Hoe Christendom wetenskap bevorder het en rewolusionêre net wil afbreek

Deel op

Thomas van Aquino

As ek terugkyk na die wetenskapfiksieskrywers uit die sestiger jare, met hul hoop op ‘n tegnologiese utopie in die een en twintigste eeu, en ons vergelyk dit met wat tans in die wêreld gebeur, kan ons maklik tot die konklusie kom dat iewers iets behoorlik fout gegaan het. Volgens Arthur C Clarke sou ons al in 2001 gereeld vakansies op die maan gehou het, en enorme ruimtestasies gevul met winkelsentrums sou in ‘n wentelbaan om die aarde getuimel het.

Ons is nou vyftien jaar in die een en twintigste eeu en besef nou al te goed dat Clarke se voorspellings ietwat te optimisties was. Daar is enersyds wel tegnologiese ontwikkelinge, maar die hele obsessie met die ruimte is nie meer wat dit destyds was nie, en bly maar in die gedagte van enkele miljardêr-entrepeneurs wat so dan en wan ‘n stap in daardie rigting waag.

Die volkere wat hierdie tegnologiese ontwikkelinge moontlik gemaak het, is hoofsaaklik te vinde by die Christelike wêrelddele, met Wes-Europa as bakermat. Die Christelike geloof het juis hierdie tegnologiese voorsprong gefasiliteer. Dit sien ons in werke van Augustinus van Hippo en later Thomas van Aquino, twee van die mees prominente denkers van die vroeë Christendom. Vir hierdie denkers was die belangrikste onderskeid tussen mens en dier die vermoë om rasioneel en logies te dink. Plato meen dat die mens onderskei homself van die dier deur sy vermoeë om wiskunde te kan doen.

Hoe dit ook sy, hierdie logiese dimensie van die mens se gees het Augustinus en Aquinas laat konkludeer dat die mens sy rasionele brein moet gebruik om die geheime van die heelal te ontsyfer. Die denkstroom wat hulle ontwikkel het, het moderne wetenskaplike ondersoek ingelui, en die opvatting was dat tegnologie en rasionele denke die mens nader tot God sou laat kom. Deur die invloed van die Christelike denke was die ou mitiese wetenskappe soos astrologie omgesit in sterrekunde en alchemie omgesit in moderne chemie.

Die moderne wetenskap probeer verbande te lê tussen oorsaak en gevolg en op hierdie manier natuurwette te ondersoek. In die Islam daarenteen het wetenskap nie tot dieselfde mate ontwikkel nie, aangesien enige oorsaak-gevolg verbande beskou word as die wil van God, en geen vraag mag in hierdie verband gestel word nie.

Dit is nogal ironies dat dieselfde denke wat Christendom ontwikkel het nou deur ateïste gebruik word om Christendom belaglik te maak. Dikwels verwys hulle na die Donker Middeleeue wat na die val van die Romeinse Ryk gevolg het. Onmiddelik gaan hulle gedagtes na heksejagte, die Inkwisisie, bygeloof en ‘n gebrek aan tegnologiese ontwikkelinge.

Dat die Donker Middeleeue sulke grimmige tye was, behoort tot die selfde graad van onwaarheid as apartheid wat sogenaamd ‘n misdaad teen die mensheid was. In daardie tyd was die tegnologiese ontwikkelinge juis op ‘n hoogtepunt. Ons kan ‘n paar voorbeelde noem:

