Prof. Hennie van Coller: ‘Doodsklok vir Afrikaans lui’

Deel op

Daar woed in die afgelope tyd weer ’n druk debat rondom Afrikaans en (veral) sy hoër funksies. Sonder sy hoër funksies (soos die gebruik van die taal in die regswese, politiek, media en onderwys) is ’n taal geen volwaardige standaardtaal nie.

Veral oor Afrikaans as onderrigtaal op universiteit én op skool word druk geargumenteer.

Die debat het sy oorsprong by die planne van prof. Dan Kgwadi om ’n nuwe bestuursmodel vir die Noordwes-Universiteit in te stel (eintlik af te dwing) waardeur Afrikaans benadeel sal word.

’n Ander aanleidende oorsaak is die planne van die Universiteit van die Vrystaat om sy taalbeleid opnuut te bekyk en veral die motivering daarvoor.

In die debat word standpunte nogal argeloos gestel, asof dit aksiomas sou wees: Dat Afrikaans onder ’n vroeëre bedeling bevoordeel is bo ander tale; dat Afrikaans om te oorleef groter erkenning moet verleen aan sub-variëteite (soos Kaaps) deur dit te erken in woordeboeke en spelreëls, en dat Afrikaans se redding lê in logiese en beredeneerde argumente wat vriendelik gestel word.

In ’n vorige bedeling was daar twee amptelike tale: Afrikaans en Engels; indien Afrikaans sogenaamd bevoordeel sou gewees het, geld dit eweneens Engels.

Opvallend was egter dat die (“apartheids-”) regering juis inheemse tale uitgebou het deur die instelling van afsonderlike radiodienste tot by die oprigting van universiteite vir verskillende “bevolkingsgroepe”, soos in Bellville, Westville, Thohoyandou, Empangeni, Pietersburg en Umtata. Dat dit ’n verlengstuk was van die beleid van “afsonderlikheid” verander niks aan die feit nie.

Voorts is daar vandag bykans geen kultuurtaal ter wêreld wat nie beskik oor ’n standaardvariëteit nie. Uiteraard beteken dit nie dat ander dialekte of subvariëteite daarmee van die tafel gevee word nie. Ook nie dat die spelling daarvan nie bereël kan word nie. As gebaar bring dit die nodige versoening.

Máár dit is juis die standaardvariëteit waarin die hoër funksies uitgeoefen word. Al word hoeveel woorde of uitdrukkings uit Afrikaans se subvariëteite ook formeel erken, het Afrikaans steeds ’n standaardvariëteit nodig vir amptelike kommunikasie én as skryftaal. Daarsonder is die stryd teen ’n ander kultuurtaal van meet af aan verlore.

Dit het die Vlaminge met hul veelheid van dialekte en subvariëteite goed besef in hul lang taalstryd. Ironies genoeg word die pleidooi vir groter erkenning van subvariëteite in Volksblad ook in keurige standaardafrikaans gerig!

As akademikus glo ek aan logiese, beredeneerde en ad rem-argumente, en as mens glo ek dat beskaafde redenering en vriendelike omgang met mense belangrik is.

Maar dit getuig van naïwiteit om te dink dat jy daarmee kan en moet volstaan in ’n volskeepse oorlog. En die optrede van die regering in die afgelope jare teen Afrikaans is niks minder as ’n oorlogsverklaring nie.

Die afskaling van Afrikaans in die openbare sektor – SABC, politiek, hoër onderwys (ook deur samesmelting van universiteite) – en in die regswese; die onttrekking van staatsubsidies aan die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns en veral die voortdurende pogings om Afrikaanse skole te vernietig, is net die spits van die ysberg.

Die Nederlandse skryfster van veral historiese romans, Nelleke Noordevliet, het by geleentheid ongeveer die volgende beweer: dat geskiedenis as ’n terugblik op die verlede, nie primêr van historiese belang is nie, maar die teenswoordige tyd verstaanbaar maak én jou voorberei vir die toekoms of ten minste bedag maak op gevare wat wag.

Onbewese beskuldiging

Voorstanders van Afrikaans as onderrigtaal aan die UV kan met redelike gemak die belangrikste argumente weerlê waarom die onderrigtaalbeleid aan die UV opnuut bekyk moet word.

Die beskuldiging dat Afrikaanse studente bevoordeel sou word deur Afrikaanse dosente berus op persepsies (omdat hulle skynbaar beter presteer?) en nie op feite nie.

