Dan Roodt: 20 Mei en die heerskappy van terreur in Suid-Afrika

Kerstraatbomtoneel
Deel op

Toespraak gelewer op 20 Mei 2015, Kerkstraat, Pretoria by die geleentheid van die Kerkstraatbomherdenking.

Vandag is 20 Mei, ‘n byna vergete dag op die Suid-Afrikaanse kalender. Soos ek egter nou aan u gaan verduidelik, moet 20 Mei 1983 as die aanvang van die huidige tydvak in ons geskiedenis gesien word, en nie 27 April 1994 nie. Ons land is uniek in die wêreldgeskiedenis in die sin dat hy reeds langer as 30 jaar in die greep van terreur verkeer, op dieselfde wyse as wat Frankryk slegs twee jaar, tussen 1792 en 1794, deur terreur gekenmerk is. Daardie tydvak, toe Robespierre en sy bloeddorstige geesgenote geregeer het, staan as “La Terreur” bekend.

Net so moet die afgelope 32 jaar, van 1983 tot 2015, as “Die Terreur” van Suid-Afrika gesien word. Soos ons almal weet, het geweld teen burgerlikes sedert 1983, in weerwil van praatjies oor die koms van demokrasie en dergelike slapenstydverhaaltjies, nog nooit afgeneem nie. Inteendeel, terrorisme het per definisie sedert 20 Mei 1983 feitlik konstant toegeneem.

Een van die oogmerke van terrorisme is chaos en verwarring. Daar heers vandag soveel verwarring onder ons eie mense, die Afrikanervolk van Suid-Afrika, maar ook onder ander groepe in die land, dat niemand eens meer in staat is om helder te dink nie. Ek daag u uit om enigeen vandag op straat voor te keer en te vra: “Wat is terrorisme?” Waarskynlik sal daardie persoon vaagweg iets oor bomme of aanvalle op burgerlikes kon sê, of dalk glad nie eens nie. Dalk sal hy weet van die World Trade Centre se vernietiging op 11 September 2001. Miskien is hy bewus daarvan dat die sogenaamde “Boston-bomwerper” onlangs ter dood veroordeel is.

In die VSA word terroriste gestraf en ter dood veroordeel. Stel u dit voor! Hier by ons word terroriste kwytgeskeld, bewonder, selfs vereer. In Johannesburg is daar ‘n straat na mnr. Joe Slovo, die aanvoerder van die terreurgroep wat die Kerkstraatbom gestel het, vernoem. Mnr. Aboobaker Ismail, wat die komplot gesmee het om 19 mense op straat te kom vermoor en 200 te beseer, is met ‘n hoë pos aan die Suid-Afrikaanse Reserwebank beloon. Nog ‘n terroris, mnr. Ronnie Kasrils, was op ‘n stadium ‘n minister in die ANC-kabinet.

Terwyl terroriste in ons land soos helde opgehemel word, verkeer diegene wat hulle probeer stuit het dikwels in die gevangenis. Steeds krepeer daar honderde Afrikaner- politieke gevangenes wat hulle teen terreur – ook Die Terreur van die huidige tirannieke tydvak – probeer verset het, in die tronke. Nog ‘n terroris en misdadiger wat polisiehoof geword het, Jackie Selebi, het nadat hy vir korrupsie gevonnis is, skaars die tronksel gehaal, of hy is op mediese parool vrygelaat. Maar vir die eerlikes, die nie-terroriste, die patriotte, is daar nóg kwytskelding, nóg parool. Hulle word deur ons regerende terroriste aangehou en genadeloos as pionne in die voortdurende terroriste-oorlog wat hulle steeds teen ons burgerlikes voer, gebruik.

Terug by daardie vraag wat ek ‘n oomblik gelede gevra het: Wat is terreur en terrorisme? Robespierre, die vader van terreur, het sy eie definisie gehad. Hy het gesê:

“Terreur is niks anders as summiere, streng, onwrikbare geregtigheid nie; daarom spruit dit voort uit deug; dis minder ‘n partikuliere begrip as wat dit die gevolg is van die algemene beginsel van demokrasie.”

