Leon Lemmer: Die Afrikaanse Taalraad as die wanhoop van Afrikaans

Deel op

Dit is nodig om die voorgeskiedenis van die Afrikaanse Taalraad (ATR) te skets ten einde die gestremdhede waaraan hy ly, te verstaan. Ton Vosloo het in 1996 op die jaarkongres van die ATKV in Rustenburg voorgestel dat Afrikaanssprekendes, wit, bruin en swart, gesamentlik ‘n liggaam tot stand bring om hulle belange te beskerm op ‘n manier soortgelyk aan die Joodse Raad van Afgevaardiges (JRA). In dieselfde jaar, op 20 November, het meer as 200 mense in Stellenbosch byeengekom om die moontlikheid van so ‘n liggaam te bespreek. “Die skerpste kritiek het gekom van [Antjie] Krog. Sy het ‘n aanval op Afrikaners gedoen oor hul ‘onversetlikheid’ en het gesê sy weier om te staan ‘onder ‘n sambreel waarvan die kleure sê: anti-regering, anti-ANC, anti-Waarheids-en-versoeningskommissie, anti-nasiebou’ en die ‘nimmereindigende sanikers oor die SABC'” (JC Steyn, Ons gaan ‘n taal maak, Centurion: Kraal Uitgewers, 2014, p 503). Hieruit kan (seker) afgelei word dat Krog pro-ANC, pro-WVK, pro-verswartenasie en pro-SABC is. Geen wonder dat haar ma, die behoudende Dot Serfontein, dikwels gesê het dat sy nie weet waarvandaan Antjie kom nie.

Uit die name van diegene wat na die 1996-vergadering genooi is (of dit moontlik op eie inisiatief bygewoon het) blyk dat die aanvanklike aanleiding vir die stigting van so ‘n liggaam moontlik besorgdheid oor Afrikaans was. Die verwysing na die JRA maak dit egter duidelik dat dit van die begin af nie uitsluitlik om die heil van Afrikaans gegaan het nie. Taalhandhawing het bv politieke implikasies. Hoe dié politiek vertolk word, sou noodwendig die aard van wat ten behoewe van Afrikaans bereik word, bepaal. Vergelyk bv hoe ineengestrengel taal en politiek by die taalstryder CJ Langenhoven was (Praag 16 deser).

Weens voorbehoude en kritiek is geen organisasie in 1996 gestig nie. ‘n Verkenningskomitee is aangestel en Lawrence Schlemmer is versoek om ‘n meningspeiling te doen. “Die uitslag van die opname is op 11 Mei 1997 in Rapport gepubliseer. Daarvolgens was 83% van die wit en 32% van die bruin Afrikaanstaliges baie ongelukkig oor die manier waarop hul taal en kulturele waardes in die nuwe [politieke] bedeling behandel is; 59% van die wittes en 18% van die bruines het verwag dat hul taal gaan verswak of uitsterf. Verder het 85% van die wit en 70% van die bruin Afrikaanstaliges gemeen dat onafhanklike organisasies vir die beskerming van hul taalbelange belangrik is” (Steyn, p 504). Let op hoeveel sterker die blankes in vergelyking met die bruines oor Afrikaans voel; dus in watter mate Afrikaners meer taalgetrou of Afrikaanslojaal is.

Die uitslag van die meningspeiling is vertolk as steun vir die voorgestelde organisasie. Op 28 Junie 1998 het 16 (of 14) mense in Johannesburg byeengekom. Steyn lys 14 name (p 560), onder andere Krog, wat myns insiens bevestig dat die groep van die begin af polities links geneig het. Uit die besprekings was “dit duidelik dat verskeie teenwoordigers nie werklik oortuig was van optredes om Afrikaans te probeer beskerm nie” (Steyn, p 504). Van daardie datum dateer die bestaan van ‘n Afrikaanse Oorlegplatform, wat egter spoedig verdwyn het.

