Leon Lemmer: Onder nuwe rektor is Universiteit van Stellenbosch in sy maai (deel 2)

Deel op

Lees eers Deel 1 van dié rubriek.

Dit is nodig om te skets wat as agtergrond vir Wim de Villiers se intreerede as rektor van die Universiteit Stellenbosch (US) gedien het. Kort na sy aanstelling het Murray la Vita ‘n onderhoud met hom gevoer (Praag 13 Desember). De Villiers het toe gesê: “Ek moet dadelik ook vra waar die ondersteuning van buite is vir die ontwikkeling van Afrikaans as akademiese taal. Waar is die groot pryse vir akademiese skryfwerk in Afrikaans, waar is die finansiële aansporing vir navorsingswerk in Afrikaans?” (Die Burger, 5 Desember, p 11). Hiermee eggo De Villiers die standpunt van Dan Kgwadi, die rektor van die Noordwes-Universiteit, wat reken dat sy universiteit nie verantwoordelikheid vir die voortbestaan van Afrikaans kan aanvaar nie. Albei wek die indruk dat hulle onsimpatiek teenoor Afrikaans is. Die ergste is dat daar in ‘n hoofartikel in Die Burger (1 deser, p 10) staan: “Die toekoms van Afrikaans nie staan of val na gelang van wat by Maties gebeur nie.”

Die wortel van die kwaad, soos in die geval van baie dinge, is die ANC. Daar mag nie van swart studente verwag word om deur medium van Afrikaans aan ‘n histories Afrikaanse universiteit te studeer nie. Afrikaans word met uitsluiting, oftewel apartheid, geassosieer. Die ANC-regering se beleid is: “Die staat voorsien nie geld vir die verdubbeling van lesings nie” (JC Steyn, Ons gaan ‘n taal maak, Centurion: Kraal Uitgewers, 2014, p 457). Dit is met hierdie slinkse knyptangstrategie dat die ANC-regering universiteite wil verplig om tussen Afrikaans en Engels as onderrigtaal te kies. Willie Esterhuyse was moontlik eerste met die volgende vertolking, waarby De Villiers aansluiting vind. Esterhuyse het “die ryk Afrikaners veroordeel omdat hulle nie geld vir onderrig deur Afrikaans wou voorsien nie” (Pieter Kapp, Maties en Afrikaans, Pretoria: Protea Boekhuis, 2013, p 158). Op kenmerkende wyse veroordeel Esterhuyse Afrikaners en nie die ANC nie.

Hieruit spruit die gevolgtrekking, wat deesdae wyd aanvaar word, dat die ANC-regering net klasse befonds wat deur die medium van Engels aangebied word. As onderrig deur die medium van Afrikaans geskied, is die universiteit op aalmoese, bv skenkings uit die private sektor, aangewese. Uit ‘n hoofartikel blyk dat Die Burger (1 deser, p 10) hierdie propaganda sluk: “Meertaligheid kos geld en moeite. ‘n Deurslaggewende vraag gaan wees of the universiteit die hulpbronne gaan hê om dit behoorlik te doen.” Die koerant bied hiermee aan die US en ander eens Afrikaanse universiteite ‘n verskoning om eentalig Engels te word. Jonathan Jansen, die rektor van die Universiteit Vrystaat, het nie op hom laat wag nie. Twee onderrigtale plaas ‘n dubbele werklading op dosente en afsonderlike klasse in Afrikaans en Engels lei tot rasseskeiding (dit was ook Russel Botman se argument), terwyl die universiteit se beleid dieselfde as dié van die ANC is, naamlik gedwonge rasse-integrasie (Die Burger, 7 deser, p 16).

duma_openstellenbosch
Sikhulekile Duma, ‘n tweedejaarstudent wat die Universiteit van Stellenbosch wil verengels en verswart