Hier sien u dus die assosiasie van terreur met demokrasie, deur die vader van terreur, Robespierre. In die denke van die meeste linkse radikale sedertdien, Marx, Lenin, Ché Guevara, Mao Zedong, Pol Pot, die Baader-Meihhof, Carlos die Jakkals, Joe Slovo, Aboobaker Ismail, Chris Hani, noem maar op, vind ons dieselfde gedagte keer op keer terug: Die demokrasie heilig terreur. Slegs deur die bevolking te verskrik, kan jy hulle oortuig om die diktatuur van die sogenaamde “Regverdiges” te aanvaar. In die oorspronklike Frans lui Robespierre se uitspraak só:

La terreur n’est autre chose que la justice prompte, sévère, inflexible; elle est donc une émanation de la vertu ; elle est moins un principe particulier, qu’une conséquence du principe général de la démocratie,

Terrorisme, ten minste in die beskaafde wêreld – en Suid-Afrika is lank nie meer deel van die beskawing nie – is ‘n internasionale misdaad en daarom strafbaar. Daar bestaan verskeie internasionale konvensies wat terrorisme verbied. Reeds in die 1930’s het die Volkebond ‘n definisie van terrorisme verskaf wat sedertdien deel van nasionale wetgewing, asook die internasionale reg geword het. Ook die Amerikaanse Federal Bureau of Investigation (FBI) aanvaar hierdie definisie, wat in die Verenigde State se kode 18, artikel 2331 vervat is. Terrorisme, en ek haal aan uit die Amerikaanse kode aan:

“Behels gewelddade of dade wat menselewens bedreig en die federale of staatsreg oortree;

Skyn die bedoeling te hê om (i) ‘n burgerlike bevolking te intimideer of te dwing; (ii) om die beleid van ‘n regering deur intimidasie of dwang te beïnvloed; of (iii) om die optrede van ‘n regering deur massavernietiging, sluipmoord of ontvoering te beïnvloed…”

Ook die Europese konvensie op die onderdrukking van terrorisme wat op 27 Januarie 1977 aanvaar is, praat in artikel 1 (e) van:

“‘n oortreding wat die gebruik van ‘n bom, ‘n granaat, vuurpyl, outomatiese vuurwapen of brief- of pakketbom behels indien dit mense in gevaar stel”.

Kragtens al hierdie internasionale definisies, asook binne die ou Terrorismewet van Suid-Afrika, was die Kerkstraatbom ‘n klassieke en onontkenbare geval van terrorisme. Almal wat daaraan deelgeneem het, asook die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty en die ANC, is steeds daarvoor strafbaar want sowel nasionale as internasionale wetgewing was destyds van krag. Soos ek ook in my boekie oor die Waarheids- en versoeningskommissie argumenteer, was Biskop Tutu se liggaam niks anders as ‘n boendoehof wat spesifiek ten doel gehad het om terroriste kwyt te skeld terwyl diegene wat dit probeer bekamp het, soos die destydse weermag of polisie, maar ook burgerlikes, vervolg is!

Vandaar dus my frankofiele term vir die huidige tydvak in ons geskiedenis: “Die Terreur”. Eendag sal ons kinders en kleinkinders op skool daarvan lees en oorstelp wees om te verneem dat dit ooit bestaan het: Die Terreur, ‘n era toe terrorisme vergoeilik is en die kritici daarvan verguis of vervolg is.

Terrorisme behels politieke dwang en intimidasie, en dit bedreig of neem menselewens. Selfs ‘n kind kan dit verstaan. Daar is egter ‘n ander betekenis van terrorisme waarop ek in ‘n woordeboek afgekom het en dit benoem die toestand van die slagoffer. Volgens hierdie definisie dui terrorisme óók op “die toestand van vrees en onderwerping wat deur terrorisme of terrorisering veroorsaak word”.

Die meerderheid Afrikaners, selfs die meerderheid van die bevolking in ons land, ly vandag aan terrorisme want hulle verkeer in ‘n “toestand van vrees en onderwerping”. Dis waarom hulle tydens die laaste verkiesing vir partye gestem het wat terrorisme as politieke middel uitdruklik aanvaar. Nie net het die ANC en SAKP het hierdie verskrikkingsdaad op 20 Mei 1983 gepleeg nie, maar mev. Helen Zille van die DA het reeds in die openbaar haar openlik geskaar by diegene wat in die verlede terreurdade gepleeg of beplan het. Sover ek verstaan, het sy selfs met trots vertel dat sy terroriste gehuisves of gehelp het, iets wat op sigself ‘n strafregtelike en internasionale oortreding verteenwoordig.

