy geskrifte klakkeloos herhaal het, vertoon egter in sy beste werk soos byvoorbeeld Disgrace sterk Afrikaanse karaktertrekke. Die Suid-Afrikaanse uitgawe van die meer polities korrekte In the heart of the country het Afrikaanse dialoog bevat. Dis dringend noodsaaklik dat meer vertaalde Afrikaanse werke verskyn om sodoende ‘n gemeenskaplike belewenis van die meer klassieke Suid-Afrikaansheid of Afrikanerskap ook in Engels toeganklik te maak. Ek dink byvoorbeeld Gustav Venter se boeke wat die afgelope paar jaar in Afrikaans by PRAAG verskyn het, behoort ook in Engels vir ‘n wêreldwye gehoor ontsluit te word.

Ek stem saam met Leon Lemmer dat Verwoerd, die vader van ons moderne republiek, ‘n groot Afrikaner was. FW de Klerk en sy medeverraaiers “is nie werd om sy skoenrieme vas te maak nie”. Maar Verwoerd verteenwoordig insgelyks ‘n groot Westerling wat verskeie Europese tale, waaronder Engels, Duits en Nederlands, magtig was. Hy het ‘n volksvisie gekoester, maar ook ‘n beskawingsvisie. Nietzscheaans gesproke, was hy ‘n “goeie Europeër”, ein gute Europäer.

Soos die Franse politici hul toesprake afsluit: Vive la république! Of op Engels: Long live the republic!

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.