Twee mynbase sterf onder vreemde omstandighede in VSA

Deel op

Twee Suid-Afrikaners wat hoë poste in ’n omstrede Kazakstanse myngroep beklee het, is dood in ’n hotel in die VSA aangetref.

Die myngroep Eurasian Natural Resources Corporation (ENRC) het gesê albei mans was in hul diens, het die Guardian berig.

Gerrit Strydom (45) en James Bethel (44) is Saterdagmiddag 10 Mei in afsonderlike kamers van die La Quinta Inn in Springfield-noord, Missouri, dood aangetref.

Volgens die owerhede was daar geen teken dat ’n misdaad gepleeg is nie, het Netwerk24 berig.

Dit is nie bekend hoe en presies wanneer hulle dood is nie en bloedmonsters is vir toksikologiese toetse gestuur.

Strydom en Bethel het volgens Lisa Cox, polisiewoordvoerder, op 6 Mei by die hotel ingeteken. “Ons vermoed hulle is op 8 of 9 Mei dood, want hotelwerkers het vroeër kontak met hulle gehad,” het sy gesê.

Volgens ’n woordvoerder van ENRC was Bethel tot 30 September verlede jaar hoof van die maatskappy se koper- en kobaltbedrywighede in die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK).

Strydom was ten tye van sy dood hoofbestuurder van die myngroep se filiaal Congo Cobalt Corp in die DRK.

Die Britse kantoor vir ernstige misdaad (SFO) het in 2013 ’n ondersoek na bewerings van bedrog, omkopery en korrupsie in Kazakstan en Afrika gelas wat nog nie afgehandel is nie.

ENRC is die laaste paar jaar deur verskeie skandale geraak, met bewerings van korrupsie, ’n hofsaak oor geldwassery en vervalsing in België wat ná jare uiteindelik geskik is.

Ses jaar nadat ENCR goeie opgang op die Londense aandelebeurs gemaak het, moes hy denoteer. Sy drie stigters, Alexander Magkewitsj, Patok Kodiëf en Alijan Ibragimof, het die maatskappy gedenoteer.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.