  • Die bril. Een van die belangrikste uitvindings uit die Middeleeue was die bril gewees. Mense so teen hul veertigs kon vroeër nie meer hul ambag beoefen nie, aangesien hul gesigsvermoë dit nie meer toegelaat het nie. Die bril het veroorsaak dat mense op die toppunt van hul deskundigheid hul beroep nog jarelang kon beoefen, wat uiteraard goed gesorg het om hul persoonlike welvaart te verbeter.
  • Die skoorsteen. In die Romeinse tyd was daar nie soiets soos skoorstene in huise nie. Mense moes maar met warm komberse hulself teen die koue winters beskerm. In die Middeleeue was die skoorsteen uitgevind wat veroorsaak het dat rook veilig uit die huise kon ontsnap terwyl die hitte nog binne gebly het. Dit het ‘n gevolg gehad dat mense gesonder begin leef het en meer persoonlike energie kon spandeer op hul ambagte as om voortdurend hulself teen die koue te bewapen.
  • Skouertuig vir perde. Die Romeine het gebruik gemaak van osse om hul lande te ploeg en om swaar karre te trek. Osse is uiteraard sterk, maar ook baie stadig. Hulle wou graag perde ingespan het vir daardie doeleindes, maar die perd se lang nek was ‘n belemmering gewees. Perde kon op daardie stadium net ligte vragte trek sonder dat hul kele toegedruk sou word. In die Middeleeue het iemand ‘n tuig ontwikkel wat oor ‘n perd se skouers gesit kon word, en eensklaps kon perde ingesit word om lande heelwat vinniger te ploeg en swaar karre te trek. Dit het ook aanleiding gegee dat hulle begin insien het dat ‘n mens perde of osse eerder twee by twee agter mekaar kon inspan in plaas van langs mekaar om nog meer swaar vragte te trek. In die Romeinse tyd was perde langs mekaar ingespan. Dit sien ons veral as ons kyk na standbeelde van die godin Nike, waar haar strydwa deur meerdere perde getrek word wat langs mekaar hardloop. Die Romeine kon hooguit vyf perde inspan, anders sou hulle voortdurend teen mekaar bots en stamp, maar as hulle agter mekaar ingespan word kon hulle uiteraard heelwat meer vermag.
  • Banke en wisselkantore. In verband met struikrowery het baie geld verlore gegaan tussen dorpe en stede. Vervoer van geld moes gepaard gegaan het met wagte wat saamgeloop het om moontlike diewe af te weer. In die Middeleeue was die konsep van ‘n tjek geloods wat slegs by banke inwisselbaar was op die ontvanger se naam, wat struikrowers oorbodig gemaak het. Die monnike was ook van die eerste vroegmoderne bankiers gewees.
  • Geleerdheid onder monnike. Ons is onder die indruk dat monnike in kloosters die hele dag net die Bybel gelees het. In feite het hulle daarmee saam ook belangrike filosowe gelees en self wysgerige stukke geskryf wat selfs moderne professore nouliks kan oortref. Van hulle was ook geleerd in wetenskap en kon met hul beperkte kennis uitermate diepsinnige debatte voer en standpunte inneem. Iemand soos ek wat in die geleentheid was om die Strahovskyklooster in Praag te kon besoek, kan getuig van die tientalle meters boekrakke vol skrywes oor onderwerpe wat wissel van teologie tot sterrekunde, plantkunde en ‘n hele rits ander velde waarin hulle geleerd was. Anders as die tydsgees ons voorhou was hulle beslis nie dom of skolasties ingeperk nie.

Wat die heksejagte aanbetref besef min mense deesdae dat dit hoofsaaklik sekulêre howe was wat die vonnisse uitgespreek het. Die Inkwisisie moes soos moderne advokate voor die howe bewys lewer of goed oortuig dat hulle met hekse te make gehad het, en slegs as die howe skuld bevind het, kon die Inkwisisie oorgaan tot teregstelling. Andersyds was in lande waar die Inkwisisie meer mag gehad het relatief min hekse verbrand. Uiteraard was daar altyd magsmisbruik gewees van hierdie orde en gevalle waar hulle hand uitgeruk het, maar dit het meestal gevolg op krisisse soos die builepes of ander onverklaarbaarhede wat mense persoonlik geraak het, juis omdat ‘n formele ondersoek nie altyd moontlik was nie.

Die vroeë welvaart het begin by die Katolieke, maar het met verloop van tyd oorgewaai na die Protestante toe. Dit is daarom nie heeltemaal waar om die Protestante al die eer en krediet te gee vir Westerse welvaart nie. Hulle het dit min of meer oorgeneem van die Katolieke wat in sommige dele van Europa hul geloofwaardigheid begin verloor het.

In die tyd waarin ons nou leef kan ons sien hoedat Protestantisme in die Weste vanuit alle oorde aangeval word deur allerlei radikale aktiviste met rewolusionêre oogmerke. Hul eie denke is egter heelwat primitiewer en gevaarliker, en dit sien ons aan die hand van die volgende eienskappe.

