Die Hoërskool Pescodia in Kimberley in die Noord-Kaap is van voorneme om die onderwysdepartement se voorgeskrewe dissiplinêre prosedure te volg om op te tree teen twee leerlinge wat Woensdag ‘n onderwyseres met traangas in ‘n klaskamer aangeval het.
Amanda Loots het haar bewussyn verloor na die aanval.
Adjunkhoof, Hendrik Phillies, sê hoewel die skool sy eie dissiplinêre beleid het vir leerlinge wat die skoolreëls oortree sal die skool die department se prosedure volg omdat dit betrekking het op meer ernstige oortredings.
Phillies sê die skool het reeds begin met ‘n interne ondersoek en wou nie uitwy oor die voorval nie. Volgens hom is die twee leerlinge nie by die skool nie. Hulle gaan saam met hul ouers die skool besoek om sake te bespreek.
Phillies wou nie die twee hoërskoolleerlinge se ouderdom bekendmaak nie. Niemand is in die voorval beseer nie. Volgens hom is die betrokke klaskamer dadelik na die voorval ontruim.
Die polisie ondersoek ‘n klag van aanranding. Die minderjariges is onder hul ouers se toesig geplaas. Die nasionale vervolgingsgesag sal besluit of die leerlinge vervolg sal word.