Jonathan Jansen wil Kovsies nou finaal verengels

Jonathan Jansen, die rektor van die Universiteit van die Vrystaat, het Maandag in sy weeklikse brief aan personeel sterk standpunt ten gunste van die afskaffing van Afrikaanse lesings en totale verengelsing ingeneem. “Wat vir my duidelik is, is dat die bestaande taalbeleid (Engels en Afrikaans) vir ons studente op kampus en, ek vermoed, vir baie van ons personeellede, ‘n probleem is,” skryf Jansen. ‘n “Gesprek” oor die afskaffing van Afrikaans en die oorskakeling na uitsluitlik Engels is blykbaar reeds by die universiteit aan die gang.

Volgens Jansen “voel die meeste studente baie sterk daaroor dat onderrig in Afrikaans en Engels heeltemal te veel nadele in die klasse, asook vir die dosente, meebring”. Daarom is die aangewese oplossing om na ‘n enkelmedium-onderrigtaal oor te skakel, “wat vir die meeste studente teenwoordig Engels is”.

Jansen hou ook nie daarvan dat die Afrikaanse klasse grotendeels deur blanke studente bygewoon word nie. Hy meen dit is “strydig met die UV se integrasiebeleid” en gedwonge rasvermenging wat elders, byvoorbeeld in koshuise, afgedwing word.

Die Kovsie-rektor voel ook dat Afrikaanse studente tydens eksamens “bevoordeel word” omdat dosente aan hulle meer kernagtige leermateriaal tydens lesings verskaf, teenoor die swart Engelse studente wat vermoedelik nie so goed presteer nie.

Die voorstel om die universiteit voortaan uitsluitlik Engels te maak, is reeds Dinsdag tydens ‘n senaatsvergadering te berde gebring en dit sal ook aan die raad oorgedra word. Blykbaar het Jansen die senior bestuur van die universiteit gevra “om met ’n proses te begin wat die insette van alle personeellede en studente, wat met die gevolge van ons bestaande taalbeleid moet saamleef” sal ondersoek.

Hoewel “insette” van studente en personeel gevra word, is die kanse skraal dat daar noemenswaardige teenstand teen Jansen se verengelsingsvoorstel sal wees. Tot dusver het die personeel en studente Jansen se outokratiese “transformasie” van die universiteit klakkeloos aanvaar, wat ook toenemende verengelsing insluit.

Jansen is oorspronklik op aandrang van regter Faan Hancke van Bloemfontein as rektor aangestel, wel wetende dat hy sowel anti-wit as anti-Afrikaanse beleide sou invoer.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.