Burundi se president ignoreer VSA, Brittanje se waarskuwings

Deel op

Nagenoeg 2 000 mense het gister in ’n woonbuurt van Burundi se hoofstad, Bujumbura, betoog. Dit was ’n dag nadat die regering ’n verbod geplaas het op alle straatprotes teen pres. Pierre Nkurunziza se poging om vir ’n derde termyn verkies te word.

Die president sê “buitelandse magte” hits die betogers aan en probeer van hom ontslae raak.

’n Klein groepie mans het voetgangers en voertuie deursoek wat na die betoging onderweg was.

Nkurunziza se regering het alle staatsamptenare opdrag gegee om terug te keer werk toe en skole moes ook gister heropen het.

Burundi se grondwet bepaal ’n president kan net vir twee termyne van vyf jaar verkies word. Nkurunziza hou egter vol dat hy die reg het om vir ’n derde termyn te staan.

Hy voer aan die parlement het hom die eerste keer verkies en hy was nie regstreeks deur die bevolking aangewys nie. Betogings duur nou reeds weke.

België, die oud-koloniale mag, het intussen hulp opgeskort aan die land.

Die AU-voorsitter Nkosazana Dlamini-Zuma het Brittanje en die VSA se waarskuwings herhaal dat ‘n verkiesing nie in die huidige klimaat gehou sal kan word nie.

Burundi is een een van 15 lande in Afrika waar die staatshoof al langer as 15 jaar regeer.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.