‘n Ander faktor wat De Villiers se toespraak beïnvloed het, is die aktivis Sikhulekile Duma, ‘n tweedejaar US-student in die sosiale wetenskappe. Dit is Duma wat deur blankes in die dorp “aangerand” is toe hy skoorgesoek het. Daarna het hy geëis dat die US teen rassisme moet optree. Vir hierdie doel het hy valslik voorgegee dat dit wit US-studente is wat hom reggesien het. As ‘n uitvloeisel hiervan is ‘n Menswaardigheidsoptog op die kampus gehou en versoeke en eise is aan die US se tussentydse bestuur gerig (Praag 14 Maart). Op 15 April is ‘n massavergadering op die Rooi Plein op die kampus deur die Duma-groep, wat daarna die naam Open Stellenbosch aangeneem het, gehou. Dit het oor transformasie met toespitsing op kritiek op Afrikaans as onderrigtaal gehandel. Studente van die Universiteit Kaapstad (UK) se Rhodes Must Fall-veldtog het ook by die byeenkoms gepraat. Geen aansoek is vooraf, soos vereis, by die universiteitsowerheid gedoen om die byeenkoms te hou nie. Nogtans het De Villiers die geleentheid bygewoon en gesê “die US is sterk tot transformasie verbind” (Die Burger, 16 April, p 3). Hierna weet die swart studente dat hulle met De Villiers as rektor nie by die reëls hoef te hou nie.

Op dieselfde dag as die Rooi Plein-byeenkoms het die US in ‘n amptelike verklaring gesê: “Voortgesette transformasie [myns insiens wesenlik ‘n nie-akademiese, politieke, ANC-gedrewe saak] is deel van die ‘kernwese’ van die Universiteit” (US-webwerf 15 April). Transformasie gaan glo bespoedig en verdiep word. Dit herinner aan Dan Kgwadi se “deep transformation”. Aan die US is daar glo “taalsoepelheid” – iets wat Kgwadi ook van die Noordwes-Universteit gesê het. Taalsoepelheid maak dit myns insiens moontlik om die Engelse aanbod te verhoog en die Afrikaanse aanbod af te skaal. Die aanwesigheid van UK-studente het die US genoop om te verklaar dat hy reeds lank bewus daarvan is “dat visuele elemente en simbole ‘n voortdurende herinnering is aan ‘n pynlike [!] geskiedenis en dus ‘n onvriendelike omgewing skep.” Hierna is daar berig dat Duma se Open Stellenbosch-groep binnekort ‘n verdere lys griewe en eise aan die US-bestuur gaan voorlê (Die Burger, 18 April, p 6).

In reaksie op aktivistiese druk het die US op 25 April op sy webwerf inligting oor sy personeelsamestelling verstrek. Daarvolgens bevorder die nuwe taalbeleid die werwing van nie-wit dosente omdat vaardigheid in Afrikaans nie meer vereis word nie. “Die doelwit is gestel dat die US se personeelkorps [dus nie net die studente nie] teen 2018 meer as 50% swart moet wees.” Nie-wit dosente word op ‘n “versnelde loopbaanpad” geplaas, wat sekerlik beteken dat hulle vinniger as blankes deur die doseerrange bevorder word. “Strategiese [rassistiese?] werwing vir alle senior posisies, ook professorale aanstellings,” word gedoen. “Diversiteit is ‘n noodsaaklike voorvereiste vir volhoubare akademiese uitnemendheid en juis om hierdie rede en op grond van die morele noodsaaklikheid daarvan, is die Universiteit verbind tot ‘n verdieping en versnelling van sy sistemiese transformasie.”

As iemand nog daaraan getwyfel het of die De Villiers-US hom op ‘n nie-, selfs anti-, akademiese pad begewe het, behoort daar nou geen onseker meer te bestaan nie. Byvoorbeeld, Akademikus, Stellenbosch skryf in Die Burger (1 deser, p 10) oor “waansin” by die aanstelling van dosente: “Die US is ‘n universiteit en derhalwe veronderstel om akademiese verdienstelikheid skaamteloos te onderskryf … Dit is nie ‘n rasse-aangeleentheid nie; dit is ‘n akademiese saak … Al wat die US met ‘n oop gemoed moet kan stateer, is dat by sy aanstellingskomitees geen rasvoor- of -nadeel is nie. Dit is ‘n beginselsaak, en elke aansoeker moet weet hy of sy word suiwer op akademiese verdienste oorweeg.” In werklikheid is daar ‘n voorskrif dat iedere kortlys vir aanstelling die naam van minstens een nie-wit kandidaat moet bevat. Dit stel die US in staat om by elke aanstelling te kyk of hy daarmee kan wegkom as voorkeur aan ‘n nie-witte pleks van ‘n blanke (wat dikwels die akademies beste kandidaat is) gegee word ten einde sy demografie- (dus ANC-politieke-) profiel te “verbeter”.

