Leon Lemmer: CJ Langenhoven oor Afrikaans: ‘My pêrel van grote waarde’

Daar is min dinge wat skinderpublikasies, soos veral Sondagkoerante, so interesseer soos die buite-egtelike verhouding, of ander seksuele avontuur, van ‘n bekende persoon. Omdat die afset van boeke ook hierdeur beïnvloed word, gee biograwe graag hieraan aandag. Een van die bekendste Afrikaanse biograwe, JC Kannemeyer (1939-2011), was lief hiervoor. Sy boek, Langenhoven, ‘n lewe (Kaapstad: Tafelberg, 1995, 728p) het aan Kannemeyer die geleentheid gebied om onder meer oor CJ Langenhoven (1873-1932) se dranksug en sy verhouding met sy assistent, Sarah Goldblatt (1889-1975), te skryf. Nie dat Kannemeyer se eie lewe wars – een van sy geliefkoosde woorde – van beskindering was nie, soos die dogter van ‘n vorige eerste minister, Estelle Strijdom (1936-2009), wat ‘n tyd lank met hom getroud was, dikwels getuig het. Dit was juis sy skinderlus wat veroorsaak het dat Kannemeyer glo nie toegelaat is om NP van Wyk Louw se biografie te skryf nie. Van Wyk Louw se weduwee, Truida Pohl (1913-2004), het dié taak eerder aan JC Steyn toevertrou, veral gedagtig aan Louw se verhouding met Sheila Cussons (1922-2004).

Die afgelope tyd was daar verskeie berigte oor die erkenning van Afrikaans as amptelike landstaal negentig jaar gelede. In hierdie rubriek belig ek Langenhoven se rol as stryder vir Afrikaans en die Afrikaner. Soms kontrasteer ek dit met wat direksielede van die Afrikaanse Taalraad (ATR) deesdae doen, hoewel ek die twyfelagtige rol wat die ATR speel eerder in ‘n volgende skrywe vollediger wil aanspreek.

Ek beskryf Langenhoven se rol in die taalstryd aan die hand van Kannemeyer se biografie omdat so baie van Langenhoven se publikasies daarin bespreek word. Langenhoven het in die omgewing van Oudtshoorn grootgeword en hom mettertyd in hierdie dorp gevestig. Aanvanklik was hy Engels- en anti-Hollands- (eerder as anti-Afrikaans-) gesind en het hy Louis Botha en Jan Smuts ondersteun. Die toetrede van Suid-Afrika tot die Eerste Wêreldoorlog en veral die daaropvolgende Rebellie (1914) het ‘n kentering in hom veroorsaak. In die politiek het hy ‘n ondersteuner van JBM Hertzog en DF Malan geword. Maar politiek as sodanig was nooit sy hartstog nie, al was hy agtereenvolgens lid van die Kaapse Provinsiale Raad, Volksraad en Senaat.

Tereg het Langenhoven geskryf dat “‘n suiwer opregte man beswaarlik ‘n suksesvolle politikus” kon wees (p 14, 360). Ons het “nie tien politikusse in die land … wat hulle siel hulle eige kan noem nie” (p 385). Kort voordat hy in 1920 tot Volksraadlid verkies is, was sy standpunt as kandidaat: “Waar daar ooit ‘n uitdraaipad kom en ‘n keuse noodsaaklik is, sal hy nie die koers van sy eie nasie laat vaar om die koers van ‘n ander nasie in te slaan nie en dat hy nie uit vrees of guns vir enige mens in die wêreld vir ‘n voorstel sal stem wat volgens sy oortuiging verderflik vir die belange van die Afrikanervolk is nie” (p 385). Hy sou myns insiens nie ‘n ja-broer vir die nuwe Suid-Afrika gewees het nie. “Langenhoven se eerlikheid was vir hom belangriker as enige politieke diplomasie of plooibaarheid” (p 423).

