Nigerië se grootste selfoonoperateur, MTN, het gewaarsku dat hy gedwing kan word om sy dienste te sluit weens ‘n tekort aan dieselvoorraad in Afrika se grootste olieproduserende land.
MTN Nigeria het ‘n boodskap op die sosiale netwerk Twitter geplaas en gesê omdat die meeste van sy basisstasies en ander toerusting deur kragopwekkers aangedryf word, kan sy bedrywighede ernstig geknou word tensy hy binnekort brandstof kry.
Dit is die jongste maatskappy wat deur die maandlange brandstoftekort in Nigerië geknou word.
Nigerië word deur brandstoftekorte gekortwiek as gevolg van omstrede subsidiebetalings.
Afrika se grootste olie-produsent beskik oor geen binnelandse raffinaderye nie, en word gedwing om ru-olie uit te voer en verwerkte produkte soos petrol en diesel in te voer.
Om koste aan verbruikers laag te hou, stel die regering pryse onder die markkoers en betaal die verskil aan invoerders.
Maar die daling in oliepryse het die land hard getref.