In 2003 het die FAK ‘n oop gesprek oor “‘n Groter voetspoor vir Afrikaans” gevoer. “‘n Verteenwoordigende voortsettingskomitee is onder [Wannie] Carstens se leiding aangewys om ‘n nasionale strategie vir Afrikaans uit te werk” (Steyn, p 504). Karel Prinsloo het ‘n landwye taaloudit onderneem, wat in 2006 voltooi is. Daaruit het ‘n publikasie gevolg, Op pad na ‘n taalstrategie vir Afrikaans, met Prinsloo as redakteur. Van 25 tot 27 Augustus 2004 is ‘n taalkonferensie op Stellenbosch gehou, waarby Afrikaanse taal- en kultuurorganisasies betrokke was. Daar was heelwat wantroue tussen die wit en bruin afgevaardigdes. Die bruines het koöptering in ‘n Afrikaanse organisasie gevrees. Volgens een waarnemer het dit “geblyk dat wit sprekers die taal beskou as ‘n saak van identiteit en taalregte, terwyl dit vir die bruin sprekers ‘n saak van bemagtiging is” (Steyn, p 504). ‘n Mens kan (dalk) sê: Die wittes was bereid om vir hulle taal op te offer, terwyl die bruines bevoordeling verlang het. ‘n Nasionale Forum vir Afrikaans is gestig.

Van 22 tot 23 Februarie 2007 is ‘n strategie vir Afrikaans in Pretoria bespreek. ‘n Beter gees het toe onder die afgevaardigdes geheers. Beeld se opskrif op 2 Maart 2007 was: “Afrikaanse akkedis se stert groei terug” (Steyn, p 504). Voortvloeiend hieruit is die Afrikaanse Taalraad op 24 Mei 2008 op Wellington gestig. Volgens ‘n verklaring van die bestuur is die ATR “‘n koördinerende netwerkskeppende en inklusiewe liggaam” en is Afrikaans “die eiendom van almal wat dit praat” (Steyn, p 504). Inklusiwiteit en kansvattende aanspraak op eiendomsreg is kenmerkend van die ANC-idioom. Die ATR onderskryf, myns insiens onnodig, veeltaligheid en het as doel om ook ander tale as Afrikaans te bevorder. Carstens was die eerste voorsitter. In 2012 het Michael le Cordeur die voorsitter geword. In 2014 is hy deur Anne-Marie Beukes opgevolg.

Wittes en bruines is die twee hoofgroepe wat by Afrikaans betrokke is. Die aard van die ATR word deurslaggewend deur hulle bepaal. Hermann Giliomee het in 2010 twee groepe onder die bruin Afrikaanssprekendes onderskei. Die eerste is die geskoolde werkersklas en laer middelklas by wie daar ‘n geesdrif vir Afrikaans en aksies onder die vaandel van Afrikaans is. In hierdie verband kan verwys word na Naspers/Media24/Die Burger se jaarlikse Suidoosterfees en dieselfde instansie se Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans. Die tweede groep is die opperklas- of ontwikkelde bruines wat Engels as die taal met toekomsmoontlikhede beskou en hulle eerder daarmee vereenselwig. “Hulle ondersteun die staat se beklemtoning van rasgedrewe transformasie en die gepaardgaande aandrang op Engels as die taal van toegang. By sekere lede van die bruin elite is daar sterk teenkanting teen enige doelgerigte poging tot samewerking om Afrikaans in die hoër funksies daarvan te beskerm” (Steyn, p 505).

‘n Mens kan redeneer dat Vosloo hier (potensieel) ‘n “goeie ding” ten bate van Afrikaans geïnisieer het. Oorverligte inklusiwiteit, dus politieke linksheid, is egter deel van die pakket. Dit bring mee dat die ATR ter wille van “geloofwaardigheid” ‘n groot teenwoordigheid van bruines in sy direksie handhaaf; tans 6 van die 14 lede. Veralgemenend gaan dit vir ontwikkelde bruines, soos hierbo aangedui, nie (primêr) om taalgetrouheid nie, maar om bemagtiging, oftewel bevoordeling; heel moontlik ten koste van blanke belange. ‘n Mens vind dus dat die stert die hond swaai; aan die bruines se verwagtinge en eise word te geredelik toegegee. Algemeen-beskaafde Afrikaans, oftewel Standaardafrikaans, ly sigbaar hieronder. In werklikheid was Afrikaners dwarsdeur die geskiedenis van hulle taal grootliks (of feitlik uitsluitlik) die ontwikkelaars, standaardiseerders en handhawers. Die ATR-opset veroorsaak ‘n bedroewende verdunning hiervan. Byvoorbeeld, omdat bruines onwillig is om by ‘n eksklusief Afrikaanse liggaam betrek te word, is die bevordering van meertaligheid en ander (spesifiek swart) tale deel van die ATR se missie. Dit vervaag (of beduiwel) die fokus op Afrikaans.

