Staatsdiensvakbonde en die regering het ‘n ooreenkoms bereik om salarisse met sewe persent te verhoog.
Reuters berig dat die ooreenkoms ‘n staking deur sowat 1,3 miljoen staatsamptenare afgeweer het.
Vakbonde wat by Cosatu ingelyf is, het aanvanklik ‘n verhoging van 15% geëis, maar dit later gedurende uitgerekte samesprekings na tien persent verminder.
Staatsamptenare sal ook verbeterde behuising- en mediese toelae ontvang.
Die Staat het vroeër aangedui dat hy nie ‘n algemene verhoging van tien persent vir staatsamptenare kan bekostig nie en by sy aanbod van 5,8% gehou.
Daar word reeds 400 miljard rand aan die salarisse van staatsamptenare uitgegee.
Duisende lede van sewe Cosatu-geaffilieerde staatsdiensvakbonde het vroeër die week in Pretoria betoog en gedreig met ’n landwye staking as daar nie aan hul eise gehoor gegee word nie.
Die hoofsekretaris van die staatsdiens se koördinerende bedingingsraad, Frikkie de Bruin sê die samesprekings was moeilik en dat dit die beste uitslag is waarvoor gehoop kon word.