  • Die rewolusionêr vind dat die wêreld te ingewikkeld begin word en wil alles afbreek tot eenvoud. Om hierdie rede ontmoedig hulle vrye denke en gebruik liewer indoktrinasie, vergelykbaar met George Orwell se “Four legs good, two legs bad” skape.
  • Die rewolusionêr wil andersyds ook ‘n einde maak aan privaat eiendom en alle gesag sentraliseer. Privaat eiendom beteken ‘n gesonder verband tussen produksie en beloning. As privaat eiendom afgeskaf word kan jy eindeloos produseer net om te sien hoe die staat alles vat sonder vergoeding of beloning. Hiermee word hard werk en kreatiwiteit ontmoedig.
  • Waar die Christene glo dat vrees vir die Here die beginsel van wysheid is, glo die rewolusionêre dat die mens eindeloos maakbaar is. Die motief agter vrees vir die Here is nie angs nie, maar respek vir die natuur en al sy kompleksiteite en die belang van ‘n eenvoudige lewe. Waar die rewolusionêr streef na absolute eenvoud, streef die (veral) Protestantse leer na ‘n balans tussen eenheid en diversiteit.
  • Die belangrikste onderskeid tussen die Christelike en rewolusionêre wêreldbeeld is dat Christendom het gebou aan die moderne wêreld en rewolusie kan net afbreek. Kyk maar na intellektuele rewolusionêre soos Hegel, Bakoenin of Proudhon, wat aangevuur was met die leuse: ”Die genot van vernietiging is ‘n kreatiewe genot”. Hulle het terdeë besef dat die “vloei van die geskiedenis” die vloei van bloed beteken. Nesta Webster skryf in haar tesis “The French Revolution: A Study in Democracy” (1919) dat die leiers van die Franse Rewolusie kalm en uitgebreid bereken het hoeveel mense doodgemaak moes word vir die rewolusie om te slaag en het allerlei planne beraam om hierdie te bewerkstellig. Volgens hulle somme moes twee derdes, oftewel sestien miljoen Franse doodgemaak word vir hierdie doeleinde.

Dit is duidelik dat die Christelike leerstellings in die weg staan van die doelstellings wat rewolusionêre graag wil sien. Hulle geloof is dat die mens se verlossing in radikale eenvoud en vernietiging lê.

Met die verwoesting wat ons in Ferguson, Baltimore en andere dele van die Verenigde State gesien het, tesame met IS wat duisende jare oue artefakte tot dusver vernietig het, sien ons hoe die gees van rewolusie in hierdie dade glimmer. Die verskil is dat hul meesters tot die besef gekom het dat ‘n mens beter van bestaande middele en opvattings gebruik kan maak as om nuwe gedagtegoed in te stel soos destyds in die ou Sowjet Unie. Laasgenoemde word nie altyd aanvaar deur die menigte nie. Om hierdie wêreldwye rewolusie te laat slaag moet dit so natuurlik moontlik lyk en aansluit by mense se bestaande waardestelsels.

Dit is ook in ons belang om te besef dat hierdie gewelddadige opwellinge nie toevallig gebeur nie. Dit is al jare vantevore beplan en in hierdie tydstip is die uitvoerende fase besig om voltrek te word. Net soos Christendom wetenskaplike denke bevorder het, het die rewolusionêre op hul eie manier ook hul taktiek verfyn om hulself nog verder uit die skynwerpers te hou terwyl hulle die wêreld aan die brand steek. Ons sien byvoorbeeld dat IS uit is om ‘n globale kalifaat te skep, terwyl die tiranne Saddam Hoessein en Mohammar Khadaffi juis hierdie strominge teëgehou het, vandaar dat hulle waarskynlik verwyder moes word. As IS daarin slaag om ‘n kalifaat in daardie wye gebied te skep en dus mag te sentraliseer, sal dit die skaduregering se werk makliker maak om beheer uit te oefen oor hierdie wêrelddeel. Alles wat dus gebeur het ‘n groter plan agter die skerms. Dit sal na alle waarskynlikheid dekades of selfs meer as ‘n honderd jaar duur, maar so stadigaan word daar gebou aan ‘n globale wêreldorde, en IS, die vernietiging van Suid-Afrika en nou die Verenigde State is alles klein brokstukkies wat hierdie groter orde gaan fasiliteer. Vergelyk hoe Islam meer as twee honderd jaar die septer in Bosnië geswaai het voordat die Bosniërs so stadigaan tot Islam bekeer het.

Op hierdie stadium in die geskiedenis is Christendom die mees vervolgde geloof ter wêreld. Elke elf minute word iewers op die wêreld ‘n Christen vermoor omwille sy geloof, terwyl die massamedia geen woord hieroor rep nie. Duisternis en bygeloof word so stadigaan die nuwe verligtingsideale wat ons moet omarm in die naam van “gelykheid”.

Wie weet, as dit nie vir die rewolusionêre was nie, sou Arthur C Clarke se droom van ‘n tegnologiese utopie dalk meer haalbaar gewees het.

Dit bewys weereens dat op die ou einde van die dag is die rewolusionêre hul eie grootste vyand.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.