Die prys van lewe in Sierra Leone

Deel op

Image

Hospitaal in Sierra Leone vir melaatses en teringlyers

06:02:32 Die jong liggaam lê op 'n geroeste waentjie in 'n hospitaal waarvan die gebou al beter dae gesien het, maar dit is die beste wat die land het. Die vrolike materiaal wat nou haar doodskleed is, was so paar ure terug haar rok gewees, maar dit is Afrika waar lewe nie maklik is nie. Veral in plekke soos Sierra Leone, waar die lewe nog minder werd is as in ander dele van die kontinent.

Deel op

Die krag was weereens af in een van Afrika se armste stede en in die sagte kerslig kon mens uitmaak dat 'n papiertjie met 'n naam en "RIP" aan op die liggaam se maag geplak is. Sy is sowat 15 minute terug oorlede, nadat daar komplikasies ingetree het tydens die geboorte van haar kind.

In die donker gang, so 'n ent van waar die liggaam lê, hou haar susters en vriendinne mekaar vas en herhaal haar naam. "Fatmata, Fatmata…" Haar naam was Fatmata Jalloh, en haar eersgeborene, 'n stewige, gesonde seun, is 8 ure terug gebore. Haar man, Saidu Jalloh, was net so opgewonde soos sy oor die koms van hul eersteling.

Hoewel sy nooit skoolgegaan het nie was sy baie gewild onder haar vriende; sy was altyd vriendelik, met 'n glimlag vir almal.

Hulle het 'n jaar gelede getrou en het in 'n gehuurde kamer gaan woon. Haar pa is soos vele mans 'n Afrika 'n poligamis, met drie vrouens . Fatmata was die oudste kind van haar moeder en die vierde oudste van 16 kinders.

Die amptelike rede vir haar dood is nageboortelike bloeding. Sy het gesterf in 'n land waar net die proses om geboorte te gee oor 'n een-uit-agtkans beskik dat die moeder kan sterf, gemeet teenoor 1 uit 4 800 in die VSA en 1 uit 48 000 in Ierland.

In die weste van Afrika is die sterftesyfers terwyl vroue geboorte gee die hoogste ter wêreld. Dit is net een van die gevolge van 10 jaar se burgeroorlog wat in 2002 geëindig het met erge tekorte op omtrent elke vlak van die lewe. Voedsel, behuising, mediese dienste. Daar is niks wat nie steeds die nadelige invloed van die oorlog voel nie.

Volgens Thoraya A. Obaid, uitvoerende direkteur van die VN se bevolkingsfonds, word daar nie veel aandag gegee aan sterftes van moeders tydens geboorte nie, aangesien "groter globale" gesondheidskrisisse, soos MIV/Vigs, malaria en tuberkulose meer in die mode is en by groot internasionale kongresse bespreek word.

Die feit dat vroue sterf as gevolg van bloeding, obstruksies en ander swangerskapverwante probleme word maar net gesien as een van die gevolge van armoede. Die vroue maak baie keer nie die regte keuses nie, en eindig dan met tuisgeboortes op stowwerige vloere in plaas van gekwalifiseerde personeel wat hulle lewens kon red indien daar komplikasies sou ontstaan. Jaarliks sterf daar sowat 500 000 vroue wat geboorte gee, maar die groter deel van die syfer is in ontwikkelende lande, en die weste van Afrika val gewis onder dié groep.

Rondom agtuur die Dinsdagaand het Fatmata begin kla oor rugpyn, en haar suster het haar aangeraai dat hulle na die kliniek toe gaan waar sy vir voorgeboorteklasse geregistreer was. Die Wellington-gesondheidsentrum was ongeveer 'n halfuur se loop weg, en vir iemand wat naby aan kraam is, is dit 'n lang pad om te loop. Taxi's is skaars daar en 'n buurvrou het aanbeveel dat hulle na 'n suster gaan wat nader woon. Die nag se donker is net verbreek deur flou ligte wat skyn in sinkhuisies met grondvloere, die standaard in die omgewing. Omtrent 10:30 het hulle Elizabeth Cole se huisie bereik.