Die tragiesste is die ATR se klem op variëteite van Afrikaans. Omdat die ATR om politieke redes, maar myns insiens onnodig, geroepe voel om swart tale te bevorder, wil hy ook allerhande (minder verdienstelike) variëteite van Afrikaans bevorder. Vir ‘n taal om te groei en oorleef, is dit juis van die uiterste belang dat so ‘n liggaam nie verskeidenheid/verbrokkeling/verdeeldheid aanmoedig nie, maar taalstandaardisering en -eenheid kompromisloos nastreef. Oorlinkse politiek is die kanker wat die ATR se taalaksies aan bande lê. Die groot bedreiging vir die voortbestaan van Afrikaans is die ANC-gesteunde verengelsingsproses. Hierteen bied die ATR geen verskansing nie. Hy moedig in werklikheid die ondergang van Afrikaans aan deur keer op keer sy seën oor Kaaps uit te spreek; ‘n mengeltaal waarin die Engelse komponent al hoe groter en die Afrikaanse komponent al hoe kleiner word. Wat absoluut noodsaaklik is, is dat die ATR Standaardafrikaans as norm aanvaar en aandring op taalsuiwerheid, veral die vermyding van onnodige Engelse woorde. Daar moet ook beklemtoon word dat Engelse frases, uitdrukkings en sinsbou in Afrikaans ongewens is. Die minagtende besoedeling van Afrikaans is hoogmode, bv in die vorm van Kaaps, maar al hoe meer ook in die taalgebruik van blankes, wat “loslit” met Afrikaans omgaan.

“Volgens [Lawrence] Schlemmer dui opnames op ‘n uitkringende gebruik van Engels as addisionele taal, veral sedert 2003. Waar Engels in 2003 in 30,1% van die wit Afrikaanse huishoudings gebruik is, was dit in 2008 50,4%. Daarteenoor was Engels in 2003 ‘n bykomende taal in 36,9% van die bruin Afrikaanse huishoudings, en in 2008 in 45,4% [van] dié huishoudings. Bruin mense was vroeër die meeste geneig om hul taal met Engels te vermeng. In vyf jaar het taalvermenging binne wit Afrikaanse huishoudings egter nie net bruin mense se vermenging ingehaal nie, maar verbygesteek” (Steyn, p 467). In 2008, die ATR se stigtingsjaar, het die verengelsingsproses dus reeds onrusbarende afmetings aangeneem. Desnieteenstaande het die ATR nog nooit ‘n veldtog hierteen probeer voer nie. So ‘n kampanje sou nie net bruines aangespreek het nie, maar ook wittes, sodat die polities korrekte ATR nie sensitief hieroor behoort te wees nie. Sowel die verengelsing van Afrikaanssprekendes as die besoedeling van Afrikaans met onnodige Engels behoort dringend aangespreek te word. Pleks daarvan word alewig die flou verontskuldiging aangevoer dat geen taal (absoluut) suiwer is nie.

Volgens DF Malherbe, in 1906, kan Engels aanleiding tot “afskrikwekkende taalgedrogt” gee: “die wreedklinkende, alle heilige taalgevoel kwetsende met Engels doorspekte idiome wat ons moedertaal tot in die grond verlaag sonder onsselwe te veredel … Taalsuiwering is ‘n belangrike taak wat op ons wag” (Steyn, p 160). TH le Roux het ‘n soortgelyke waarheid in 1931 verkondig: “Een ding is seker: te geredelike overname uit ‘n vreemde taal, in ons geval Engels, beteken verswakking van eie kragte” (Steyn, p 161).

