Vredesgeprek in Burundi stol

Deel op

Burundi se opposisie boikot tans vredesgesprekke met die regering. Die dialoog het Maandag uit protes teen die moord van ‘n opposisieleier, Zedi Feruzi, ten einde geloop.

Die VN het vroeër ingegryp om ‘n maand van protes en geweld te beëindig in dié Oos-Afrika land.

Minstens 20 mense is dood sedert oproer uitgebreek het op 26 April, ‘n dag nadat President Pierre Nkurunziza aangekondig het dat hy vir ‘n derde termyn van vyf jaar sal dien omdat hy nie vir sy eerste termyn verkies is nie.

Die oproeriges teen Nkurunziza is telkens deur soldate onderdruk wat in die lug gevuur het, net om weer elders te hergroepeer.

Daar is ook spanning in weermaggeledere dae ná die mislukte staatsgreep wat deur ’n topgeneraal gelei is, het AFP berig.

Soldate was in straatgevegte met mekaar gewikkel. Die polisie het nou grootliks op straat oorgeneem in ’n poging om die betogings te verhinder.

Voor die mislukte staatsgreep is die weermag deur betogers as meer neutraal as die polisie beskou. Soldate het dikwels tussen die polisie en betogers inbeweeg om konfrontasie te voorkom.

Minstens 20 mense is in straatgevegte gedood voordat die generaals verlede week ’n mislukte staatsgreep uitgevoer het.

Pacifique Nininahazwe, ’n leidende figuur in die protes teen Nkurunziza se poging om vir ’n derde presidentstermyn te staan, het gevra vir ’n “vreedsame betoging sonder beledigings en sonder dat klippe gegooi word”.

“Ons stop wanneer die polisie ons konfronteer. Ons sit met ons hande in die lug en daarna stap ons verder,” het hy in ’n boodskap gesê wat op sosiale media versprei is nadat vier onafhanklike radiostasies deur die owerhede gesluit is.

In die hoofstad se Nya-kabiga-distrik het die weermag in die lug gevuur terwyl betogers met hul hande in die lug op die grond gelê het en die volkslied gesing het.

Bujumbura se burgemeester, Juma Saidi, het Sondag op staatstelevisie gewaarsku dat betogers “as deel van die staatsgreep” beskou sou word en veiligheidsmagte opdrag gegee om hulle as sodanig te behandel.

’n Groep topgeneraals het vroeër probeer om Nkurunziza uit die kussings te lig, terwyl hy op ’n besoek aan Tanzanië was.

Nkurunziza word daarvan beskuldig dat hy ’n veldtog van onderdrukking teen sy opponente van stapel gestuur het. Hy het ook probeer om die onafhanklike media stil te maak sedert die staatsgreep­leiers ná hewige gevegte die knie voor lojalistiese troepe gebuig het.

Sewentien ­beweerde staatsgreepsame­sweer­ders, insluitende ’n voormalige minister van verdediging en twee toppolisiekommissarisse, het reeds in die hof verskyn op klagte dat hulle probeer het om die staat omver te werp.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.