Die UV-bestuur se besluit om so ’n onbewese beskuldiging as belangrike argument te opper om ’n taalbeleid weer te bekyk, kom neer op die bevraagtekening van Afrikaanse dosente se integriteit.

Dat afsonderlike taalklasse apartheid sou bestendig, is onwaar, omdat die klasse oop is vir almal – ongeag geslag of kleur – en talle studente anders as wittes daarin sit.

Boonop word integrasie op soveel ander plekke op die kampus nagestreef (van die koshuise, studentepolitiek, sport en die verpligte eentalig Engelse UFS 101) dat dit ’n drogredenasie is.

Al geldige beswaar teen parallelmedium-onderrig is die herhaling van lesings, maar indien verskillende dosente dit behartig, is daar geen verdubbeling vir dosente nie.

Prof. Jonathan Jansen, rektor van die Universiteit van die Vrystaat. Foto: Jaco Marais

En die verdeling van groot klasse is in baie departemente reeds die gebruik vir dekades.

Maar ek vrees, beredeneerde en logiese argumente (hoe vriendelik ook gestel) gaan geen effek hê op ’n uitkoms wat vir my vasstaan nie: ’n eentalige Engelse universiteit waar Afrikaans selfs nie in enige openbare ruimte geduld sal word nie. En hierdie toekomsvoorspelling berus op wat in die verlede by die UV gebeur het.

Transformasie is die afgelope jare op verskillende vlakke by die UV deurgevoer. Dit het ook ’n direkte uitwerking gehad op die plek van Afrikaans binne die UV.

Nie net die aanstelling van verskeie eentalige Engelse persone in topposte nie, maar ook die inkorporering van twee Engelstalige kampusse het Afrikaans gemarginaliseer.

Rektor spilfiguur

Die huidige rektor, prof. Jonathan Jansen, was die spilfiguur in hierdie verwikkelinge en daarom is sy siening van Afrikaans ook belangrik.

Volgens ’n uitspraak van hom is “eksklusief Afrikaanse of selfs Afrikaans-oorheersende wit skole of universiteite . . . ’n ernstige bedreiging vir rasseverhoudinge in Suid-Afrika . . . ’n Mens kan gewoon nie jong mense voorberei om die letsels van ons verlede te verreken sonder om die beste moontlike geleenthede te skep om saam te leer en saam te leef nie”.

Hieruit moet ’n mens aflei dat eksklusief Engelse of Engels-oorheersende wit skole of universiteite nie ’n bedreiging vir rasseverhoudings inhou nie; die wit Afrikaner is die vlieg in die salf.

Dit word later duidelik dat hy vir Afrikaans selfs geen plek gun op skoolvlak nie – in ’n gepubliseerde artikel het hy voorgestel álle Afrikaanse skole moet hul voertaal na Engels verander.

Binne prof. Jansen se denke is aandrang op Afrikaans in skole en universiteite rassisties geïnspireer en taalaktiviste word oor een kam as rassiste geskeer. Daarom het hy die dood van prof Russell Botman voor die voete gelê van taalaktiviste by die Universiteit Stellenbosch.

In openbare uitsprake het prof. Jansen sy afkeer uitgespreek van die Kovsiekerk op kampus wat deur sy Afrikaanse dienste mense “uitsluit”.

Ook die Christelike en Nasionale Meisieskool Oranje is bygekom en Afrikaanse organisasies (van die SA Akademie tot en met die FAK) is bestempel as “kop in een mus”.

Hieruit blyk op die minste ’n aversie van (wit) Afrikaanssprekendes en dalk wittes as sodanig, want by geleentheid het hy na die naam van die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad verwys as “vreemd” en gesê dat “sulke name” (van vroeëre wit koloniste?) getransformeer moet word.

Binne die UV is Engels die afgelope jare met ’n ysterhand bevorder.

’n “Vrouemonument” met slegs Engelse inskripsies is opgerig. Op my skriftelike klag (as voorsitter van die UV-talekomitee) aan die rektor dat dit ’n klap in die gesig was van veral Afrikaans- en Sothosprekende vroue het ek ’n uitbrander ontvang omdat ek dit gewaag het om my brief in Afrikaans te skryf.

’n Ruk daarna is die talekomitee gewoon opgehef en het die enigste amptelike waghond oor taalsake verdwyn.

Tolking by die uitvoerende komitee van die senaat is beëindig en die verpligte kursus vir eerstejaarstudente (UFS 101) is ingestel. Dit word slegs in Engels gedoseer en alle besprekings is nét in Engels.