Die ATR het nog nooit die moed/eerlikheid gehad om dit onomwonde te stel dat dit feitlik uitsluitlik aan blankes te danke is dat Afrikaans so ‘n voortreflik ontwikkelde taal is nie. Pleks daarvan word alles moontlik gedoen om Afrikaners se uitnemende bydrae te verdoesel of ongesê te laat. Dit is uit die mode om blankes, veral Afrikaners, te prys vir die baie goeie dinge wat hulle tot stand gebring het. Ten koste van Afrikaans swem die ATR gedwee saam met hierdie ontkenningstroom. Pleks van kwaliteit word kwantiteit beklemtoon: daar is meer bruin as wit sprekers van Afrikaans, gevolglik is die toekoms van Afrikaans glo in die hande van die bruines. Hoedanig daardie “Afrikaans” is of gaan wees, word nie aangespreek nie. Die ATR gee voor om ‘n pro-Afrikaanse liggaam te wees, maar wil om die dood nie ‘n Afrikaner-instansie wees nie. Tekenend hiervan is Wannie Carstens, wat nie ‘n Afrikaner wil wees nie, maar ‘n “Afrikaanssprekende Suid-Afrikaner” (Steyn, p 486). Carstens is oorgretig om die diversiteit van taalvariëteite te erken, maar hy verkies om blind vir kulturele en etniese diversiteit te wees. Hy poog veral om te ontken of misken dat daar Afrikaners of Boere is wat steeds ‘n wesenlike en voortreflike komponent van die Suid-Afrikaanse bevolking is.

Wat het die ATR al gedoen om die verengelsing en die gelyktydige ontafrikaansing van die tradisioneel Afrikaanse universiteite en skole te keer? Ek dink die eerlike antwoord is: niks, of feitlik niks. Voor die stigting van die ATR het die tweetalige Universiteit Port Elizabeth en die oorwegend Afrikaanse Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) sonder slag of stoot eentalig Engels geword. Daarna is Afrikaans aan al die tradisioneel uitsluitlik Afrikaanse universiteite drasties afgeskaal. In ‘n RSG-uitsending het Danny Titus hom vervies toe die verengelsing van die UWK geopper is. Sy reaksie was: “Daar is redes hiervoor.” Hy het hierdie verengelsing dus eerder goedgepraat as veroordeel. Sy jongste uitlating is: “Afrikaans word nog te veel aan identiteit gekoppel” (Die Burger, 9 deser, p 3). Hierdie hoof van kultuur van die transformerende Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) is dus beswaard as die Afrikaner Afrikaans as die kern van sy kultuur opeis. As ATKV-amptenaar wil hy klaarblyklik eerder Afrikaner-identiteit ondergrawe. Japie Gouws, die besturende direkteur van die ATKV, doen eintlik hieraan mee. Soos by die ATR gaan dit vir die neo-ATKV deesdae om die bevordering van meertaligheid pleks van Afrikaans.

Die punt is: Daar is nie ‘n enkele bruine wat gepleit het dat die UWK Afrikaans as onderrigtaal herinstel nie. Dit is in ooreenstemming met wat hierbo geskryf is: dat ontwikkelde bruines geneig is om dislojaal teenoor Afrikaans te wees. ‘n Mens sou dink dat die ATR vanselfsprekend van elkeen van sy direksielede vereis dat hy/sy taalgetrou moet wees; bv dat sy/haar kinders en kleinkinders skoolonderrig in Afrikaans ontvang. Dit is bekend dat dit in verskeie gevalle nie so is nie. Multi-etniese verteenwoordiging op direksievlak is vir die ATR belangriker as lojaliteit jeens Afrikaans.

Richard van der Ross het Jakes Gerwel se transformasie van die UWK, insluitende die Engelse eentaligheid wat hy ingevoer het, geprys. Maar dit is Van der Ross wat graag gesê het die letters UWK beteken Universiteit vir die Werkersklas. Eers toe daar aan hom uitgewys is dat die bruin werkersklas oorwegend Afrikaanssprekend is, het hy besef dat Afrikaans as onderrigtaal hoogs sinvol is.

By geleentheid het ‘n ATR-afvaardiging onder die leiding van Michael le Cordeur die rektor van die Universiteit Stellenbosch (US), Russel Botman, gaan spreek oor die stand van Afrikaans op die kampus. Dit was seker die maklikste onderhoud wat Botman ooit gevoer het. Enersyds het Botman, soos gebruiklik, die afskaling van Afrikaans ontken. Andersyds het Botman eenvoudig voortgegaan om Afrikaans terug te snoei. Le Cordeur en Henry Jeffreys het Nederlandse politici verseker dat hulle nie oor die toekoms van Afrikaans bekommerd is nie; ‘n standpunt in ooreenstemming met die bogenoemde Schlemmer-bevindings. Die twee blankes, wat terselfdertyd na Nederland afgevaardig is, het die teenoorgestelde standpunt gehuldig en groot kommer oor die toekoms van Afrikaans uitgespreek. Dit is ook Le Cordeur wat net lof vir Dan Kgwadi se transformasieplanne op Potchefstroom het. Ook in hierdie geval is dit, volgens Le Cordeur, onnodig om oor Afrikaans bekommerd te wees.

