Luukse viertrekwaens: Brits of Duits?

Deel op

Party mense glo aan groter is beter. Wanneer dit by motors kom, is dit nie altyd die geval nie, veral nie met vandag se neiging na kleiner enjins en meer kompakte motors nie. Daar bestaan egter lande waar die groter-is-beter-reël nog geld en plaaslik in Suid Afrika is dit steeds die geval wanneer dit by luukse 4×4-rygoed kom.

Ons het onlangs die geleentheid gehad om twee groot 4×4-voertuie met mekaar te vergelyk. Die een is in alle opsigte ‘n makrospeler: hy is groot, sterk en baie ervare, amper soos Jannie du Plessis in die Springbokvoorry. Die ander een is die nuwe jong opkomende stut soos Vincend Koch, ook baie sterk, groot maar nog nie heeltemal so ervare nie. Aan die Britse kant het ons die geleentheid gehad om agter die Range Rover Sport SDV8 se stuur in te skuif; aan die Duitse kant was dit die nuwe Volkswagen Touareg TDi V8 wat ons die geleentheid gebied het om hom vir ‘n paar toetsritte te neem.

Voorkoms

Die Range Rover Sport SDV8
Die Range Rover Sport SDV8

Wat die voorkoms aanbetref, is die Range Rover baie meer sportief van voorkoms as die Touareg, maar die Touareg se lyne is nou weer heelwat skoner en meer verfynd. Die Range Rover het groot aksentligte voor en agter terwyl die Touareg se neus baie dinamiese dog sagte lyne het. Wat die syprofiele betref, vertoon die Range Rover heelwat langer as die VW, maar in werklikheid is die twee byna identies met die Range Rover wat slegs 6cm langer is as die VW. Die Range Rover is wel ‘n hele 13 cm breër as die VW en 7cm hoër.

Die VW Touareg TDi V8 lyk effens kleiner as die Range Rover
Die VW Touareg TDi V8 lyk effens kleiner as die Range Rover

Beide voertuie is toegerus met luggevulde onderstelle wat elektronies verstel kan word. Skuins van voor kan duidelik gesien word dat die VW bietjie lig in die broek lyk teenoor die Range Rover Sport. Miskien is dit omdat die nuwe Touareg baie na die kleiner Touran lyk met Volkswagen se familietrekke wat die groot Touareg heelwat kleiner laat vertoon as wat hy werklik is.

Binneruim

Wat die binneruime aanbetref, het albei motors meer as genoeg ruimte vir vyf volwassenes: elkeen is lank genoeg om ‘n ekstra ry sitplekke te kan akkommodeer, maar nie een van die twee is beskikbaar met ‘n sewesitplekopsie nie. Daar is leer- en houtinsetsels orals.

Range Rover Sport SDV8- agtersitplek
Range Rover Sport SDV8- agtersitplek

Hier staan die Touareg weereens glad nie terug vir die Range Rover nie, maar laat die VW-familiegesig van die binneruim jou net nie voel asof jy in ‘n R1-miljoenplusvoertuig sit nie. Dit lyk maar net soos enige ander Volkswagen aan die binnekant. Die bougehalte en materiaal wat gebruik word, is van die beste, maar teen die prys sou ek so effens meer verwag. Die Range Rover Sport aan die ander kant voel, ruik en praat met jou. Dit regverdig sekerlik ook nie die prys van bykans R1,5 miljoen nie, maar dit voel en lyk beslis meer na ‘n primabinneruim as dié van die Touareg.

Enjinkrag

VW Touareg TDi V8-agtersitplek
VW Touareg TDi V8-agtersitplek

Sovert dit die enjins in die twee motor aangaan, is daar ook bitter min te kies tussen die twee. Die Range Rover Sport SDV8 word aangevuur deur ‘n 4,4 liter turbodieselenjin met 8 silinders wat 250 KW en 740NM se wringkrag lewer. Dit is brutaal. Die Touareg spog met ‘n 4,1 liter turbodiesel wat ook 250 KW lewer maar oor 60 NM se wringkrag meer as die Range Rover Sport beskik, met 800 NM. Die feit dat die VW sowat 2180 kg weeg, word nie eers naastenby gevoel deur die dinamiese bakbeheer wat die lugveerstelsel bied nie. Hierdie groot VW kan van 0 tot 100 km/u versnel in slegs 5,8 sekondes en as jy braaf is, sal die Touareg eers by 242 km/u uitasem raak.

Die VW Touareg se paneelbord
Die VW Touareg se paneelbord

Hierteenoor is die Range Rover Sport se syfers 6,9 sekondes van 0-100 km/u en sy beperker laat jou toe om tot by 210 km/u te versnel. Ek moet sê, agter die stuur van die twee het die Range Rover Sport meer sportief gevoel as die Touareg al meen die syfers anders. Die Touareg voel net nie so geplant en rats soos die syfers wil voorgee nie. Die rygehalte van beide die motors is ook uitstekend, maar die Range Rover Sport voel net asof hy heelwat meer sou kon doen as wat jy as bestuurder bereid was om te waag, terwyl die Touareg net mooi die teenoorgestelde gevoel ontlok. Ek het die heel tyd gewonder of die VW werklik daartoe in staat sou wees as ek iets sou probeer. Die Co2-syfer vir die Touareg is 239g/km teenoor die Range Rover se 229 g/km. Die VW se amptelike brandstofverbruik is 9.1l/100km terwyl die Range Rover Sport 8,7l/100km kon aanteken.

In die veld

Die Range Rover Sport SDV8 se paneelbord
Die Range Rover Sport SDV8 se paneelbord

Wel, hier is die veskil so duidelik soos daglig. Die Touareg is ‘n baie bekwame voertuig wat enige sypaadjie of randsteen sonder moeite sal kan klim. Jy sal die grootste boot of karavaan met gemak kan sleep, maar as dit by ernstige veldvermoëns kom, kan die Range Rover Sport net soveel meer doen. Die Range Rover se gewone ryhoogte is 213mm en kan tot 278 mm opgelig word met die lugvering. Dit gee ‘n maksimum van 850mm diep water waardeur jy sal kan ry. Die Touareg se normale ryhoogte is 220mm en die lugvering kan tot 300mm verstel word, wat die Touareg in staat sal stel om 500mm water deur te gaan.

Die Range Rover Sport se aantoginvalshoek is 24 grade op die laagste veringverstelling terwyl die Touareg se aantoghoek 22 grade is. Met die lugvering op sy hoogste verstelling kan die Range Rover Sport tot 33 grade aanpak terwyl die Touareg slegs 24 grade sal kan baasraak. Die uitgangshoeke verskil ook heelwat met die Range Rover Sport op gewone ryhoogte wat 24,9 grade kan ry en die Touareg 23 grade. Met die lugvering op sy hoogste verstelling sal die Rangie 31 grade kan baasraak en die Touareg slegs 25 grade.

Gevolgtrekking

Ons is van mening dat beide die motors heeltemal te duur is, maar sou jy dalk ‘n regeringspos beklee en jy wil bietjie vir jou bure wys jy is op die trein, sou ons die Range Rover Sport elke keer bo die Touareg verkies. Teen R1 010 400 vir die Touareg en R1 497 083 vir die Range Rover Sport is beide dié motors slegs vir die staatsamptenare beskore en sou ek persoonlik eerder ‘n Renault Duster aanskaf!

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.