Vir Langenhoven het dit by uitstek om die bevordering van Afrikaans gegaan. Na sy dood het ‘n koerant, Die Vaderland, daarop gewys dat Langenhoven meer as enige persoon gedoen het “om ons publiek hul eie taal te leer lees en waardeer” (p 15). Hy was bekend om sy prosa en nie soseer om sy verhoogstukke en poësie nie. ‘n Uitsondering is “Die Stem”, wat hy op 30 en 31 Mei 1918 in sy huis, Arbeidsgenot, in Oudshoorn geskryf het (p 376). Kort daarna het hy in Kaapstad ‘n vierde strofe bygevoeg. ML de Villiers het die musiek gekomponeer (p 378). DJ Opperman het Die Stem in 1974 ‘n “statige eedaflegging en gebed van die Afrikaanse [eerder Afrikaner-] volk” genoem (p 379). Wie kon dink dat hierdie pragtige volkslied se status in die nuwe Suid-Afrika so radikaal sou verander dat dit volgens linkse elemente nie meer in die openbaar gesing mag word nie?

Kritiek op Langenhoven is egter ook uitgespreek, bv deur Fanie Olivier in 1973 tydens Langenhoven se eeufeesjaar. Hy het geskryf dat Langenhoven ‘n “oorskatte figuur” is, dat sy werk aan ‘n sekere “woordversiering”, ‘n opvallende liefde vir kontraswerking en ‘n oordaad van gemoedelike verkleinwoordjies ly en dat daar ‘n groot stuk sentimentaliteit, didaktiek en moralisering aanwesig is “wat so dikwels die vonkel in ‘n stuk werk verbleek”. Daarby vind hy dat die selfspot dikwels uitloop in “bedekte selfverheerliking” (p 55).

In dieselfde jaar het André P Brink met kenmerkende politieke motivering aangevoer dat Langenhoven “a disturbing example” is “of what happens to a writer if he has to write in order to serve a group. Langenhoven had an enormous talent that could never find complete fulfillment because of the stage of development in which Afrikaans literature was then” (p 55-56). Adam Small het Brink getroef deur Langenhoven ‘n “enigsins oppervlakkige skrywer” en ‘n “rassis” te noem. Vanwaar die vergesogte beskuldiging van rassisme? Want in Die Stem staan daar: “Dat die erwe van ons vaad’re vir ons kinders erwe bly” (p 56). Small voel uitgesluit van hierdie erflating vanweë daardie “ons”.

As prokureur en advokaat was Langenhoven nie gelukkig of suksesvol nie. Die redakteurskap van die Oudtshoornse koerant, Het Zuid-Westen (wat in die hele Suid-Kaap versprei is), en sy eie skeppende skryfwerk was meer na sy smaak. Hy wou “sy volk aan die lees en aan die dink … kry (p 251). Kannemeyer skryf dat “Langenhoven sy eintlike missie in die lewe met die ontdekking van die waarde van Afrikaans en die noodsaaklikheid van die verfyning daarvan vir sy eie mense gekry het” (p 49). Langenhoven noem Afrikaans “my pêrel van grote waarde” (p 569). Soos DF Malan en andere het hy tot die gevolgtrekking gekom dat “die keuse van ‘n taal in die eerste plek ‘n volksaak is” (p 223). Aan die begin van die vorige eeu, omstreeks 1905, toe Afrikaansbewustheid vorm begin aanneem het, het “die Afrikanervolk aan nasionale armoede gely” (p 223); nie net materieel nie, maar ook, dalk veral, kultureel-geestelik.

Mettertyd het hy ingesien dat “taalregte ‘n essensiële voorwaarde vir die volwaardige bestaan van sy mense in hierdie land is” (p 226). Teen 1910 het Langenhoven aktief tot die taalstryd toegetree. “Ons moet begin om ‘n begin te maak” (p 270). Hy het ‘n vegter vir die regte van Afrikaans geword. Kannemeyer formuleer Langenhoven se “groot missie” soos volg: “Om Afrikaans as amptelike taal saam met Engels in Suid-Afrika erken te kry, om te help bou aan ‘n literatuur wat die taal tot fyn instrument sou verfyn en om van sy mense ‘n lesende volk te maak” (p 379).

Langenhoven het besef dat “Afrikaans die enigste vorm van ‘Hollands’ was wat in Suid-Afrika kon voortleef” (p 234). “Uit ‘n vals-gesonge lied [Hooghollands] kan ‘n mens die melodie uitmaak: maar dis nie wat jou hart laat tril nie” (p 333). Afrikaans was vir hom ‘n “simpele duintjie wat suiwer gesing word” (p 264). Mense het Afrikaans gepraat en kon in al mindere mate Nederlands skryf. JC Steyn vestig die aandag daarop dat “in ‘n stryd tussen twee taalvariëteite, soos dié tussen Nederlands en Afrikaans aan die begin van die [20ste] eeu in Suid-Afrika, die sogenaamde ‘lae’ variëteit gewoonlik die oorwinning behaal” (p 234). Dit kan ‘n ontstellende waarheid wees.

