Duisende Basters vier hulle geloftedag

Sedert 1977 vier die Rehoboth Basters fees by Sam !Khubis, sowat 80 km suid-wes van Rehoboth ter herdenking van hul volk se bestaan wat amper uitgewis is deur die Duitse koloniale magte.

Nagenoeg 5 000 mense het dié week na die Sam !Khubis-terrein naby Rehoboth opgeruk om die 100ste herdenking van die geskiedkundige Slag van Sam !Khubis te vier, wat volgens die eeufeeskomitee die grootste fees ooit was.

Die Rehoboth Basters het vroeër ‘n gelofte afgelê om die twee dae elke jaar te herdenk.

Die Duitse Schutztruppe het op 7 Mei en 8, 1915 in die koppies van Sam !Khubis vanweë goddelike ingryping skielik en inderhaas teruggetrek, sê die Basters.

Die Basters se ammunisie het tydens die geveg opgeraak. Die beleërde Basters het daarin geslaag om enkele wapens van hul aanvallers te steel, maar het gou besef dat die ergste hulle in die gesig staar en hulle het glo begin bid dat God hulle moet spaar.

‘n Aantal geskiedkundiges beweer dat die skielike Duitse besluit om terug te trek te wyte was aan die naderende Suid-Afrikaanse geallieerde troepe wat met die Eerste Wêreldoorlog teen Duitsland in Suidwes-Afrika opgetree het.

In 2002, toe die land se Swapoleier Sam Nujoma, dit bygewoon het, was daar skaars 2000 mense.

Die voorsitter van die eeufeeskomitee, mnr. Jacky Britz, was oorweldig deur die deelname van hoofsaaklik Basters wat van heinde en verre gery het vir die geleentheid.

“As voorsitter voel ek ons het ons hoofdoel bereik en dit met 300% oorskry. Die doel was om ons mense hier te kry om die gelofte wat hulle teenoor God gemaak het, vir die 100ste jaar te herdenk en om in vrede en eenheid saam te wees. Dit is die gevoel wat mens hier kry. Meer spesifiek is hierdie ‘n goddelike oomblik.”

Die dag se program het begin met die hysing van die rooi, swart en wit vlag van die Rehoboth Bastergemeente (RBG) en die Namibiese vlag, gebede en eerbetoon aan dié wat op 8 Mei 1915 by Sam !Khubis gesterf het. Aan al die slagoffers van die Eerste Wêreldoorlog is ook hulde gebring.

Daar was verduidelikings van die betekenis van die feesvlam wat op ‘n hoë paal teen een van die koppies aan die brand gesteek is, die betekenis van die RBG-vlag, die doel van die byeenkoms en die simboliek van die program wat ‘n sterk godsdienstige inslag gehad het.

‘n Gedenknaald is ook onthul. Bo-op die gedenknaald is twee biddende hande met drie pilare en die inskripsies “geloof”, “hoop” en “liefde”, asook “in tere herinnering aan hulle wat die hoogste prys betaal het tydens die stryd van Sam !Khubis” aangebring.

“Dit is ‘n wonderlike geleentheid. Dit lê sterk fondamente vir Rehoboth,” het ‘n feesganger gesê.

“Ek voel so vry; ek is vir niks bang nie. As kind het ons nie die geleentheid gehad om aan so ‘n groot viering deel te neem nie,” het mnr. Camazane Mouton aan die Republikein gesê.

“Dit is ‘n belewenis en ek hoop dat die volgende nageslag sal voortbou op goeie dinge,” het mnr. Tier van Wyk gesê.

Hoewel sy naam op die program verskyn het, het president Hage Geingob nie die geleentheid bygewoon nie.

Daar was ook kritiek uit sekere geledere dat die vieringe te godsdienstig is. “Dit is veronderstel om ‘n godsdienstige geleentheid te wees,” het mnr. Gino van Wyk, ‘n lid van die komitee, gese.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.