Renosterstropers teiken Namibië

Deel op

Met 60 renosters al vanjaar gestroop, waarvan 54 in die Etosha Nasionale Park, het die Namibiese ministerie van die omgewing en toerisme sy beloning verdubbel, het die Republikein berig.

“Genoeg is genoeg,” het die minister van die omgewing en toerisme tydens ’n nuuskonferensie in Windhoek oor die onwettige stropery van renosters en olifante gesê.

Die statistieke oor renosterstropery staan op 60 vir vanjaar teenoor 24 vir 2014. Wat olifante betref, is 23 in 2015 vir hul ivoor gestroop teenoor verlede jaar se 78.

Die minister het wel aangedui dat die spoor van verdagte renosterstropers in Etosha en die Palmwag-konsessie (waar ses renosters vanjaar gestroop is) gevolg word “en is dit net ’n kwessie van tyd voor hulle in hegtenis geneem sal word”.

Volgens hom werk die ministerie nou saam met ander wetstoepassers en bewaringsorganisasies om kort en langer termyn strategiese maatreëls in te stel wat menslike kapasiteit, waarneming, patrollies en opsporing insluit.

“Ons werk steeds nou saam met die Namibiese polisie en weermag om voete op die grond te hê en ons patrollies op te skerp. Ons het teenwoordigheid in die Etosha en Bwa­bwata Nasionale Parke en die Palmwag-konsessie. Lugpatrollies word ook deur die polisie en weermag uitgevoer,” het die minister gesê.

Lede van die polisiemag is van 40 tot 140 vermeerder.

Hy sê meer hulpbronne word belê om die onwettige jag van renosters en olifante te voorkom en “die situasie word as ’n prioriteitsmisdaad beskryf en daarom moet meer hulpbronne in ons pogings belê word om dié misdaad te stop”.

Hy het beklemtoon dat “niks onder die mat ingevee sal word nie”.

Hy het ook gesê dat twee gebiede in die park geteiken word, naamlik die noordelike en suidwestelike dele.

“Al die inligting van elke ­renosterkarkas moet ná die nadoodse ­ondersoek verwerk word, asook die ballistiese toetse op die vuurwapens en met voorvalle gekoppel word.

“Dieselfde vuurwapens is waarskynlik deur dieselfde stropers gebruik, maar die stropers maak nou van outomatiese gewere in plaas van jaggewere gebruik,” het Shifeta gesê.

Die adjunkminister het gesê “Alhoewel die kriminele ons uitoorlê het, die nasie nie paniekerig oor renosterstropery moet raak nie. Vroeër of later sal ons resultate hê.”

Die ministerie het ook ’n nasionale wildbeskerming- en sekuriteitskomitee op die been gebring wat as nodige platform vir alle rolspelers sal dien.

Verteenwoordigers van die Namibiese Professionele Jagtersvereniging (Napha) was ook gister by die nuuskonferensie teenwoordig, asook mnre. Jofie Lamprecht van Jofie Lamprecht Safaris en Henri Slabbert van The Next Generation Conservation Trust.

Saam met Help Our Rhinos Now Namibia (HoRN.Nam) wil hulle ’n verenigde front skep.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.