Dit was 'n enkelverdiepinggeboutjie en Fatmata is na die geboortekamer gelei, 'n klein, vuil vertrekkie met dik geel plastiek op 'n ou bed. Daar was nie tyd om enige hulp in te roep nie, en die baba is daar gebore, klaarblyklik sonder enige probleme, en Fatmata se man is laat roep. Hy het so 'n rukkie gebly en is weer huis toe. Teen vieruur die oggend het Fatmata gekla van erge maagpyn en het ernstig begin bloei. Haar man is laat roep, waarna hy naarstiglik gesoek het na iemand wat 'n motor het om sy vrou na die hospitaal te neem.

Nadat hulle iemand gekry het om haar te neem het hulle die 20-minuterit na die Princess Christian-hospitaal aangepak, waartydens sy meer as een keer gesê het sy dink dat sy gaan sterf. Teen 06:06 het die verpleegsters haar met 'n waentjie die hospitaal ingestoot, en waar sy vroeër gepraat het, het sy nou net na haar asem gesnak. Haar pols was skaars waarneembaar, net soos haar bloeddruk. Teen dié tyd was sy reeds bewusteloos.

Die kraamverpleegsters het vinnig agtergekom dat die jong vrou baie bloed verloor het en haar man afgestuur na die hospitaal se bloedbank, waar daar soos gewoonlik niks was nie. Dit het ook nie gehelp vir haar toestand dat sy gedurende die laaste drie weke gevas het in die maand van Ramadan nie, en van haar man het hulle vasgestel dat sy nie haar vitamienaanvullings geneem het nie. Die personeel van die bloedbank het vinnig 'n pint bloed gekoop van 'n swartmarkhandelaar, waarna dit getoets en aan haar man verkoop is.

In die hospitaal is daar niks waarvoor die pasiënt se familie nie self betaal nie, het dokter S.K Sideque, die een ginekoloog, vertel. Voordat hulle 'n keisersnee kan doen, moet die familie eers na verskeie handelaars gaan om die nodige handskoene, kateters, bloed, en ander goedere te gaan koop.

Die kraamkamer is 'n beige vertrek met geblomde gordyne tussen die ondersoekhokkies. Die beddens self is gehawend en reën en insekte kom by die oop vensters in. Die reuk van urine en dood kleef aan die hele hospitaal, iets waaraan mens nie kan ontsnap nie.

Die verpleegster het die sak bloed opgehang en die naald in haar arm ingedruk, die bloed het begin drup in die pypie en daar gestop. Haar hart het gaan staan en sy is teen 07:14 dood verklaar. Die hoofverpleegster het opgemerk dat as sy vroeër by die hospitaal gekom het sy dalk nog sou leef, maar dit is die nalatenskap van oorlog op 'n klein landjie: onnodige sterftes.

Haar liggaam is op 'n draagbaar gelaai en in die parkeerterrein ingedra, waar 'n verbygaande vragmotor gestop is en die draagbaar op die bed in die voertuig gelaai is. Fatmata se familie en vriendinne her almal saam in die klein ruimte geklim en die vragmotor het die verkeer met noodligte wat flikker aangedurf. Sowat 20 minute later het hulle by haar vader se woning gestop, waar 'n klompie vroue haar naam geroep het terwyl die mans die liggaam uit die vragmotor gelaai het en haar in die huis ingedra het.

Haar ma was elders, sowat 8 ure se ry weg, waar sy besig was om haar eie siek ma te versorg.

Die mans doen in die Moslemgemeenskap die voorbereiding en haar liggaam is in 'n klein badkamer gewas en in 'n wit kleed toegedraai.

Net voor vieruur het die mans die huis binnegegaan en haar liggaam in 'n kis geplaas wat hulle van die plaaslike moskee geleen het. Die kis is op 'n afleweringswa geplaas en na die begraafplaas geneem, waar net mans toegelaat word, volgens die Moslemtradisie. Tien ure nadat sy oorlede is, het haar man die eerste graaf vol grond in die graf begin gooi.

декоративная лепка на стенах фотоЛобановский

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.