Anti-Rhodes-aktivis kla UK oor rassisme aan

Deel op

Chumani Maxwele, die student wat die Cecil John Rhodes-standbeeld met menslike ontlasting gegooi het, sê sy skorsing van die Universiteit van Kaapstad is polities gemotiveer.

Hy het aan News24 gesê dit handel oor ‘n politieke probleem by die UK: “Ons is besig met transformasie … [en] hulle wil ons intimideer.”
 
Maxwele is deel van die Rhodes-moet-val-beweging wat die Rhodes-standbeeld verwyder wou sien.
 
Hy beskuldig die universiteit dat hulle administratiewe reëls inspan om politieke probleme op te los.
 
Die universiteit het nie bevestig dat Maxwele geskors is nie. ‘n Woordvoerder het gesê die instelling beskou dissiplinêre aangeleenthede as vertroulik.
 
Hy het intussen ‘n klag van rassisme teen die UK ingedien. Maxwele beskryf ‘n insident met die betrokke dosent wat hy beskuldig as ‘n “baie traumatiese voorval”.
 
In sy verklaring het Maxwele verduidelik wat op 1 Mei by die wiskundegebou gebeur het.

Volgens hom was die badkamers daar gesluit, want dit was ‘n openbare vakansiedag. Die dosent het hom toe vergesel om hom te wys dit is gesluit.
 
Die dosent het hom toe vertel wat met haar gebeur het in die verlede en dat sy aangeval is deur ‘n “barbaarse swart student wat toe nie ‘n student was nie” en dat ‘n “hoof van die departement vermoor is deur ‘n wrede en barbaarse swart student”.
 
“En sy het gesê dat al hierdie gebeure het veroorsaak dat dit nie meer so ‘n veilige omgewing by die universiteit en nog meer so by die departement is nie. Ek het haar gevra hoe hierdie gebeure iets met my te doene het? Uit die bloute sy het baie kwaad vir my geword en geskree “As jy my treiter, sal ek jou vra om die gebou te verlaat of ek sal die sekuriteit bel om jou uit te neem …”

Hy het hom teëgesit en die dosent uitgedaag om die sekuriteit te roep.
 
Maxwele het gesê hy is geskok en ontsteld omdat sy regte as ‘n student misken is. Hy sê in sy verklaring dat hy gepolisieer is, as ‘n krimineel behandel is en dat swartes in die wit wêreld as kriminele voorgehou word wat almal om hulle bedreig.
 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.