Nog ’n aardbewing, wat 7,3 op die Richterskaal geregistreer het, het Nepal geruk.
Bevreesde inwoners van die land se hoofstad, Katmandoe, het gister verskrik in die strate uitgehardloop.
Die aardbewing het om 12:35 plaaslike tyd die Himalajas-nasie getref. Die middelpunt van die aardbewing was ongeveer 76 kilometer oos van Katmandoe.
Die jongste skok vir die land kom skaars twee weke nadat ’n 7,8-aardbewing die lewe van meer as 8 000 mense geëis het.
Die trillings in Katmandoe het byna ’n minuut lank geduur.
Die aardbewing is so ver soos die Indiese hoofstad, Nieu-Delhi, ongeveer ’n 1 000 kilometer verder, gevoel.
Teen gistermiddag is berig dat vier mense gesterf het.
Nóg ’n aardbewing, wat 5,6 op die Richterskaal geregistreer het, het Nepal enkele minute later getref.
Hele nedersettings is in die aardbewing van 25 April in puin gelê en tienduisende mense is dakloos gelaat.
Reddingswerkers van oor die wêreld werk steeds om water, kos en mediese bystand aan Nepal ná die eerste aardbewing te lewer.