Onlangs het ek die outobiografie van dr. Niël Barnard, die voormalige hoof van Nasionale Inligting, gelees. Daaruit blyk helder dat sy departement waarskynlik heel eerste voor die terroriste-aanslag gekapituleer en begin meewerk het om die NP-politici tot hul uiteindelike eerlose oorgawe te oorreed.

Soos ek reeds hier bo gesuggereer het, is die gewelddadige tydvak wat op 20 Mei 1983 ingelui is, helaas nie verby nie. Steeds duur gewelddadige aanvalle op ons mense voort en daar word beraam dat 75 000 Afrikaners reeds sedert die ANC-SAKP se oorname in 1994 vermoor is. Die media en die betaalde propagandiste, die meelopers van die terroriste, bied dit as “gewone misdaad” aan. Ons moet egter onthou dat verskeie marxistiese en radikaal linkse denkers ook ‘n revolusionêre rol aan die misdadigersklas, die sogenaamde “loempenproletariaat” toeken. Elke plaasmoordenaar is ‘n vryheidsvegter, ‘n lid van Umkhonto wat steeds vrees en terreur inboesem, al dra hy geen uniform nie.

Dis vir my ontstellend dat mense die gedagte kan opper dat ons hoegenaamd die terroris moet vergewe, dat ons hom moet kwytskeld en selfs met hom behoort te versoen. Vandag, soos in 1983, behels die internasionale pogings om terreur te bekamp juis om enige politieke motivering vir terrorisme ongeldig te verklaar. Net in Suid-Afrika en enkele ander lande wat as afvallig van die internasionale stelsel beskou word, word terrorisme teen burgerlikes as ‘n legitieme vorm van politiek erken. In elke ander land is dit strafbaar. Terreurdade verjaar ook nooit nie, dus solank as wat die daders wat by die Kerkstraatbom of Amanzimtoti of Magoo’s Bar betrokke was, leef, bly hulle internasionaal strafbaar.

Hoewel daar tekens is dat Afrikaners uit hul eie terrorismetoestand begin ontwaak, dat hulle politieke intimidasie en dwang, asook hulpelose onderwerping, nie meer aanvaar nie, is dit nog te vroeg om van ‘n herlewing te praat. Daarom rus daar ‘n sware verantwoordelikheid op die minderheid van ons wat nie meer Die Terreur eerbiedig nie om met die reg en morele hoëgrond aan ons kant die moeisame stryd daarteen aan te pak.

Ons vergewe nie en ons vergeet nie. Ons versoen ook nie met die terroriste nie. In dié opsig moet ons soos die Jode en die Israeli’s wees wat nou nog die bejaarde oortreders uit die tweede wêreldoorlog in die howe aankla en vervolg.

Die spreekwoord lui: “Die leuen is snel, maar die waarheid agterhaal hom wel.” Net so verteenwoordig die terreurdaad ‘n verblindende flits, ‘n sekonde waarin onskuldige lewens verwoes word, maar die gevolge daarvan duur lewenslank. Selfs langer – as ons die verskriklike uitwerking van terreur op ons politieke en maatskaplike lewe, ons taal en kultuur, ons álles in ag neem. Kortom, terreur, Die Terreur wat ons steeds elke dag moet deurworstel, bedreig ons voortbestaan op ‘n wesentlike manier.

Die LUR vir onderwys in Gauteng, Panayaza Lesufi, wat tans Afrikaanse skole intimideer en dreig, is ook ‘n terroris. ‘n Onderwysterroris. Hy maak van dieselfde metodes gebruik om ‘n reeds verskrikte bevolking nog verder bang te maak, met chaos as uiteindelike doel.

Reeds in 2003 het PRAAG mense en organisasies opgeroep om jaarliks op 20 Mei die slagoffers van die terreuraanval op Kerkstraat, hier in die hart van Pretoria, die ou Voortrekkerstad, te gedenk. Mag dit jaarliks gedoen word. En mag elke terroris tot in lengte van dae vervolg word, in die howe maar ook in ons denke, totdat ons eendag van hulle en hul meelopers bevry kan word. Ook die state soos Swede, Duitsland, Nederland en ander wat terrorisme teen ons befonds of ondersteun het, moet aangekla word.

Dis nie waar dat een man se terroris ‘n ander se vryheidsvegter is nie. Ware vryheid is met terreur onversoenbaar. Trouens, vryheid is selfs die antitese van terreur.

Kom ons staan vandag en elke dag van ons lewens op teen terreur.

Ons sal antwoord op jou roepstem. Ons vir jou Suid-Afrika!

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.