Gou was daar geen plek meer vir Afrikaans binne die studentepolitiek nie en studente het by my kom kla omdat hulle deur Rudi Buys, vorige studentedekaan, effektief verbied is om Afrikaans te praat.

Amptelike stukke en korrespondensie het toenemend slegs in Engels verskyn en openbare lesings en universiteitspublikasies het oorwegend of uitsluitlik Engels geraak.

Dit is merkwaardig dat by ander tradisioneel Engelse universiteite skynbaar ’n veel meer demokratiese gees heers: By die oer-Engelse Rhodes-universiteit word bepaalde kommunikasie toenemend in Engels, Afrikaans en isiXhosa uitgestuur.

By die afgelope paar kanseliersetes van die UV wat ek bygewoon het, het (veelal Afrikaanssprekende) gashere geen enkele woord in Afrikaans geuiter nie; selfs nie eens “baie welkom” nie.

Ook die huidige kanselier en oud-Vrystater het hom nooit verwerdig om maar één woordjie Afrikaans te besig nie. Ek sou kon aangaan.

Doodsklok lui lankal

Kortom: die doodsklok vir Afrikaans het lank reeds gelui op die UV-kampus.

Moet my dus nie verkwalik as ek sinies is oor die moontlike positiewe uitkoms van die “wye konsultasie” wat hieroor sal plaasvind nie.

Só is talle omstrede kwessies in die verlede ook behartig (soos oor die verandering van die kleure, wapen en leuse van die universiteit).

Ek herinner my bykans geen geval waar daar een wysiging aangebring is aan dit waaroor vantevore al besluit is nie.

Hoewel ek vuriglik hoop op ’n ander uitkoms, lyk my doemprofesie só: Die nuwe bestuursmodel en transformasie van die NWU-Potchefstroom-kampus sal nie gestuit kan word nie en ’n eentalige Engelse kampus (dalk ná ’n fase van parallelmedium-onderrig) lê in die verskiet. Die volgende teiken is Afrikaanse skole en daarna die Afrikaanse kerke.

In die hele proses is die Afrikaanssprekende sy eie grootste vyand, want ek voorspel nou dat van die voorste Afrikaanse hoërskole in Bloemfontein hulleself vrywillig gaan omskep in parallelmedium-skole sodra die UV se besluit val om eentalig Engels te word: “Om kinders voor te berei op Engelse onderrig.”

En hoe lank dan nog voordat die Vrystaat-Kunstefees dan ook oorwegend Engels gaan wees?

Is dit ondenkbaar dat binne só ’n klimaat van politieke korrektheid en “toeganklikheid” ander pilare ook gaan wankel?

Soos dat Volkblad (eers) met ’n naweekuitgawe in Engels begin om later tweetalig te word en dat Afrikaanse kerke besluit om Engelse dienste aan te bied?

Só was die situasie in die Wes-Kaap aan die einde van die 19de eeu waaroor C.P. Hoogenhout hom uitgelaat het: “Engels! Engels! Alles Engels! Engels wat ons sien en hoor; In ons skole, in ons kerke word ons moedertaal vermoor.”

Daar was gelukkig nog altyd die bittereinders en hulle is daar steeds.

Maar as Afrikaans wil oorleef, veral as volwaardige kultuurtaal, sal nuut gedink moet word. Daar sal onwrikbaar besluit moet word om sélf te koester, uit te bou en te skep.

Die prioriteit is ’n eie Afrikaanse universiteit, soos ek en kollega Jaap Steyn al 15 jaar gelede gepleit het en toe in rook afgeskiet is deur rektore van universiteite waar Afrikaans tans nie meer bestaan nie!

Voorts sal daar ’n inspirerende “bindende narratief” geskep moet word as samebindende krag.

By die Jode is dit godsdiens, by die Katalane en Baske, nasionalisme.

Sonder hierdie “bindende narratief” (of Groot Idee) wat Afrikaanssprekendes saambind oor kleurgrense heen, sal Afrikaanse vanne en artefakte in museums eendag dalk al herinnering wees aan ’n groep wat vir hierdie land ontsettend baie beteken het.

Prof. Hennie van Coller is voormalige departementshoof, Afrikaans en Nederlands, Universiteit van die Vrystaat, asook voormalige voorsitter: S.A. Akademie vir Wetenskap en Kuns

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.