Tans is die polities korrektes, bv dié in die ATR, behep met die variëteite van Afrikaans; enigiets behalwe Standaardafrikaans; by uitstek Kaaps. Deesdae word beklemtoon dat daar tans meer bruin as wit sprekers van Afrikaans is. Ooreenkomstig die mode kom ATR-spreekbuise dan suiwer kwantitatief tot die gevolgtrekking dat die toekoms van Afrikaans by bruin sprekers berus. My beswaar hierteen is nie kleurgedrewe nie, maar taalkundig. Geradbraakte Afrikaans, spesifiek daardie soort Kaaps wat ‘n mengeltaal (Afrikaans en Engels) is en deur bruines gepraat en selfs geskryf word (bv deur Ronelda Kamfer en Nathan Trantraal), bied geen verskansing teen Engels nie. Hoe meer Afrikaans verengels, hoe swakker word sy kanse op (agbare) oorlewing. Lank voor so ‘n taal se dood sou dit nie meer in ‘n eerbare vorm bestaan nie. Om politieke redes verseg ATR-direksielede, soos Wannie Carstens, Michael le Cordeur en Anne-Marie Beukes, om dit in hulle koppe te kry.

JBM Hertzog was in 1912 die eerste lid van die regering wat hom ten gunste van Afrikaans as landstaal uitgespreek het (p 266). “Hertzog voel oortuig daarvan dat Afrikaans nader aansluit by die Afrikaanse volkskarakter, ‘omdat zij ontsprongen is op zuiver Afrikaanse bodem als de echte uiting van Afrikaanse behoeften en gemoedstoestanden'” (p 265). Volgens Hertzog is Afrikaans “die uitgedrukte siel van die Afrikaanse [eerder Afrikaner-] volk” (p 267). Aansluitend hierby skryf Langenhoven in 1914: “Afrikaans is ons eige, hij is in Suid-Afrika gemaak om te pas bij ons Afrikaanse toestande en lewenswijs; hij het saamgegroei met ons volkskarakter; hij is die enigste band wat vir ons als ‘n aparte nasie aanmekaar bind; ons enigste volkskenmerk” (p 268). Later sê hy Afrikaans is “‘n sielsbesitting van die volk” (p 281); ‘n taal wat die spore dra van “die sielsgeskiedenis van ons volk” (p 305). Waar daar graffies gemaak moes word, was Afrikaans die geskikte medium. Volgens Langenhoven is Afrikaans “ons trouste en deeglikste volksbode” (p 329); ons “ganse sielsbesitting” (p 330). Afrikaans is “the one language which above all on earth is sacred to us” (p 437). Tobie Muller het reeds in 1913 aangevoer: “‘n Selfbewuste nasie moet ‘n nasionale selfrespek hê, en dit ontwikkel hy deur sy eie taal. Die eerste stap tot die verkryging hiervan lê in die waardering en ontwikkeling van die eie taal, ‘die intiemste uiting van ons hele nasionale wese'” (p 284).

Langenhoven skryf oor Afrikaans:

“Hij is die enigste witmanstaal wat nie onmiddellik oor die see kom nie” (p 269). Afrikaans is “ons kostelikste roem, ons hoogste besitting: die één enigste witmanstaal wat in Suid-Afrika gemaak is en nie oor die seewater klaar gekom het nie, wat die spore van lief en leed dra van alles wat ons en ons vadere hier deurleef en deurworstel en deurtriomfeer het; die één band wat ons as nasie aanmekaar heg; die uitgedrukte siel van ons volk” (p 331-332).

PJ Nienaber het dit “die mooiste en welsprekendste pleidooi wat ooit ten gunste van Afrikaans gehou is,” genoem (p 332).