Wat ek probeer uitwys, is dat daar by wittes en bruines nie net etniese onderskeide is nie, maar ook kulturele verskille, soos duidelik blyk uit die onderskeie gesindhede teenoor Afrikaans. Le Cordeur het pas ‘n opsomming van sy standpunt verskaf, waarvolgens die ATR se grootste uitdaging die vereniging van die standaard- en nie-standaardsprekers van Afrikaans is. “Daarmee saam sien ek dit steeds as ‘n groot uitdaging dat die variëteite van Afrikaans hul regmatige plek kry, terwyl daar ook groter steun en erkenning moet wees vir die rol wat bruin en swart Afrikaanssprekendes speel” (Die Burger, 9 deser, p 3).

Wannie Carstens is meer as enige ander persoon verantwoordelik vir die ATR se gestremdheid. Dit is hy wat die ATR as ‘n politieke liggaam, as ‘n instrument vir versoening, gevestig het, pleks daarvan om dit ‘n instansie te maak wat primêr taalkundig ingestel is; dus ‘n organisasie wat hom op die bevordering van ordentlike, agbare Afrikaans toespits. Op 2 deser het hy weer sy versoenende pleidooi op Netwerk24 gelewer. Weer, soos ek hom in sy geskrifte leer ken het, op ‘n onsistematiese, herhalende manier. Wanneer ons vir Afrikaans veg, moet ons glo nie ons nuwe bewindhebbers aanstoot gee en hulle vervreem nie. Ons moet sag en ootmoedig te werk gaan. Ons moet ‘n klimaat vir sinvolle gesprekvoering skep, al is dit met elemente wat per slot van sake op grond van verswelging en gewelddadigheid (en onnosele politici) die mag bekom het. My waarneming is dat die kamerade dit geniet om met hulle harde stewels oor sagmoediges soos Carstens te loop.

Op 8 deser is Jean Oosthuizen se onderhoud met Carstens op LitNet gepubliseer. Let op hierdie verregaande stelling van Carstens: “Dit is so dat Afrikaans in die vorige politieke bedeling bevoordeel was bo ander tale in hierdie land deurdat Afrikaanse mense aan verskeie universiteite hulle opleiding in Afrikaans kon kry.” Is dit bevoordeling van Afrikaanssprekendes of doodgewoon hulle reg? Diegene met Engels as moedertaal geniet steeds hierdie “bevoordeling” maar geen haan kraai daaroor nie. Waarom Afrikaanssprekendes uitsonder as bevoordeeldes? Soos glad te dikwels gebeur, is daar ernstig fout met Carstens se siening, insluitende met hoe hy redeneer.

Carstens is ‘n US-raadslid. Hy is dus veronderstel om oor die US goed ingelig te wees. Let egter op hierdie stelling: “Die US moes sy historiese nismark (van bykans ‘n eeu) voortgesit het en hom meer toegespits het op die Afrikaanssprekende bruin gemeenskap van die Wes-Kaap.” Dit is soortgelyk aan die stelling van Koos Bekker, toe hy hom vir herverkiesing as US-raadslid beywer het: Dat die US ‘n historiese verantwoordelikheid teenoor bruines het. Die waarheid is dat die UWK sedert 1960 verantwoordelik vir die universitêre onderrig van bruines is en nie die US nie. Die UWK het egter onder die leiding van Jakes Gerwel, as rektor, en Jaap Durand, as viserektor, hierdie historiese verantwoordelikheid versaak deur die toelatingsvereistes te verslap, verswelging deur swartes aan te moedig en die universiteit eentalig Engels te maak. Die verantwoordelikheid vir bruin Afrikaanssprekende studente is daarmee op die US afgeskuif. Russel Botman het as US-rektor die maklike (en vir hom aangename) taak gehad om sy eie etniese groep, bruin studente en bruin personeel, bo blankes te bevoordeel, onder die dekmantel dat dit om transformasie, gegrond op hoë morele beginsels, gaan. Die US kon nog nie ophou om Botman hiervoor te huldig nie. Dit is asof lede van die US-bestuur deesdae almal armbandjies dra wat vra: Wat wil Russel Botman hê moet ek doen?

