Politieke herrangskikking en Afrikaners

Deel op

Image16:26:51 Vandag se politieke onstuimigheid is reeds etlike jare gelede deur ontleders voorspel.  Die wesenskenmerk van ‘n politieke party is daardie gemeenskaplike gom wat sy lede saambind.  Met veranderende persepsies word sterker gom benodig, en dikwels verval die party tot die beeld van sy leier wat die party se ideale versinnebeeld.  Die huidige Amerikaanse verkiesing is ‘n sprekende voorbeeld hiervan.

Deel op

Met sy bewindsaanvaarding het die ANC die voordeel gehad dat hy apartheid, kolonialisme, onderdrukking en bevryding as die saambindende gom kon gebruik.  Dan was daar ook nog die charismatiese Nelson Mandela wat die unifikasiegom van die land se swart volkere was.
Maar die ANC het doelbewus probeer om die beeld van ‘n Afrikanistiese sosiaal-demokratiese en vryemarkgedrewe politieke party te vestig.  In die proses is die ideologiese saambindende krag sodanig verswak dat daar op persoonlikhede terguggeval is.  Die werklike gom was die versugting om deel van die binnekring te kon word.  Die party kon mens superryk maak, en die swak misdaadbeleid het daardie drang verder gevoer na waar midaad lonend geword het. Sonder ‘n geloofwaardie gom moes die party uitmekaar val, en dit is besig om te gebeur.
Dit bring ons terug by die Verwoerdiaanse siening dat die land uit verskillende etniese volke bestaan.  ‘n Groot deel van die Suid-Afrikaanse bevolking beskou die land se bevolking as ‘n kohabitasie van gemeenskappe, gerangskik volgens etniese en rasselyne.  Kom ons noem daardie deel die kommunitêre groep.
Maar dan is daar ook ‘n ewe groot deel van die bevolking wat glo dat mense as individue optree en hulself bevry het van hul godsdienstige, etniese of groepsbande wat baie mense as beperkend beskou.  Hulle is die liberale groep.
Presies soos daardie proses van ontstamming reeds by Afrikaners plaasgevind het, het dit ook by die land se swart volke gebeur.  Die opkomende swart middelklas, maak reeds ‘n beduidende deel van die land se ekonomiese stelsel uit.  Hulle beoefen hul professies regoor die land, buite hul tradisionele gebiede.  Dit is redelik om te aanvaar dat dit juis hierdie groep mense is wat die eerste ontstamdes sou word.
Tydens die Nasionale Party se bewind het die gedagte van ‘n Afrikanervolk diep wortel geskied en baie jong manne het hul lewens daarvoor opgeoffer.  Mense wat die Boerevolkgedagte aangehang het was as agterlik, oudmodies en selfs as verraaiers van die ideaal van Afrikanerdom beskou en hanteer. Die Boerevolk, wat internasionaal as Afrika se inheemse volk beskou was, moes plek maak vir ‘n identiteit van Afrikanerselfverwesenliking sedert 1948.
Maar sedert 1994 het dinge verander.  Ondanks pogings van die sake- en akademiese establishment om ‘n taalgroep van alle rasse te vestig en, gevoed deur die land se kunstenaars, het Afrikaners weer na hul wortels begin teruggaan.  Duisende beskou hulself weer as Boere.  
Mandela het eenkeer aan ons gevra wie nou eintlik die Afrikaners is wat selfbeskikking wil hê, gedagtig aan die sensitiwiteit rondam die rassekwessie.  Sou hy gevra het wie die Boere was wat selfbeskikking wou hê, sou daar by niemand enige twyfel bestaan het nie.
In die politieke toneel beweeg ons tans in die wit vloedwaters van die Oranjerivier.  Al wat Lekota en Zille se partye ideologies skei, is die kleur van die leiers se velle en relatiewe drang na selfverryking van die ondersteuners.  Lekota se party sal waarskynlik aanhou om regstellende aksie, grondhervorming en sportkwotas op te dwing om hul chronies te bevorder en om stemme op die Mbeki manier te wen deur die rassekaart op gepaste tye te speel.  Hoe Zille hiermee gaan saamleef sal net ‘n liberalis weet.  Maar oorhoofs sal hulle wel saamwerk en hul verskille teenoor mekaar verklaar.
Teoreties bestaan daar geen moontlikheid van samewerking op nasionale vlak tussen die VF Plus en die DA nie, hoewel die Weskaap wel ‘n uitsondering mag wees.
‘n Groot aantal ontstamde Afrikaners sal die DA ondersteun en sommige mag selfs by die Lekota-party aansluit om hul gewetens te sus.  Baie neo-Boere, veral die meer uitdagende jonger garde, sal hulle by die VF Plus bevind.
En die VF Plus self?  Die politieke gevryery met die nuwe ANC-leierskap gaan nog interessante resultate oplewer.  Mens kon nie help om die uitbundige applous te sien nadat Pieter Mulder sy toespraak gelewer het na president Motlanthe se inhuldiging nie. Ek sal geensins verbaas wees as die etnies georiënteerde partye soos die ‘gesuiwerde’ ANC en die VF Plus wel tot praktiese samewerking oorgaan nie.  Zuma sê hoeka dat die ANC die land nie sonder die Boere kan regeer nie…
In ruil ontvang die VF Plus toegewings soos:  hersiening van regstellende-aksiebeleid, hersiening van die grondhervormingsbeleid, hersiening van dorpe en strate se naamsveranderingsbeleid, alles wat deur Mbeki se Afrikaniste as heilige koeie voorgehou was, maar wat die Zuma-kamp besef uiters verdelend vir die land se mense is.  Die VIGs-kwessie, asook misdaad en by name Selebi, sal ook ‘n rol speel.  Sodoende sal die VF Plus tasbare resultate kon toon en vir samewerking beloon word.  Tot dan sal manne soos Conrad Beyers en Jansen van Rensburg aangehits moet word om vir Afrikaners se regte te stry totdat toegewings verwesenlik word. 
Om dit uiteindelik op te kook en af te water:  Hoe sal Afrikaners nou weet vir watter kamp om te ondersteun?  
-Die stuwende volksgevoel onder diegene wat hulle weer as Boere beskou, sal veroorsaak dat Boere hulle heel gemaklik tot die gesuiwerde ANC-en-VF-Plus-groepering sal wend.
Die groep wat hulself as ontstamde Afrikaners (nie as lede van ‘n volk beskou nie), Afrikaanses of slegs liberaliste beskou, sal hulle weer welkom voel in die geledere van die DA/Lekota-groepering.
Hoe suksesvol sal die Lekota-party nou eintlik wees?  My raaiskoot is dat die ANC se steun sal afneem van 70% na 58% van die stemme op nasionale vlak.  Die ANC se tweederdemeerderheid sal ons nooit weer sien nie.  
Of die Afrikanergemeenskap sterker uit hierdie politieke moeras gaan tree, sal net die tyd ons leer.  Een ding is seker, die Boerevolk wys duidelike tekens dat hy besig is om homself te vind.

детские игры для деДанильченко

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.