Oor Langenhoven se stelling, wat feitelik korrek is, kry oorverligtes, soos Wannie Carstens, uit frustrasie spreekwoordelik kleintjies. Dit is egter ‘n feit dat Afrikaans die taal van Afrikaners, dus blankes, is en dat dit nie soos bv Engels klaargemaak oor die see gekom het nie. Langenhoven sê nie dit is uitsluitlik die taal van wit mense nie. Ook oor Langenhoven se stelling dat daar “maar één Afrikaans is” (p 272), sal die Carstense verontwaardig en moerig wees. Langenhoven skryf “dat het Afrikaans voor de Afrikaner een taal is en zijn taal en de enige taal van zijn hart en ziel” (p 322). Die sleutelfrase is “voor de Afrikaner”. Daarmee word groepe soos die joiners, jingo’s, verloopte Afrikaners en oorverligtes uitgesluit. Wat in die nuwe Suid-Afrika gebeur, onder meer weens die gesindheid van Afrikaanssprekende taalkundiges, is nie ‘n nuwe verskynsel nie. Langenhoven het by Sarah Goldblatt gekla: “Mijn eige mense help mij nie, waardeer mij nie, steun mij nie” (p 343). Van die sterkste teenkanting teen Afrikaans het destyds van sommige predikante gekom. Die Hollandse kerke was tradisioneel die sterkste bolwerk vir Nederlands (p 428, 452). Langenhoven skryf: “Van al die bedonderde dinge in die wereld is ‘n bedonderde predikant nogal die bedonderdste” (p 344). Vergelyk bv die hedendaagse geteem oor die Belhar-belydenis.

Langenhoven noem die Engelse nasie in Suid-Afrika: “Onnosel, ongeleerd, onkundig, onverstandig, onbeskof, onbeskaafd … Hulle behandel ons met verwaande en dom-astrante minagting” (p 273). Hy het groot waardering vir sy mede-Afrikaners gehad: “As jy ‘n stuk werk het waar daar verstand en bekwaamheid by nodig is, huur vir jou ‘n Afrikaner” (p 383). Die waarheid hiervan word nog daagliks in die nuwe Suid-Afrika bevestig. Hy skryf van “ons arme onbevoorregte volk” (p 367). Toe het die Britte die Afrikanervolk benadeel. Deesdae is ons as Afrikaners weer onbevoorreg, maar die onverteerbare tragedie is dat dit ‘n klein groepie verloopte Afrikaners is wat ons mandaatloos uitverkoop het. Langenhoven: “Ons moet hulle veragting insluk en buig onder die vernedering wat hulle op ons wil plaas, dan is ons met ‘n prijsenswaardige gees van konsiliasie en rasse-toenadering besield” (p 274). Dit klink soos die ATR se beheptheid met versoening. Langenhoven se standpunt is: “Ons wil Afrikaners wees wat nie aan die leiband loop van die Engelse nie” (p 276). Deesdae tou egte Afrikaners ook nie agter die ANC aan nie.

Nadat Langenhoven in 1914 ‘n Kaapse Provinsiale Raadslid geword het, slaag hy daarin om op 23 April 1914 eenparige goedkeuring te verkry vir die invoering van moedertaalonderrig in Afrikaans-Hollands in skole tot standerd 4. Aan sy vrou skryf hy: “Ik voel so gelukkig dat ik kan huil” (p 297). Oor hierdie deurbraak skryf Gustav Preller oor Langenhoven: “Sijn werk word ‘n baken op die pad van ons Afrikaanse Taal” (p 297). Na ‘n ondersoek van skoolonderwys in Kaapland in 1917 skryf FV Engelenburg egter “hoe min ‘n papieren wet vermag wanneer de administratie niet sympathiek is jegens de toepassing ervan” (320). Klink dit nie bekend nie? In 1994 is Afrikaners die nuwe Suid-Afrika in onder die indruk dat Afrikaans nie aan status mag inboet nie. Dit staan immers in die oorgangsgrondwet van 1993. (Vir die teks kyk JC Steyn, Ons gaan ‘n taal maak, Centurion: Kraal Uitgewers, 2014, p 525-526.) Op verradelike wyse (Steyn, p 442-443) is hierdie bepaling uit die Grondwet van 1996 gelaat. (Vir die teks kyk Steyn, p 527.). Erger: Op slinkse wyse sorg die ANC-regering weens sy vyandige houding dat Afrikaans deurlopend op allerhande maniere benadeel word.