Botman het sy etniese genote bevoordeel. Carstens, daarenteen, bepleit nie die saak van blankes wat sedert die ontstaan van die US in 1918 op die kampus hoort nie. Nee, soos Botman en Bekker, gaan sy hart eenogig uit na die bruines. Die oorgrote meerderheid bruin studente wat Afrikaanssprekend op die US-kampus aankom, gee spoedig voor dat hulle eintlik Engelssprekend is. Carstens is veronderstel om Afrikaans te bevorder. As hy dit wil doen, moet hy eerder die belange van blanke Afrikaanssprekende studente bevorder, want daar is ‘n veel beter kans dat hulle lojaal aan Afrikaans sal bly.

“Op die KSUT [eintlik: Cape Peninsula University of Technology] se Wellington-kampus word Afrikaans wel as voorkeurtaal gebruik sover my kennis strek, en dit gee hoop,” volgens Carstens. Ongelukkig is hy swak ingelig en gryp hy versoenend na strooihalms. Daardie Wellingtonse studente is einde verlede jaar in kennis gestel dat hulle hulle eksamens in Engels sal moet aflê. Hulle het so verontwaardig gereageer dat die bestuur hulle toegelaat het om vir oulaas in Afrikaans eksamen te skryf. Die rektor het beklemtoon dat die CPUT ‘n eentalige Engelse universiteit is.

Carstens sê: “Die ATR se grootste prestasie is die versoeningsproses wat sedert 2003 in die land onder Afrikaanssprekendes begin plaasvind het.” Hy roem dus op ‘n moontlike politieke prestasie van die ATR; dus nie wat die ATR ter bevordering van algemeen-beskaafde Afrikaans gedoen het nie. Volgens hom is daar 6,8 miljoen Afrikaanssprekendes, waarvan 50% bruin en 39% wit is. Soos die ANC is hy oorbewus van die demografie, dus kwantiteit en nie kwaliteit nie. Gelykheid en eendersheid word verkondig waar daar in werklikheid groot (gehalte)verskille is. “Onthou: as daar gepeuter word aan Afrikaans se funksies en status, word meer as die helfte van Afrikaans se moedertaalsprekers, te wete bruin sprekers van Afrikaans, taalgewys ontmagtig.” In Carstens het ons ‘n blanke wat dinge vanuit bruines se hoek betrag. Hy neem nie in ag dat bruines baie minder as Afrikaners oor Afrikaans gepla is nie. Hy verkies om nie na dinge uit ‘n Afrikaner-perspektief te kyk nie, want hy ontken (kyk hierbo) sy Afrikanerskap. Carstens herhaal ook ongenuanseerd hierdie ANC-dogma: “Ons mag nooit weer in die posisie kom dat ons Afrikaans op mense afdwing nie.” Hy spreek geen kritiek uit oor die ANC wat Engels oral afdwing nie.

Eintlik ontman Carstens homself gewilliglik as taalstryder: “Onthou dat ek op geen [!] manier ‘n geveg met Engels aan die gang wil sit nie.” Hy sê van sy seun: “Sy Engels is goed – nie so vrot soos sy pa s’n nie.” Met sy vrot Engels en dus uit ‘n benadeelde posisie sal Carstens nie die heil van Afrikaans ten beste kan bevorder in die verengelste raad van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument, wat die ANC-minister die vermetelheid gehad het om te benoem nie (Praag 8 Maart). Maar sal die versoenende Carstens enige beswaar teen die samestelling van hierdie raad opper? Waarskynlik nie. Sy slap houding verseker die voortgesette agteruitgang van Afrikaans.

