Herrie oor kunswerk: “Ek is trots om rassis te wees…”

Deel op

Die kunstenaar, Willem Boshoff, wat bekend is vir sy kunswerke met gegraveerde woorde, het vir omstredenheid by die Venisiese Biennale gesorg met sy werk Racist in South Africa. Dit bestaan uit ‘n gedig wat op ‘n vierkantige aluminiumplaat van 1,2m gegraveer is en ‘n litanie van bekende klagtes oor die nuwe Suid-Afrika bevat. Die gedenkplaat begin met die woorde in Engels: “I am proud to be labelled racist in South Africa if it means that…”

Die kunswerk het agter ‘n herrie onder meer polities korrekte en Engelssprekende kunstenaars veroorsaak. Een so ‘n kunstenaar het anoniem aan die koerant City Press gesê “dis ‘n ballade van blanke bevoordeling… Ek sal Boshoff nooit weer ernstig opneem nie.” Iemand anders het gesê: “Hierdie werk is nie eens ‘n liberale persoon wat weeklaag nie. Dis 100% konserwatief.” Nog ‘n linkse kunstenaar meen: “Dis 2015 en dis al wat Suid-Afrika het om te wys? Ek het nie tyd vir sulke k.. nie.”

Toe hy om kommentaar genader is, het Boshoff bloot gesê: “Ek het niks om te sê nie; die werk spreek vanself. Ek het dit in 2011 gemaak toe dit tydens ‘n eenmantentoonstelling in Johannesburg vertoon is. Ek het dit nie vir die Biennale gekies nie; dis deur ‘n komitee aangewys.”

Boshoff was en die vroeë tagtigerjare deel van ‘n avant-garde-kuns- en letterkundebeweging waarby dr. Dan Roodt van PRAAG ook destyds betrokke was. Sowel Boshoff as Roodt het met konkrete poesië en Afrikaanse woorde geëksperimenteer wat deur Uitgewery Pannevis uitgegee is. Boshoff se grootformaatdigbundel van destyds heet Kykafrikaans en sy werk met woorde en inskrywings op metaal en klip kan as ‘n voortsetting daarvan gesien word.

Wille Boshoff se digbundel, Kykafrikaans, wat in 1980 verskyn het
Wille Boshoff se digbundel, Kykafrikaans, wat in 1980 verskyn het

Roodt het die volgende kommentaar gelewer: “Mens sien nou weer ‘n tipiese linkse heksejag wat deur die Naspersmedia soos City Press en Beeld teen Boshoff gevoer word. Nóg Ferial Haffajee van City Press nóg Adriaan Basson van Beeld verstaan enigiets van kuns of letterkunde. Hulle is linkse filistyne vir wie nivellering en konformisme soos ‘n godsdiens is. In hul wêreldbeskouing is daar geen plek vir kreatiwiteit of spraakvryheid nie. Vandaar nou dié poging om Boshoff se werk te stigmatiseer. Hy lewer ook ironiese kommentaar op die obsessie met beskuldigings van ‘rassisme’ in Suid-Afrika, soos dit deur Naspers, maar ook Afriforum, gepleeg word. Die verdelingslyn in Afrikaans en in Suid-Afrika loop steeds diegene wat meer vryheid en minder geweld/terreur wil sien, teenoor die Broederbond-NP-tipes wat met die ANC/SAKP vesmelt het en vandag vir lief neem met plaasmoorde, grootskaalse verkragting en ‘n korrupte rampokkerstaat. Eintlik voer ons nog dieselfde stryd as in 1980 toe ons as jong Afrikaners gepoog het om met ‘n meer kreatiewe benadering te kom. Ek kom al hoe meer mense teë wat ons destyds ondersteun het en vandag steeds met ons saamstem. Hulle sien ook in dat die gesanik oor rassisme die nuwe soort Lammie Snyman-sensuur is. Vandag se sensors is net baie dommer en groter barbare as dié van destyds.”

Sommige van Boshoff se kritici het sy kunswerk met die lirieke van Steve Hofmeyr vergelyk. ‘n Britse akademikus aan die Universiteit van die Witwatersrand, Chris Thurman, het sy “teleurstelling” met die werk uitgespreek.

Die tema van die Suid-Afrikaanse tentoonstelling in Venisië is What remains of tomorrow en van die swart kunstenaars fokus op die xenofobiese geweld in Suid-Afrika.

Een van die kurators van die tentoonstelling, Christopher Till, sê dat Boshoff meen dat hy “in geen opsig ‘n rassis is nie, maar dat die rassekaart altyd gespeel word sodra daardie kwessies ter sprake is… Ek het half voorsien dat daar ‘n reaksie op Boshoff se werk sal wees, maar dit poog nie om konfrontasioneel te wees of om ‘n groot kwessie te skep nie. Maar dit is ‘n stem, een tussen 13 ander, en dit word deur ‘n kunstenaar vanuit ‘n bepaalde perspektief uitgespreek.”

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.