In 1914 skryf Langenhoven oor die eerste minister, Louis Botha: “Die Generaal gebruik nooit Engels in sijn toesprake nie; want die vereiste is nou éénmaal in Suid-Afrika so dat jij Engels suiwer moet kan praat of anders moet jij hom laat blij, terwyl jij met die Hooghollandse grammatika kan mors soos jij wil” (p 302). Klink dit nie bekend nie? Mense soos Carstens en Le Cordeur vertroetel geradbraakte Afrikaans in die vorm van Kaaps asof dit ‘n heilige kleinood is. Hulle dring nooit daarop aan dat Afrikaans suiwer gepraat moet word soos in Standaardafrikaans nie. Terselfdertyd bepleit niemand pidgin-Engels as ‘n eerbare variëteit van Standaardengels nie. Waarop dit neerkom, is dat daar agting vir ordentlike Engels is maar by bv verloopte Afrikaners nie dieselfde algemene trots vir agbare Afrikaans nie.

Langenhoven het Louis Botha se konsiliasiebeleid (versoening tussen Afrikaans- en Engelssprekendes) as toenadering van net een kant af beskou; ‘n soort skikking wat van die Afrikaner eis dat hy “sij heiligste belange ter wille van vriendskap moes opoffer.” Langenhoven skryf: “Ik glo ook aan skikking en kompromie en versoening. Ik glo ook aan ‘give and take’ – maar nie op die manier dat ik aanhou met ‘give’ en mijn tegenpartij hou aan met ‘take’ nie” (p 303). Dit weerspieël die bedenklike situasie by die ATR. Sedert sy begin het sy drie voorsitters (Wannie Carstens, Michael le Cordeur en tans Anne-Marie Beukes) versoeningspolitiek pleks van Afrikaansbevordering bedryf. Enersyds versoening met die ANC, asof hy ‘n vennoot en nie die vyand van Afrikaans is nie. In hierdie verband wil ek soos Langenhoven sê: Dit is “nodig om die brandsiek vee sigbaar te brandmerk” (p 560). Andersyds versoening tussen wittes en bruines al word die gehalte en oorlewingskanse van algemeen-beskaafde Afrikaans, oftewel Standaardafrikaans, deur Kaaps beduiwel. Langenhoven waarsku tereg teen “vredesvoorwaardes deur die één kant opgeleg” (p 305).

Van Afrikaans moet ‘n mens nie net weet nie. Jy moet hom ook in jou binneste voel. Langenhoven onderskei tussen ‘n taal as ‘n logiese of “verstandsmedium” en taal as ‘n psigologiese of “gevoelsmedium” (p 325). ‘n Kunsmatige taal, soos Esperanto, kan nie ‘n gevoelsmedium wees nie. Jou moedertaal behoort egter ‘n gevoelsmedium te wees (p 325, 330). “Dieselfde gevoelsmedium [vorm] die kommunikasieband … tussen al die lede van die volk, daarom is die volkstaal die sement van nasionale gevoel” (p 326). ‘n Nasie is nie bloot ‘n versameling van indiwidue nie, maar ‘n organiese liggaam met “‘n nasionale siel, en die nasionale spraak is die uitdrukking daarvan” (p 326). In daardie nasionale taal lê vir die volk “al sy geheue van sy verlede, al sy bedrywigheid van sy hede, al sy hoop op sy toekoms” (p 326). Slegs deur middel van die volkstaal kan die nasie verhef word, want, so sê Langenhoven in navolging van Johannes Brill en Josias Hoffmann, “de taal is gansch het volk” (p 698) / die taal is gans die volk (p 327).

In 1920 het Langenhoven Volksraadlid geword. In 1921 is hy tot senator verkies. Hy het hierdie rade meesal uit die vuis toegespreek. “As hy begin praat, was dit … – soos MER[othmann] dit by geleentheid gestel het – of jy ‘n sterk sydraad uit ‘n gespanne kokon sien afrol” (p 390). “Langenhoven was as redenaar op sy beste wanneer hy gepraat het oor die Afrikaanse taal en geskiedenis en oor die vertrapping van die regte van die Afrikaner” (p 412). Hertzog was toe al bekommerd dat die blankes deur die swartes verswelg sou word. Indien die eerste minister, Jan Smuts, se droom verwesenlik word, beteken dit vir Langenhoven die einde van die Afrikaner. Die kwalifikasies vir stemreg moet eerder verhoog word, sodat niemand “anders dan werklik beskaafde persone op die kieserslys kan kom nie” (p 416). Dit behoort steeds die norm te wees, anders verwerf die gepeupel die “mensereg” om voortdurend chaos te saai.