Nog skewe wysheid: “Ry vandag in die Kaap verby die ou Distrik Ses wat leeg daar lê, kyk na die arm woonbuurte langs ons paaie, luister na mense wat uit hulle huise gesit is in die 1960’s en dan weet jy apartheid se nagevolge sal nog lank met ons wees … luister hoe mense ver van alles [!] af op vlaktes neergesit is.” Carstens se stellings is absoluut ongenuanseerd. Hy sluk ANC-propaganda soos ‘n honger vis. Distrik Ses was ‘n krotbuurt en misdaadnes. Dit is opgeruim nie net om apartheid te dien nie, maar ook om ruimte vir snelweë te skep. Daar is armes in alle lande. Baie van dié wat plaaslik plak, is onwettig hier. Deesdae word mense nie net uit huise gesit nie, maar selfs uit plase. Vir die mense van Distrik Ses is beter huisvesting as wat hulle gehad het, voorsien. Dit is waarom die oorgrote meerderheid sonder teenstand hervestig kon word.

Carstens se jongste relaas is weer deurspek met hoe sagkens ons Afrikaans moet bevorder. “Die wyse waarop ons ons in Afrikaans uitleef, bepaal of die ander inwoners van die land ons hier gaan duld.” Juis daarom behoort ons myns insiens die moed van ons oortuiging te hê om swaarde met Engels en die verderflike ANC te kruis eerder as om aljimmers tru te staan. Engels bedreig die voortbestaan van Afrikaans en die ANC is nie ‘n vennoot nie maar onmiskenbaar ‘n/dié vyand van Afrikaans. Carstens se benadering verskil radikaal hiervan. Hy sluit sy betoog (heel voorspelbaar) soos volg af: “Kom laat ons mekaar se hande vat en regmaak wat verbrou is en dan bou ons hierop saam ‘n nuwe toekoms vir Afrikaans. Dit moet ‘n toekoms wees waarin kleur nie ‘n rol speel nie.” Dan sal Carstens sy voorkeur vir bruines moet afsweer. Die “regmaak wat verbrou is”, mag nie uitsluitlik op “apartheid” fokus nie. Dit sal veral die kolossale droogmakery sedert 1990/1994 moet aanspreek.

Hennie van Coller het onlangs (Praag 16 deser0), sonder om Carstens by die naam te noem, ‘n verdienstelike opsomming van die Wannie-dogmas of “-aksiomas” verskaf: “Dat Afrikaans onder ‘n vroeëre bedeling bevoordeel is bo ander tale; dat Afrikaans om te oorleef groter erkenning moet verleen aan sub-variëteite (soos Kaaps) deur dit te erken in woordeboeke en spelreëls, en dat Afrikaans se redding lê in logiese en beredeneerde argumente wat vriendelik gestel word.”

Die wesenlike gevare wat die huidige opset by die ATR vir Afrikaans inhou, is myns insiens groot. Die eerste twee voorsitters, Carstens en Le Cordeur, is met die Afrikaans van bruines gepreokkupeer. Die huidige voorsitster, Beukes, se belangstelling is die Afrikaans van swartes. Teen die Afrikaans van bruines en swartes as sodanig behoort daar geen beswaar te wees, mits dit ewewigtig uitgeleef word. Met Hendrick Theys as ondervoorsitter en moontlik die volgende voorsitter is daar tans geen vooruitsig dat iemand in ‘n leidende posisie in die ATR hom/haar oor die kwalitatiewe kern van Afrikaans, die van Afrikaners, besorg gaan maak nie.

Tot slotte toon ek aan hoe destruktief hierdie ATR-gesindheid uitkring. Carstens was tot onlangs die voorsitter van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns. In 2013 is sy Potchefstroomse kollega, Gerhard van Huyssteen, as voorsitter van die Akademie se Taalkommissie aangestel. Van Huyssteen het dadelik met oorverligte uitlatings ten koste van, of toegepas op, Afrikaans vorendag gekom. Die jongste is dat woorde uit twee Afrikaans-variëteite wat tradisioneel buite Standaardafrikaans val, te wete Kaaps en Oranjerivier-Afrikaans, in die hersiene Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS) opgeneem gaan word. Daar is glo nou ‘n wyer siening van wat Standaardafrikaans is. “Van Huyssteen het toegegee dat die insluiting van Kaapse en Oranjerivier-woorde in die AWS ‘n sensitiewe kwessie is, en een wat spesifiek onderneem is om historiese ongelykhede by die vasstelling van die standaardtaal te probeer regstel” (Die Burger, 20 April, p 3). Soos die ATR laat die Taalkommissie hom dus deur politiek aan die neus lei. Dié kommissie is besig met “regstelling”, oftewel boetedoening, ten koste van Standaardafrikaans.

