Die Johannesburgse hooggeregshof het ‘n tussentydse bevel toegestaan wat skoolbeheerliggame se reg om ‘n eie taal- en toelatingsbeleid te bepaal, bevestig.
Leerlinge wat vir die volgende skooljaar om plek aansoek doen, se taalvoorkeur sal nie deur die Gautengse Departement van Basiese Onderwys misken word nie.
Die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) se dringende aansoek is Dinsdagaand deur regter Gregory Wright toegestaan.
Die regter het egter nie redes verskaf vir sy beslissing nie.
Adv. Greta Engelbrecht, wat namens Fedsas verskyn het, het gesê dat die saak nie oor ras handel nie. “Ons woon in ‘n nuwe Suid-Afrika. Afrikaans word nie net deur witmense gepraat nie.”
Paul Colditz, uitvoerende hoof van Fedsas, het die beslissing verwelkom.
Die oppergesag van die reg is gehandhaaf en die administratiewe en burokratiese ingryping in die regte en bevoegdhede van beheerliggame is deur hierdie bevel bekamp, het hy aan Netwerk24 gesê.
Volgens Colditz sal Fedsas se hoofaansoek teen die departement voortgaan.
Phumla Sekhonya, departementele woordvoerder, het gesê die Departement is glad nie gelukkig met die uitslag nie.
Hy meen die verantwoordelikheid vir toegang tot skole berus by die departement, ondanks die hofbevel.
“Dit is leerlinge se grondwetlike reg om in ’n skool toegelaat te word, ongeag die taalfaktor. Taal moenie toegang tot ’n skool troef nie. Ons is glad nie gelukkig oor die uitslag nie.”
Sekhonya het gesê die departement hét die laaste sê wat toelating betref.
Adv. Muzi Sikhakhane Sikhakane SC, vir die departement, het ook volgehou dat die bevel nie ‘n finale besluit is nie.
Die 124 Afrikaanse skole wat glo moet verengels, is volgens Sikhakane deel van ‘n “besprekingsdokument” oor die aangeleentheid.