Johan Botha: ANC se terreurdade was misdaad teen die mensdom, nie apartheid

Deel op

Die redes wat deur Jane Mufamadi, uitvoerende hoof van die Vryheidspark, aangevoer word waarom die name van die lede van die voormalige Suid-Afrikaanse Lugmag wat in die 1983 Kerkstraatbomvoorval gesterf het nie op die gedenkmuur aangebring kan word nie, maak ‘n bespotting van die slotgedeelte van die Tussentydse Grondwet wat ook die hoeksteen vir die huidige Grondwet is.

‘n Aanhaling uit die slotgedeelte van die Tussentydse Grondwet lees soos volg “

“….. Die aanvaarding van hierdie Grondwet lê die vaste fondament vir die mense van Suid-Afrika om die verdelings en tweespalt van die verlede, wat gelei het tot growwe skendings van menseregte, die verbreking van menslikheidsbeginsels in gewelddadige konflik en ‘n nalatenskap van haat, vrees, skuld en wraak, te oorbrug.

Die geleentheid is daar om dit nou reg te stel op die grondslag dat daar ‘n behoefte bestaan aan begrip en nie wraaksug nie, ‘n behoefte aan herstel en nie vergelding nie, ‘n behoefte aan medemenslikheid en nie viktimisering nie….”

Die klakkelose stelling deur Jane Mufamadi dat die lede van die lugmag wat gesterf het deel van die haatlike apartheidstelsel was wat tereg deur die internasionale gemeenskap as ‘n misdaad teen die mensdom beskryf word, maak dit noodwendig ook van toepassing op die kerk, openbare sektor en talle instellings wat deel van die vorige bedeling was. Hierdie stelling misken die feit dat die Kerkstraatbomvoorval as sodanige ‘n growwe skending van die bepalings van die Geneefse Konvensie was en volgens alle internasionale omskrywings self ‘n misdaad teen die mensdom was. Daarbenewens kan bykans alle dade wat deur lede van Umkhonto weSizwe as deel van die ANC se beleid gepleeg is, volgens internasionale beginsels as ‘n misdaad teen die mensdom beskou word.

Dit is ironies dat Jane Mufamadi enersyds weier om die name van voormalige lugmaglede op die gedenkmuur te plaas bloot omdat hulle deel van die sogenaamde haatlike apartheidstelsel was sonder om van enige daad melding te maak, maar dit andersyds betreur dat die name van die twee bomplanters wat ‘n afgryslike daad gepleeg het, nie vir goedkeuring om op die gedenkmuur geplaas te word, voorgelê is nie.

Solank as wat die ANC die bepalings en wese van die slotgedeelte van die Tussentydse Grondwet misken, is daar geen hoop op daadwerklike versoening nie.

– Johan Botha, voorsitter, Stigting vir Gelykheid voor die Reg

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.