Op Netwerk24 (20 April) is daar ‘n vollediger berig, bv dat “skanghagha”, wat sekerlik onafrikaans lyk en klink en “in die haak” beteken, voortaan as Standaardafrikaans erken word. Van Huyssteen het gesê: “Ons bespreek al lank die moontlikheid om streeksvariëteite in die AWS te erken en [daarom] het ons besluit om verskeie woorde voorlopig op te neem.” Die implikasie kan wees dat, soos wat reeds met die land gebeur het, Standaardafrikaans onherkenbaar opgedonder word. Die punt is dat ter wille van opportunistiese politieke oorwegings die wesenlike funksie en historiese aard van die AWS nou misken of getransformeer word. Die AWS se rol was normgewend: Wat daarin staan, was algemeen erkende en beskaafde Afrikaans. Daarenteen is dit die taak van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) om bv streektaal te dokumenteer. Die AWS oortree dus nou op die terrein van die WAT.

Die 9de uitgawe van die AWS (2002) het met ‘n ander en beter plan as dié van Van Huyssteen vorendag gekom. Daarin is ‘n lys woorde opgeneem wat “Omgangsafrikaans” genoem is. Hulle is met ‘n teken gemerk aan aan te dui dat hulle nie die status van, of dieselfde erkenning as, Standaardafrikaans het nie (Steyn, p 471). Oorsensitiewe weses kon dalk redeneer dat die AWS nie Kaapse woorde apart durf lys nie, want dit sou mos op apartheid neerkom. Ons mag mos deesdae nie meer onderskei/diskrimineer nie. In die 10de uitgawe van die AWS (2009) word oor Omgangsafrikaans gesê: “Die behandeling daarvan in die AWS impliseer egter geensins dat die Taalkommissie die gebruik daarvan wil bevorder of te kenne wil gee dat sulke woorde of uitdrukkings as Standaardafrikaans beskou (kan) word nie” (p xxi-xxii; ook 551). Van hierdie gesonde beleid wil Van Huyssteen nou om politieke redes afsien en terselfdertyd die normgewende aard van die AWS verwater.

Waarvan oorverligte Afrikaanse taalkundiges wil wegkom, is die waarhede wat in die eerste uitgawe van die AWS (1917) staan: Afrikaans is “die enigste middel waardeur ons volksindividualiteit kan bewaar blij.” Dit is “die draer van die geestelike selfstandigheid van ons volk.” In dieselfde trant skryf DF Malherbe: “Die skepping van ‘n skrijftaal is, meer of minder bewus, een van die voornaamste vorme waarin ‘n volk sijn eie individualiteit, sijn eie beskawing wil opbouw” (Steyn, p 154). Toe daar in 1914 besluit is om met die publikasie van die AWS te begin, het CJ Langenhoven sy beroemde toespraak oor Afrikaans as witmanstaal gelewer (Praag 16 deser). Die Afrikaner moes onderskei tussen “wat syne en hulle s’n is” (Steyn, p 155). Deesdae is enige ons/hulle-onderskeid taboe, al beleef iedereen daagliks steeds die werklikheid, waarheid en noodsaaklikheid van hierdie onderskeid.

Soos sy etniese genote bekommer Adam Small hom nie oor die toekoms van Afrikaans nie. Hy maak aanspraak op vaderskap van Kaaps; ten minste van die naam. Hy dra klaarblyklik kennis van die hoër louere wat Van Huyssteen vir Kaaps beoog. Small noem Kaaps “hierdie spruit van die taal, wat nou soos ‘n groot boom staan binnekant die volle boord van Afrikaans” (Rapport, Weekliks, 17 deser, p 4). Daar is egter mense, soos Dries Bezuidenhout, wat Kaapse woorde, soos spreeus, uit die boord van Afrikaans wil weghou. Met verwysing na Nathan Trantraal se Kaaps definieer hy hierdie mengeltaal as “‘n mengsel van Engelse en verkeerd gespelde Afrikaanse woorde … Dit is lankal nie meer interessant, oulik of snaaks nie” (Rapport, Weekliks, 17 deser, p 10).

Van die kant van die ATR is geen ontsmettingsinisiatief in die vooruitsig nie, Dit is dringend noodsaaklik dat die ATR drasties hervorm of vervang moet word met ‘n liggaam wat algemeen-beskaafde Afrikaans doeltreffend bevorder.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.