Pik Botha se seun vaar uit teen BRICS

Deel op

Dr Roelof Botha meen BRICS se anti-Amerikaanse ingesteldheid kan Suid-Afrika suur bekom. Botha, Pik Botha se seun, het in ‘n meningstuk in Netwerk24 gesê die Wêreldbank en die Internasionale Monetêre Fonds in onvervangbaar wat “vryemarkbeginsels, private eiendomsreg, vryheid van spraak en demokrasie” betref.

Botha sê Suid-Afrika behoort sy deelname aan BRICS te heroorweeg omdat lidmaatskap “verhoudinge kan vertroebel met lande wat veel groter bydraes tot ons ekonomiese welvaart lewer en is buitendien hopeloos onbekostigbaar vanuit ’n fiskale hoek”.

Heelwat opgewondenheid het vier jaar gelede geheers toe Suid-Afrika genooi is om deel te word van die destydse Bric-groepering (Brasilië, Rusland, Indië en China).

Die nuwe klub van toonaangewende ontluikende ekonomieë staan as Brics bekend en sou kwansuis wesenlike ekonomiese voordele vir al vyf die lede inhou, veral op die gebied van internasionale handel en die ontwikkeling van infrastruktuur.

Agterna beskou is dié hoop grootliks beskaam. Met die uitsondering van Indië, wat ’n daadwerklike poging aangewend het om meer goedere van Suid-Afrika in te voer, het uitvoerhandel na Brasilië en Rusland onbenullig klein gebly (gesamentlik ’n rapsie meer as 1% van Suid-Afrika se totale uitvoer in 2014).

China is egter die grootste bron van hoofbrekens. Drie spesifieke probleemgebiede het die afgelope vier jaar ontstaan.

Eerstens het Suid-Afrika se uitvoer na China met slegs 4% gegroei sedert lidmaatskap van Brics.

Tweedens word dié uitvoer hoofsaaklik deur slegs twee items verteenwoordig, naamlik steenkool en ystererts, terwyl China nie veel belangstel in produkte met ’n betreklik hoë toegevoegde waarde nie (laasgenoemde behels hoofsaaklik afdelings 4, 6 tot 12, 16 en 17 van die internasionale standaard-klassifikasie van produkte).

China het verlede jaar slegs R11,5 miljard se goedere in dié produkgroepe van Suid-Afrika aangekoop, vergeleke met R13,2 miljard, R29,7 miljard en R31,2 miljard wat deur onderskeidelik Engeland, Duitsland en Amerika aangekoop is.

Derdens het Suid-Afrika ’n haas onversadigbare aptyt vir invoer van China ontwikkel, wat die handelstekort met dié land verlede jaar tot ’n nuwe rekord laat klim het.

Totale invoer van China het verlede jaar R168 miljard beloop, wat ’n handelstekort van R73 miljard met die wêreld se tweede grootste ekonomie verteenwoordig.

Die omvang van dié tekort word in perspektief gestel indien dit met die totale tekort op die Suid-Afrikaanse handelsbalans vir 2014 vergelyk word, naamlik R69 miljard (volgens die Reserwebank).

Dit beteken dat Suid-Afrika ’n handelsoorskot sou aangeteken het indien geen handel met China plaasgevind het nie.

Die groeiende handelstekort met China is veral kommerwekkend teen die agtergrond van Suid-Afrika se lidmaatskap van Brics, wat al hoe meer na ’n windeier lyk – met die uitsondering van handel met Indië.

Dit wil voorkom asof die Suid-Afrikaanse regering swak besluite geneem het ten opsigte van die keuse van handelsvennote met wie ­groter samewerking vir ­wedersydse ekonomiese voordele nagestreef word.

Suid-Afrikaanse uitvoer na tradisionele demokratiese handelsvennote het die afgelope vier jaar met indrukwekkende stygings vorendag gekom, ondanks die nagevolge van die 2009-resessie. Uitvoer na Amerika, Duitsland, Engeland en Nederland het sedert 2011 met onderskeidelik 14%, 16%, 30% en 51% toegeneem.

Die onlangse stigting van die Brics-ontwikkelingsbank (amptelik bekend as die Nuwe Ontwikkelingsbank) is ook ’n tameletjie, aangesien Suid-Afrika se vereiste bydrae tot die aanvangskapitaal van dié instelling buitensporig hoog is, naamlik $10 miljard.

Elkeen van die vyf lidlande is veronderstel om gelyke bydraes tot die stigtingskapitaal van $50 miljard te lewer, wat ’n belaglike reëling is indien relatiewe ekonomiese grootte in ag geneem word.

Suid-Afrika se BBP is slegs 2% van die gesamentlike ekonomiese uitset van Brics en dit sou billik (en nogal logies) gewees het om die omvang van elke land se BBP as maatstaf vir die kapitaal van die Brics-Ontwikkelingsbank te gebruik.

Die rekening vir lidmaatskap van die bank eindig ­egter nie hier nie. Daar word later van elke land ’n verdere $10 miljard verwag, asook ’n bedrag van $20 miljard vir die sogenaamde reserwe-valutafonds.

Die omvang van dié finansiële verpligting vir deelname aan die Brics-ontwikkelingsbank kan op twee maniere toegelig word: Dit is meer as die gesamentlike jaarlikse staatsuitgawes aan die SA Polisiediens, alle ekonomiese dienste, behuising, gemeenskapsontwikkeling en watervoorsiening.

Verder is dit ongeveer gelyk aan die algehele gesamentlike toegevoegde waarde van landbou, mynbou en konstruksie (in 2014).

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.