Is Duma en sy Open Stellenbosch hiermee tevrede? Nee. “Daar is 296 wit, 10 swart, 31 bruin en 12 Indiër-professore, asook 24 uit die buiteland by die US. Van 2010 tot 2015 het die getal swart professore van drie tot tien gestyg” (Die Burger, 25 April, p 1 – ja, Duma haal die voorbladsy). Die US se verweer teen die Duma-aanvalle is dat dit ‘n “groot uitdaging [is] om senior akademiese aanstellings uit onderverteenwoordigende groepe te maak … alle Suid-Afrikaanse universiteite ding mee vir dieselfde klein groepie.” Is dit nie ‘n sotlike, anti-akademiese situasie nie? Die ANC se kwantitatiewe demografie-dogma word sonder meer aanvaar.

Op 29 April, kort voor De Villiers se inhuldiging as rektor, het Open Stellenbosch, met Duma wie se naam tot Khule verkort is, ‘n onwettige byeenkoms teen “wit oorheersing” op die Rooi Plein op die kampus gehou. Hulle eis swart studente en dosente. Ramabina Mahapa, van Rhodes Must Fall-faam en die voorsitter van die UK-studenteraad, het gesê “as die universiteit nie wil verander nie, moet julle dit onregeerbaar maak.” De Villiers het hierna op ‘n mediakonferensie, soos die UK-rektor, Max Price, gesê hy ondersteun studentedeelname en -aktivisme (Die Burger, 30 April, p 3). Reeds op 15 April is amptelik op die US-webwerf verklaar: “Vir die US-bestuur is die al hoe sterker kultuur van robuuste debat by die instelling verblydend.” Soos Price doen De Villiers wat die swart studente wil hê. Dit is ‘n geval van “Forward!” na die akademiese afgrond. De Villiers is soos FW de Klerk met sy toegeestrategie.

Na hierdie byeenkoms op die Rooi Plein het die Open Stellenbosch-groep en Chumani Maxwele, wat ontlasting op die Rhodes-standbeeld gegooi het, na die plek van De Villiers se inhuldiging gegaan en daar onwettig met plakkate betoog. Die betoging het in stilte verloop totdat Maxwele en ander studente geskree het: “Down with white power, down!” (Die Burger, 1 deser, p 3). Duma sê: “Ons wou skok … Ons gaan nooit jammer sê vir die wyse waarop ons teen wit oorheersing veg nie.” De Villiers het die uitroepe aan nie-Maties toegeskryf en gesê dat geen optrede teen die betogers beplan word nie.

Waarteen sal die De Villiers-US dan wel optree? Sekerheid hieroor is gou verkry en Duma het daarvoor gesorg. Duma beweer dat ‘n blanke US-dosent aan hom die volgende teksboodskap gestuur het: “Jou swart moer van die wit boer.” (Rapport, 3 deser, p 1 en 2 – ja, die berig haal die voorbladsy). Die US het bevestig dat die saak “in ‘n baie ernstige lig” beskou word en “stappe ingevolge die universiteit se formele dissiplinêre prosesse het reeds begin” (p 2). Die Burger (4 deser, p 5) het grootliks dieselfde inligting gepubliseer. Duma het die vermetelheid om te eis dat die betrokke dosent sonder betaling weens die “rassistiese” teksboodskap geskors moet word.

Die volgende dag het Die Burger (5 deser, p 1 – ja, die voorbladsy) min nuwe nuus gehad, behalwe dat die betrokke dosent voorlopig geskors is, Duma per e-pos hieroor deur die US ingelig is en dat ‘n komitee saamgestel is om Duma se bewerings te ondersoek. Die Higher Education Transformation Network (HETN), wat by elke moontlik geleentheid pro-swart en anti-wit druk op universiteite uitoefen, het ook op die dosent se skorsing aangedring. “Die netwerk sal nie huiwer om in te gryp as die universiteit sy voete met die ondersoek sleep nie.” Rassevoorvalle het na bewering sedert De Villiers se aanstelling toegeneem. Dit is substansielose afdreiging deur die HETN.