Langenhoven verwys na die “oorstelpende meerderheid” van die swart bevolking (p 545). Hy het gedink dat die blanke kieser die mag het “om te sorg om sy mag vir die toekoms te behou” (p 416), anders gebeur die volgende: “Die ontworteling van ons een en enkele stam wat uit die bodem van Suid-Afrika groei en nergens elders nie” (p 409). Dit beteken dan “dat ons in ons vroeë jeug van frisse nasieskap van die aardse toneel moet verdwyn asof ons nooit gewees was [het] nie” (p 409). “Ter wille van die naturel self, sowel as ter wille van die blanke, moet daar na ‘n oplossing gesoek word waardeur die oorheersing van die witman verseker word vir die toekoms” (p 416). Ek voeg by: As oorheersing van een etniese groep oor ‘n ander uit die mode is, moet daar ten minste sinvolle, effektiewe magsdeling wees; iets wat glad nie die geval in die nuwe Suid-Afrika is nie. Outoritêre swart oorheersing, soos ons dit tans ervaar, is ‘n gruwel in die oë van enige Afrikaner wat sy sout werd is. Langenhoven skryf dat ons moet keer “om nie ons eie opsy te stoot om vir die vreemde plek te maak nie … Ons is niemand se arm familie om liefdadigheid en minagting te ontvang nie” (p 546).

In daardie stadium het die grondwet, die Zuid-Afrika Wet 1909 (artikel 137) en die Taalordonnansie van 1912 gegeld met hulle gelykberegtiging van Hollands en Engels (p 427, 455). Op 18 Februarie 1925 is DF Malan se voorstel aanvaar dat ‘n gesamentlike komitee van die Volksraad en Senaat benoem word om die insluiting van Afrikaans by Hollands in die Unie-grondwet te oorweeg (p 441). Malan het gesê dat daar vir die Hollandssprekende in Suid-Afrika net een taal is wat hulle eie genoem kan word, naamlik Afrikaans. “Die erkenning van die Afrikaanse taal … is die simbool van die erkenning van hom as volk, die erkenning van sy status en vryheid. As hierdie wet [de Wet op de Officiële Talen van de Unie, no 8 van 1925 (p 455)] in die wetboek geplaas word, dan sal – ek mag dit sê – die Hollandssprekende gedeelte van die Suid-Afrikaanse volk vir die eerste maal voel dat hy ten volle erken word en in sy eie land ten volle vry en tuis is” (p 459). Dit is dieselfde Malan wat deesdae deur die Universiteit Stellenbosch en ander instansies en persone vir spesiale verguising uitgesonder word. In 1925 was Die Burger “een van de voornaamste en grootste krachten die wij in dit land hebben … die konsekwent Afrikaans dwarsdoor gebruiken” (p 445). Vanjaar, op 8 deser, toe die parlement se erkenning van Afrikaans as amptelike taal herdenk is, het Die Burger (anders as bv Praag) egter nie ‘n woord gerep oor die mylpaal van Afrikaans negentig jaar vantevore nie. Die Burger is nie meer ‘n stryder vir Afrikaans nie en wil dit ook nie wees nie. Om ‘n “taalbul” te wees, is om as “regs” geëtiketteer en daarom verguis te word.

Langenhoven het Malan in taal- en politieke sake aktief ondersteun (p 443). Na Malan se toespraak het dié van Langenhoven gevolg. Hy het onder meer gesê: “Die hele wêreld deur word die respek wat aan ‘n volk gegee word, gegee om die wyse waarop hy die hoogste wat in hom is uitdruk. En hoewel die taal maar ‘n instrument is, is dit die enigste instrument wat ‘n volk het om aan sy hoogste kultuur en veredeling en beskawing uiting te gee” (p 460). Die wetsontwerp is op 8 Mei 1915 tydens ‘n gesamentlike sitting van die Volksraad en Senaat goedgekeur. Dit lei tot die amptelike erkenning van Afrikaans as landstaal op 27 Mei 1925 (p 460) toe die wet deur die staatshoof, die goewerneur-generaal, onderteken is.

Die Universiteit Stellenbosch het ‘n Langenhoven-studentesentrum. Dit is een van die name wat weens die anti-Afrikanergesindheid van die rektor, Wim de Villiers, met uitwissing bedreig word. Alle Afrikanername en -beelde loop gevaar om verwyder te word sodat “almal” (bedoelende alle nie-wittes) op die kampus tuis kan voel. Hieroor is ek meer as bloot verontwaardig.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.