Mnr. Clive-Derby Lewis, ‘n vorige Suid-Afrikaanse parlementslid wat die Konserwatiewe Party verteenwoordig het, is vandag deur die Pretoriase Hooggeregshof meegedeel dat hy vir mediese parool kwalifiseer. Tot dusver het die ANC-bewind, asook verskeie ministers van korrektiewe dienste, volstrek geweier dat Derby-Lewis vrygelaat word, al is hy reeds in 2008 vir gewone parool en meer onlangs vir mediese parool aanbeveel.
Regter Selby Baqwa het beveel dat die gevangenis, asook die minister van korrektiewe dienste Michael Masutha en die Mediese paroolraad, teen 5 Junie Derby-Lewis se paroolvoorwaardes moet vasstel. Hy het ook die staat gelas om Derby-Lewis se regskoste betaal.
Derby-Lewis het reeds verskeie kere die hof genader om die onregmatige weiering van sy parool te betwis. Oor die afgelope twee dae het Baqwa ‘n verskeidenheid argumente van albei kante aangehoor. Onder andere het die staat gesteun op getuienis van ‘n swart dokter, Mike Sathekge, wat beweer het dat Derby-Lewis nie graad-4-longkanker het nie, maar graad 3. Twee ander medici het egter bevind dat Derby-Lewis wel aan graad 4-kanker ly.
Masutha, die minister van korrektiewe dienste, het op 30 Januarie Derby-Lewis se soveelste aansoek om mediese parool van die hand gewys, waarskynlik weens druk vanuit die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty. Omdat Chris Hani, by wie se moord Derby-Lewis betrek is, ‘n leier van daardie party was, meen die party dat hy oor ‘n vetoreg beskik sover dit die vrylating van gevangenes betref.
Limpho Hani, die weduwee van Chris Hani, het ook vandag se verhoor bygewoon. Saam met die Kommunisteparty, staan sy Derby-Lewis se vrylating teen.
PRAAG, asook Steve Hofmeyr en lede van die party Front Nasionaal, het oor die afgelope jaar of meer verskeie betogings gereël waartydens Derby-Lewis se vrylating geëis is. In ‘n twiet het dr. Dan Roodt van PRAAG vanoggend gesê:
Almal wat geveg het vir Clive Derby-Lewis se vrylating, kan hul nou op die skouer klop! Sonder die druk sou dit nie gebeur het nie.
— Dan Roodt (@danroodt) May 29, 2015
Clive Derby-Lewis het nooit enigiemand gedood nie en het in sy getuienis destyds verklaar dat hy nie geweet het dat Janusz Waluś vir Chris Hani wou gaan skiet nie. Hy het ook geen wapen aan Waluś oorhandig soos wat die staat beweer het nie. Derby-Lewis se bediende is egter deur die ou Veiligheidspolisie gedreig en geïntimideer om vals getuienis teen haar werkgewer te lewer, wat genoeg was om hom ter dood te laat veroordeel. Sy doodstraf is later in lewenslange gevangenisstraf omskep.
Die voormalige parlementslid verkeer steeds in die hospitaal in Pretoria waar hy teen kanker behandel word. Indien hy ontslaan word, sou hy nou huis toe kon gaan, terwyl hy tot vandag toe weer na die Sentrale Gevangenis in Pretoria sou moes terugkeer.