Die lesers van Die Burger het sekerlik op die verslegtende US-situasie gereageer, maar net twee briewe met substansiële kommentaar is gepubliseer. Oud-Matie van die Kaap is van mening dat die aandrang op onderrig in Engels “is nie om die universiteit soseer toeganklik vir almal te maak nie, maar eerder om Afrikaans in die grond in te vertrap … Is dit nie ironies nie dat almal teen Cecil J Rhodes se standbeeld gil, maar die taal aanhang wat hy saamgebring het?” (Die Burger, 22 April, p 10). Pieter van der Merwe van Bellville verwys na die Randse Afrikaanse Universiteit wat nou “YouJay” is. “Ek voorspel dat die US teen 2018 ‘YouEss’ sal wees en later die naam van ‘n struggle-held gaan kry. Wat het van voortreflikheid geword in hierdie gejaag na politieke korrektheid? Kies die beste studente en personeel, ongeag uit watter rassegroep hulle kom. Los die kwotas; dis omgekeerde rassisme” (Die Burger, 29 April, p 15).

Ek het reeds lank gelede voorspel dat die US die Steve Biko University kan word en dat die US-studentesentrum, die Neelsie (genoem na die Afrikaanse taalstryder, JC Langenhoven, ook bekend as Sagmoedige Neelsie), die Nelson (genoem na Nelson Mandela) kan word. So ‘n kampus sal dan seker een wees waar die mitiese “almal” meer tuis as op die huidige een voel. Dalk is dit die enigste twee voorstelle in my skrywes wat ernstig deur De Villiers oorweeg sal word. Die UK-senaat (‘n liggaam wat tradisioneel uit professore bestaan) het 181 teen 1 ten gunste van die verwydering van die Rhodes-standbeeld gestem. In Bybelse taal (Lukas 11:35) roep ek oor die stand van die akademie in Suid-Afrika uit: Hoe groot is die duisternis nie! Dit is om van te ween.

Gestel die betrokke US-dosent het wel daardie teksboodskap aan Duma gestuur. Gestel verder dat De Villiers primêr eerder op akademiese as politieke leiding ingestel was. Wat sou hy as rektor gedoen het? Hy sou die dosent onvoorwaardelik om verskoning gevra het omdat hy tot dusver sy plig om teen Duma op te tree skromelik versuim het. De Villiers sou onomwonde gesê het dat hy begrip het vir die frustrasie wat daar in die geledere van die ware akademici aan die US opgebou het. Hy sou nie toegelaat het dat Duma verdere ontwrigting saai deur daardie dosent se onderrigaktiwiteite op te skort nie. De Villiers sou begrip getoon het vir die feit dat dit hier gaan om ‘n hoogs intelligente dosent met gespesialiseerde kennis; iemand wat oor skaars vaardigheid in kernfisika beskik. Hy sou diep bewus gewees het van die kolossale kloof wat daar tussen die bewese akademiese prestasie van die dosent en die relatief prestasielose akademiese rekord van Duma bestaan.

As ‘n keuse tussen ‘n onrusstokende, aktivistiese laspos en die akademiese bate wat die dosent vir die US inhou, gemaak moet word, is dit voor die hand liggend dat enige rektor wat, soos dit hoort, akademies geöriënteerd is ten gunste van die dosent sou besluit. De Villiers sou dit eienaardig gevind het dat die beweerde teksboodskap sonder meer as “rassisties” geëtiketteer word en nie as “robuuste debat” nie, terwyl Duma se byeenkoms teen wit oorheersing en die daaropvolgende uitroepe van “Down with white power” glad nie met rassisme geassosieer word nie. Hy sou dit ook eienaardig gevind het dat Duma se pa vermoënd genoeg is om in Amerika te wees terwyl sy kind met ‘n US-beurs studeer. De Villiers is dus in ‘n uitstekende posisie om Duma stil-stil van die kampus te verwyder deur sy studiebeurs in te trek; sy finansiële kragprop uit te trek. Nog beter, Duma moes as student lankal die trekpas gekry het. Sy gedrag is primêr die van ‘n aktivis en nie die van ‘n student wat op die kampus is om te studeer nie. Sy manewales sou nie van ‘n blanke student geduld word nie. Oor hierdie en die vorige paragraaf kan De Villiers gerus nugter en werklik sê: “We can do it.”

Daar is ‘n lighartige, internasionaal bekende studentelied, Gaudeamus igitur (Laat ons bly wees). Vir die Latynse lirieke bestaan daar talle improvisasies; ook in Afrikaans. As akademikus en as Afrikaner is ek uiters teleurgesteld met Wim de Villiers. Hy blyk ‘n epigoon te wees. Ek voel lus om te sing:

Gaudeamus igitur,
nog ‘n universiteit is in sy moer.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.